Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Oondgeroosterde wortels, patats & eiervrug met komyn

Aug 8, 2019 | Light meals, Light vegetarian

Vir die beste resultate
Wonder jy soms wat die beste gaarmaakmetode vir ‘n spesifieke bestanddeel is? Die regte keuse kan nogal ’n groot verskil aan die eindresultaat maak. Dit gee ook ekstra geur én behou meer van die tekstuur, kleur, geur en voedingswaarde.

Daar is baie gaarmaakmetodes en heelwat bestanddele kan ewe lekker met verskillende metodes voorberei word. Vir aartappelslaai word aartappels gekook, maar oondgeroosterde aartappels is altyd ’n treffer – twee metodes wat elkeen sy eie lekkerte oplewer. Groenboontjies is só lekker net liggies gekook en steeds bros, maar dis nie ideaal om in die oond te rooster nie.

Wat is gesonder keuses en hoekom?
Die hoofdoel van ’n gaarmaakmetode is vanselfsprekend om rou kos gaar te maak. As dit boonop ’n gesonde manier is om te kook, soveel te beter. Mense is geneig om te dink kook, blansjeer en stoom is die enigste gesonde metodes. Gelukkig is dit nie die enigste opsies nie.
Pan- of roerbraai, oondrooster, potrooster en bak of om oor die kole te braai, kan alles gesonde eindresultate oplewer. Pas die metodes só toe, dat dit die natuurlike smaak en geur van ’n bestanddeel beklemtoon en jy is reeds op die regte pad. Vergelyk bv. die geur van ’n rou sampioen met die van ’n geroosterde een.

As dit boonop sonder te veel olie, sout, suiker of onnatuurlike geurmiddels, versoete of verwerkte produkte ’n lekker ete kan oplewer, wen jy klaar. Hierdie bestanddele word al te dikwels ingespan om kos wat oorgaar, smakeloos of pap is, te ‘red’. Moenie in dié strik trap nie, maak liewer die regte keuse van die begin af. Onthou om alles wat saam moet gaar word, in min of meer eweredige stukke te sny, dan word dit gelyktydig gaar en is party nie oorgaar nie. Dit is veral waar vir die oondgeroosterde groente in hierdie resep. Pak dit in ’n enkellaag in die bakplaat of oondbak, sodat dit deurgaans rooster en nie bo-op mekaar lê en stoom nie. Hierdie resep was deel van ‘n artikel wat ek vir LiG Tydskrif se Augustus-uitgawe gedeel het en is sommer lekker veelsydig, want die groente kan op baie maniere gebruik word.

’n Praktiese wenk om gesonder te kook
Olie keer wel dat bestanddele in ’n pan vassit of aanbrand, maar te veel olie is nie ideaal nie, so kook liewer oor matige en lae temperature. As iets soos uie of ’n bredie in ’n kastrol begin aanbrand, roer eers ’n bietjie water, Rooibostee, suurlemoensap of wyn, in plaas van nog olie by. Goeie kookware, wat nie maklik aanbrand nie, is ’n aanwins.

Resepte
Oondgeroosterde wortels, patats & eiervrug met komyn
Lewer 4 – 6 porsies
Bestanddele

3-4 middelslag-wortels, geskil

4 middelslag-preie, deeglik gewas

4 klein patats, met die skil

1 middelslag-eiervrug, met die skil

2 knoffelhuisies, in repies gesny

60 ml (¼ k) avokado- of olyfolie (ek gebruik Westfalia se gewone avokado-olie)

15 ml (1 e) komynsaad

30 ml (2 e) heuning

sout en swartpeper na smaak


Hummus-sous/Hoemoes-sous

60 ml (¼ k) ongegeurde jogurt

125 ml (½ k) gekoopte of tuisgemaakte hummus

2,5 ml (½ t) gemaalde komyn

5 ml (1 t) fyngerasperde suurlemoenskil

15 ml (1 e) elk grofgekapte koljander- en kruisementblare

15 ml (1 e) ekstra geroosterde komynsaad om mee voor te sit (sien wenk)

ekstra kruieblare vir garnering

Metode

1. Voorverhit oond tot 200 °C. Sny groentes in die lengte in ewe groot wiggies.

2. Plaas groente met die ander bestanddele in ’n groot mengbak en meng tot dit deeglik met die oliemengsel bedek is. Geur na smaak.

3. Voer ’n groot bakplaat met bakpapier uit of gebruik ’n groot, vlak oondbak. Skep die groente in ’n enkellaag daarin uit. Rooster 30-40 minute tot groente gaar en goudbruin is. Die gaarmaaktyd sal van die groentewiggies se grootte afhang.

4. Sous: Meng intussen jogurt, hummus, komyn, suurlemoenskil en kruie saam. Geur na smaak. Sit groente met die sous, geroosterde komynsaad en kruie voor.

5. Die groente is ewe lekker warm of teen kamertemperatuur en kan as ’n ligte vegetariese maaltyd geniet word. Of sit dit met enige vleis, hoender of vis van jou keuse voor.

Wenk

1. Rooster komynsaad in ’n droë pan (bv. AMC 16 cm Gourmet Low / AMC 24 cm Chef’s Pan) vir ’n paar mintue tot aromaties. Of rooster op ’n aparte bakplaatjie saam met die groente vir ’n paar minute. 

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This