Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 1,940 other subscribers.

Kook met minder suiker & sout: Ep 4

Mar 24, 2023 | Eet.Kook.Leef.Beter.

Kook met minder suiker & sout
Weet jy regtig hoeveel suiker en sout in jul etes is? En nee, jy kan nie net die suiker in tee en koffie of oor jou pap tel nie. Dieselfde geld vir sout. Daar is dikwels baie meer hiervan in voorafbereide en verwerkte produkte en kosse as wat ons besef.

Dink só aan waar die suiker en sout in jou etes vandaan kom:
– dit wat jy byvoeg as jy kook,
– dit wat reeds in die bestanddele is wat jy gebruik
– dit wat aan tafel bygevoeg word.

Dalk maak dit die meeste sin om ’n ‘lekker smaak’ op dié manier te verduidelik. Wanneer iets vir ons lekker smaak, bestaan dit dikwels uit ’n kombinasie van die drie elemente: soet, sout en vet.

Die vervaardigers van verwerkte kos, geriefskos en kitskos weet dit maar al te goed en gebruik dit juis om kos ‘lekker’ te laat smaak. Die probleem is dat ons nie altyd weet wat dit is wat gebruik word om kos smaak te gee nie.

Let veral ook op na produkte wat vir jou vertel dat dit laag in vet of suiker is, want dan is daar heel moontlik baie meer sout in – juis om dit smaak te gee. Dieselfde is waar vir enige van die ander smaak-elemente.

Leer kos-etikette lees
So wanneer jy wel verwerkte bestanddele koop, verval hoogs-geprosesseerde kos is dit belangrik om die gewoonte aan te leer om die etiket te lees – weet wat in jou kos is.

Het jy al gekyk hoeveel suiker, sout en ongesonde vette daar in sommige gekoopte slaaisouse, marinades, pakkies sopppoeier, aftreksels, sommige gegeurde sout- of braaimengsels is? En so kan die lys aangaan – om nie eers van bokspap, gekoopte gebak, kits- en geriefskos te praat nie.

Verstaan die kos-etikette
Begin deur op te let na die bestanddele wat gelys word – dit behoort in die volgorde te wees, wat die hoeveelheid daarvan aandui, so as suiker, sout of iets wat jy nie eers kan uitspreek nie, tweede of derde gelys is, moet jy mooi dink hoeveel jy daarvan gaan eet.

Onthou: regte kos het nie bestanddele nie, dit is bestanddele (Jamie Oliver).

 

Kook met minder suiker & sout Ep 4
Kook met minder suiker & sout Ep 4
Kook met minder suiker & sout Ep 4

 

Hoekom is minder suiker en sout en meer gesonde vette nodig?
As jy al na my ander episodes van Eet.Kook.Leef.Beter gekyk het, weet jy nou al dat dit beslis gesonder is om minder suiker, sout en verfynde kos te eet. Te veel daarvan is dikwels die oorsaak van heelwat van die leefstyl siektes waarmee baie mense sukkel.

Dink bv aan tipe 2 diabetes, hartkwale, hoë bloeddruk en selfs ander goed soos gereelde sooibrand, inflammasie of sommer net ’n algemene ongemak in jou lyf.

Jy voel net soveel beter
Sal jy nie ook liewer meer energiek wil voel en nie sukkel met daai irreterende goed soos ’n gereelde hoofpyn, ekseem of sooibrand, waarvoor mens soms ‘nou maar weer ’n pil drink’ nie?

En selfs al het jy nie simptome van iets nie, het ’n gesonde eetpatroon baie voordele vir jou breinfunksie, metabolisme, hare, naels, immuniteit, bloedsuikervlakke , bloeddruk en jou gut health – alles goed wat jou algemene gesondheid grootliks kan affekteer.

Die ander kant van die skaal
Deur met vars en natuurlike bestanddele en geurmiddels te werk, weet jy presies wat in jou kos is. Op dié manier vermy jy nie net skadelike bestanddele nie, maar sluit outomaties ook ’n hele klomp gesonder elemente in.

LOER gerus na die resepte op my webwerf, want hier gebruik ek ander maniere soos natuurlike geurmiddels en die regte gaarmaakmetodes om etes lekker en gesond te hou. Dis nie moeilik nie en daar is ’n wye verskeidenheid van resepte om dit vir jou prakties te maak en waarmee ek jou te inspireer.

