Dik boontjiesop
Resep
Resep aangepas uit The AMC Book vir LiG-tydskrif
Lewer 6 – 8 porsies
Boontjiesop is pure Suid-Afrikaanse kos. ’n Stomende bakkie sop vir die winter is genoeg om hart en siel (en jou maag) te vul. Dit verg so bietjie beplanning om die boontjies eers te week, maar die geurigheid van die sop is absoluut die moeite werd. Dis ’n eenvoudige kombinasie van bekende bestanddele, ‘n maaltyd op sy eie en regtig vullend.
310 ml (250 g) droë suikerbone
10 ml (2 t) olyf- of avokado-olie
750 g – 1 kg beesskenkel aan die been, in blokkies gesny
1 groot ui, fyngekap
1 knoffelhuisie, gekneus
4 selderystingels met die blare, fyngekap
4 wortels, grof gerasper
1,5 liter (6 k) groente- of hoenderaftreksel of sterk Rooibostee
25 ml (5 t) gedroogde gemengde kruie
2 lourierblare
1 x 410 g-blik gekapte tamaties, of 2 groot ryp tamaties, afgeskil
15 ml (1 e) tamatiepasta
suurlemoensap, sout en peper na smaak
30 ml (2 e) gekapte vars Italiaanse pietersielie
1. Week die boontjies oornag in ’n groot bak met ten minste 1 liter water. Dreineer deeglik en hou eenkant.
2. Verhit die olie oor matige hitte in ’n groot kastrol en verbruin die vleis en bene in sarsies. Skep uit en hou eenkant.
3. Soteer die ui en knoffel tot sag. Roer die seldery en wortels by en soteer vir nog ’n paar minute.
4. Roer die vleis, bene en geweekte bone by die groente en roer die vloeistof, kruie en lourierblare deur. Bring oor matige hitte tot kookpunt, verlaag die temperatuur en prut stadig met ’n deksel vir 2-2½ ure of tot die vleis en bone gaar is.
5. Roer die tamaties en tamatie pasta by en geur sop. Verhit deur en roer die pietersielie by.
1. Tamaties en sout verhoed dat die bone sag word, so roer dit eers by as die bone gaar is.
2. Sit ’n heel brandrissie in die sop vir ’n bietjie byt.
Foto: Adel Ferreira