Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Slaai met bone & kruie

Sep 19, 2022 | Sides & salads, Vegetable side

’n Kleurvolle kombinasie van slaaibestanddele met botterbone. Etes sonder vleis is beslis nie net vir mense bedoel wat kies om vegetariërs te wees nie. Dit hou vir ons almal gesondheidsvoordele in.

Vir dié slaai is bone die proteïen en as jou gesin nog nie gereed is om dit as vleislose maaltyd te geniet nie, maak dit as bygereg. Dan het jy dalk ’n bietjie minder vleis aan tafel nodig, so dis sommer meer bekostigbaar ook. Die geure van die tuisgemaakte slaaisous is heerlik met die bone. En loer gerus na die wenke onder die resep vir ’n lekker variasie op die slaaisousgeure.

Moenie in die versoeking kom om die slaai saam met brood te eet nie, want dis vullend genoeg soos dit is. Enige oorskiet-slaai is perfek vir ’n ligte ete die volgende dag.

Maak dit sommer vandag!

Resep

Slaai met bone & kruie

Lewer 4 – 6 porsies
Aangepas uit Maak vyf/Make Five

Bestanddele

Slaaisous

1 knoffelhuisie, gekneus

15 ml (1 e) elk gekapte vars kruisement, origanum en Italiaanse pietersielie

10 ml (2 t) heuning

30 ml (2 e) balsamiese of rooiwynasyn

60 ml (¼ k) olyf- of avokado-olie (enige gegeurde olie sal lekker wees)

sout en peper

 

Slaai

100 g dun groenboontjies, diagonaal gehalveer

1 x 410 g-blik botterbone, deeglik gedreineer

250 g kersietamaties, gehalveer

1 groot of 2 kleiner rooi soetrissie, ontpit en in dun skyfies gesny

1-2 sprietuie, in dun skyfies gesny

2 skywe fetakaas, in blokkies gesny

½ komkommer, met ’n aartappelskiller in linte gesny

’n handvol vars kruisementblare

2 handevol baba spinasieblare

Metode

  1. Slaaisous: Meng al die bestanddele saam en geur na smaak.
  2. Slaai: Plaas die groenboontjies in ’n bak en bedek met kookwater. Laat staan vir ’n paar minute. Dreineer en spoel af met koue water. Die boontjies moet nog bros en heldergroen wees.
  3. Pak al die slaaibestanddele op ’n bord uit of meng alles in ’n slaaibak saam. Sit dadelik met die slaaisous voor.

Wenke

  1. Gee dit ’n Meksikaanse geur: Vervang die asyn met suurlemoensap en roer 5 ml (1 t) fyn komyn by. Vervang die origanum met koljanderblare en roer 125 ml (½ k) mieliepitte by.
  2. Die botterbone kan met ’n blikkie lensies of kekerertjies, of ’n kombinasie daarvan vervang word.

Hierdie Slaai met bone & kruie was deel van ‘n kos-artikel in LiG Tydskrif, oor vegetariese resepte in Sept-Nov2022.
Foto Adel Ferreira Photography.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This