Natuurlik soet
Soet smake in kos hoef nie van suiker afhanklik te wees nie. Vars kruie, speserye en die regte gaarmaakmetode vir ’n bestanddeel maak al die wêreld se verskil en bring die natuurlike smake  na vore. Dink bv aan geroosterde botterskorsie en patat wat van nature soet is en as dit gerooster word, kom die smaak nog meer na vore. En ’n soet spesery soos kaneel of neutmuskaat, maak dit nog lekkerder. Kyk bv na die slaai of koeskoesgereg. Of selfs geroosterde groente.

Leer jou kinders van kleins af bv om soet met klein tamaties te assosieer, nie met lekkergoed nie.
Het jy geweet dat suiker verslawend is? Hoe soeter die kos is wat jy eet, hoe soeter wil jy dit volgende keer hê. Dis ’n bose kringloop wat jy liewer moet breek.

 

Kook met minder suiker & sout Ep 4
Kook met minder suiker & sout Ep 4

 

Rasper dit by
Vars bestanddele soos wortels, patats of appels is perfek om kos op ’n natuurlike manier mee te ‘versoet’. Rasper dit om in ’n maalvleismengsel, bredie, sop, frikadelle of viskoekies te gebruik.

Oorryp appels en pere kook ek met ’n stukkie kaneel en verpulp die vrugte (nie die kaneel nie😉). Dan vries ek die puree in blokkies en gebruik dit in kos soos ’n bredie, maalvleismengsel of sop. Dis sommer goedkoper as suiker ook.

Kook met Rooibos
Om minder sout te gebruik, gebruik ek, naas kruie en speserye, veral twee bestanddele:

Rooibostee en suurlemoen.
Dit het vir my baie voordele: kos smaak net so lekker of lekkerder, ek vermy ongesonde bestanddele EN sluit meer voedingswaarde in my gesin se etes in. Rooibostee is propvol antioksidante en teen die tyd ken jy nou al my uitdrukking: suurlemoen is die nuwe sout.

As jy dit nog nie gehoor het nie, kyk beslis na die tweede episode van Eet.Kook.Leef.Beter en lees die blog vir meer detail.

Maak gerus ook jou eie Rooibos-ystee as alternatief vir gaskoeldranke, koeldrankstrope of selfs skoon vrugtesap, wat alles baie hoog in suiker is.

Meer gesonde vet
Vir baie jare is ons vertel dat vette soos die in avokado’s, neute, sade, olierige vis en olywe nie goed is vir ons nie. Vandag weet ons gelukkig dat die gehalte van die vet belangriker is en juis daarom moet ons hierdie tipes vet in matige en klein hoeveelhede in ons etes insluit. Jy het nie baie daarvan nodig om die voordeel daaruit te put nie.

Gesonde vette is ook baie belangrik vir ’n verskeidenheid funksies in jou lyf en algemene gesondheid, ’n gesonde metabolisme, sterk immuniteit, goeie breinfunksie en gesonde hare en naels. Die regte keuses is dus belangrik.

Sit avokado in jou slaai, strooi neute en sade oor jou ontbyt, ’n slaai of bygereg of peusel daaraan as jy tussen etes honger word. Dit maak jou vinnig vol en is ook propvol ander gesonde voedingselemente. ’n Goeie gehalte olie is selfs perfek as slaaisous. Ek maak gereeld groen groente net liggies gaar en bedien dit met ’n skeut olyfolie in plaas van ’n ryk sous en sprinkel geroosterde sesam- of sonneblomsaad oor.

En om self iets te bak, beteken beslis ook dat jy meer beheer oor die suiker, sout en vette in die bederf het. Hier is die resep vir die Plaasskons wat ek tydens die episode gemaak het. Die steengemaalde volkoringmeel gee dit ’n lekker neuterige smaak en met ’n gesonde bolaag soos maaskaas en kruie of pangebraaide sampioene met ’n skeut suurlemoensap en vars tiemie, het jy beslis ’n heerlike bederf op jou bord. Of geur die maaskaas met gemaalde kaneel en fyngerasperde suurlemoenskil en garneer met dun skyfies appel.

Lekker kook, bak & gesond eet!

 

Kook met minder suiker & sout Ep 4 (2)
error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This