Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Plaasskons (Volkoring-botterbroodjies)

Apr 11, 2022 | Baking, Desserts, sweet treats & baking

Dit maak nie saak of jy dit botterbroodjies of skons noem nie, ’n varsgebakte skon is ’n heerlike bederf. So lekker soos wat dit is, is daar nou maar een ding waarvan ek niks hou nie, en dis ’n skon wat ’n bakpoeiersmaak in jou mond agterlaat. Dié volkoringweergawe is heerlik en behalwe vir die ekstra vesel van die volkoringmeel, gee dit die skons ’n neuterige smaak. Ek verkies ’n steengemaalde meel, wat selfs nog geuriger is. Die jogurt in die resep gee die skons ’n veerligte tekstuur en beteken ook dat jy nie onnodig baie bakpoeier daarvoor nodig het nie. Bederf almal aan jou tafel met die lekker gebakte lekkertes.

Onthou om sagkuns met ’n skondeeg te werk en dit nie te veel te hanteer nie, anders gaan die veerligte tekstuur verlore. Hoe minder dit gedruk en geroer word, hoe beter. Daarom word die meel en vloeistof net met ’n mes ingemeng en nie met ’n lepel geroer nie. Maar die skons hoef ook nie perfek gevorm te wees nie, so gebruik sommer die rand van ’n kleinerige glas, wat jy liggies in meel doop, om die skons uit te sny.

 

Plaasskons (Volkoring-botterbroodjies)
Plaasskons (Volkoring-botterbroodjies)

Resep

Plaasskons (Volkoring-botterbroodjies)

Lewer 12 skons

Bestanddele

250 ml (1 k) volkoringmeel

250 ml (1 k) koekmeel

15 ml (1 e) bakpoeier

80 ml (80 g) koue botter, in blokkies gesny

1 eier, geklits

200 ml gewone jogurt

ekstra melk om mee te verf

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit en strooi liggies met ’n bietjie ekstra koekmeel.
  2. Meng die twee mele en bakpoeier saam in ’n mengbak. Vryf botter met jou vingerpunte in tot dit soos growwe broodkrummels lyk. Of gebruik ’n outydse deegsnyer as jy een het.
  3. Klits die eier en jogurt saam en sny-roer dit versigtig met die agterkant van ’n mes by die droë bestanddele in. Meng net tot die vloeistof ingemeng is en moenie die deeg te veel hanteer nie.
  4. Druk die deeg saggies op ’n meelbestrooide oppervlak, tot ’n dikte van 2-3 cm uit.
  5. Sny skons met ’n koekiedrukker of ’n glas uit. Doop die snyer of glas se rand elke keer in ’n bietjie ekstra koekmeel om seker te maak dat die deeg nie daaraan vas sit nie.
  6. Pak die skons op die bakplaat. Verf die bokant van elke skon met ’n bietjie melk.
  7. Bak vir 15-20 minute of tot goudbruin en gaar. Sit warm met botter, kaas en konfyt van jou keuse voor.

Wenk

  1. Voeg 2,5 ml paprika of rooipeper by die meelmengsel vir ’n sout skon. Sprinkel met nog paprika of rooipeper voor dit gebak word.
Plaasskons (Volkoring-botterbroodjies)

Hierdie resep is vir Afrikaans.com in 2022 ontwikkel.
Fotos: Adel Ferreira Photography.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This