Maklikste viskoekies/ Easy fishcakes

Soos Julia Child tereg sê: ‘You don’t have to cook fancy or complicated masterpieces, just good food from fresh ingredients.’
Iets so basies soos ’n blikkie vis is genoeg om ‘n heerlike gesinsete op te tower. In die week is ons almal se programme vol en die dae soms lank, so as jy dan vinnig na werk iets vir aandete kan maak wat bekostigbaar, vinnig, gesond en boonop baie lekker is, gaan jy beslis die resep weer maak. My kinders is absoluut gek oor hierdie viskoekies en dis ewe lekker teen kamertemperatuur, so ek maak altyd ‘n dubbele mengsel om nog vir die volgende dag vir kosblikke of middagete gereed te hou.
Baie mense ken viskoekies as ‘n mengsel van gaar vis en aartappel wat eers gevorm, dan gekrummel en dikwels in diep-olie gebraai word. Dis nogal ‘n tydrowende proses, so hierdie manier om ‘n viskoekie te maak, is aansienlik makliker. Daar is ook baie maniere waarop die geurmiddels bietjie aangepas kan word, bv met ander kruie soos tiemie of deur die wortel met murgpampoentjie te vervang.
Sardyne is ‘n baie gesonde bron van proteïen en boonop is die graatjies baie ryk aan kalsium. Druk die grate sommer saam met die vis fyn en moet dit nie probeer uithaal nie. Die vloeistof in die blikkies is ook ideaal om as deel van die mengsel te gebruik. Sardyne en sardientjies is ook bekend as een van die olierige tipes vis – dus ryk aan gesonde omega 3 vette. Nog meer rede om dit gereeld in ons etes in te sluit. Jy weet mos jou ma het altyd gesê: vis maak jou slim. Nou weet jy hoekom.
Resep (Afrikaans)
Maklikste viskoekies
Viskoekies tel nie onder almal se gunsteling nie, maar as jy eers die weergawe geproe het, gaan jy dit beslis weer maak. Hierdie resep is maklik en verg min moeite. Ek is dol oor die vars kruie en suurlemoen in die resep. Maak sommer van die begin ’n dubbele mengsel.
Resep uit Maak vyf
Lewer 25 koekies
Bestanddele
1 x 410 g-blik sardyne in tamatiesous
45 ml (3 e) water
1 klein ui, gerasper
2 wortels, grofgerasper
60 ml (¼ k) steengemaalde koekmeel
2 eiers, geklits
125 ml (½ k) hawermout
60 ml (¼ k) blatjang of tamatiesous
60 ml (¼ k) gekapte vars kruie, soos Italiaanse pietersielie en koljander
5 ml (1 t) fyn koljander
fyngerasperde skil en sap van ½ suurlemoen
sout en peper
30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie vir braai
Metode
1. Plaas die vis met die sous in die blik ’n groot mengbak en druk dit fyner met ’n vurk.
2. Spoel die blikkie met die water uit. Roer met die res van die bestanddele, buiten die olie, en meng goed deur. Die beslag is redelik loperig. Geur na smaak.
3. Verhit ’n dun lagie olie oor matige hitte in ’n braaipan. Skep lepelsvol van die mengsel in die pan en braai vir 3-5 minute aan ’n kant. Draai om en braai nog ’n paar minute of tot goudbruin en gaar.
4. Herhaal met die res van die mengsel en nog olie, soos benodig. Hou die viskoekies warm.
5. Sit vir aandete met slaai en groente, soos mielies of klein aartappeltjies in die skil voor. Avokadoskyfies is ’n lekker alternatief.
Recipe (English)
Easy fishcakes
We like making fish cakes like this and my children absolutely love them. Many people make the shaped and crumbed fish cakes, but these are much easier and quicker to make. The grated carrots add a lovely, sweet flavour, which the kids enjoy. You can add any fresh or even dried herbs to the mixture.
Recipe from Make five
Makes 25
Ingredients
1 x 410 g tin pilchards in tomato sauce
45 ml (3 tbsp) water
1 small onion, grated
2 carrots, coarsely grated
60 ml (¼ cup) cake flour
2 eggs, beaten
125 ml (½ cup) oats
60 ml (¼ cup) chutney or tomato sauce
60 ml (¼ cup) chopped fresh herbs, such as Italian parsley and coriander
5 ml (1 tsp) ground coriander
15 ml (1 tbsp) lemon juice
salt and pepper
30 ml (2 tbsp) olive or avocado oil for frying
Method
- Place the fish, with the sauce, in a large mixing bowl and break up into smaller pieces with a fork.
- Rinse out the tin with the water and add to the fish with the remaining ingredients, except the oil. Mix well – it is quite a runny batter. Season to taste.
- Heat a thin layer of oil in a large frying pan over medium heat. Fry spoonfuls of the batter for 3-5 minutes on one side. Turn over and fry for a few more minutes or until golden brown and cooked.
- Drain on paper towel and repeat with the rest of the mixture and oil, if necessary. Keep fishcakes warm, while you make the rest.
- Serve with a salad or veggies of your choice. Avocado slices are also delicious with the fishcakes If there are any leftovers, they are perfect for a lunch box the next day.
Tip
- Substitute the same quantity of fish for any other tinned fish, such as tuna, sardines or middle cut mackerel. Use the liquid from the tin to make the batter runny enough, or add more chutney.
Dit lyk baie lekker.
Kan ek gerasperde aartappels insit ipv wortels.
Jy sal dit kan doen, maar dit sal wel die viskoekies ‘n stywer tekstuur gee en die een bekommernis wat ek het, is dat die aartappels moet kan gaar word in die tyd wat jy die viskoekies braai. Die wortels gee ook die mengsel ‘n effens soeterige smaak. Jy sou dit wel met gaar aartappels kon maak, wat jy fyndruk of selfs grof rasper. Die gaar aartappels sal wel ook die tekstuur van die gebraaide viskoekie stywer maak, maar dit sal nie verkeerd wees nie, net anders. Ek hoop dit beantwoord jou vraag.
Lekker resep!!
Ek het die sardyn viskoekies probeer maar braai in die pan het nie goed vir my gewerk nie. Dit het gebrand voor dit genoeg gestol het om dit om te draai. Gelukkig gou besef en nie veel gemors nie.
Die mengsel beland toe in ‘n glas tertbak in die mikrogolf en selfs in die oond om klamheid te verwyder, en siedaar! ‘n heerlike smaaklike vistert.
My mense het dit baie geniet en sê ek moet dit weer maak. Baie dankie Heleen.
Hallo Magda, dankie vir jou boodskap. Jou pan was waarskynlik bietjie te warm, want iets soos die wortels en blatjang of tamatiesous kan maklik brand. Maar jou plan was baie slim. Ek bak soms ook die mengsel in ‘n oondbak as ek nie tyd het om die individuele koekies te braai nie, so dit is dan sommer ‘n lekker souttert! Dit kan ook maklik in blokkies gesny word vir ‘n kosblik die volgende dag. Ek is bly almal het dit geniet.
Gaan dit beslis more maak. Dankie vir die resep.
In plaas van die eier, wat sal jou vervangende voorstel wees?
Dankie.
Hallo Sandra, die eier speel ‘n belangrike rol om die mengsel te bind en dit lig te hou. Die een opsie sal wees om die mengsel in die oond te bak en nie in ‘n pan te braai nie, dan sal ‘n sagter tekstuur nie ‘n probleem wees nie. Maar as jy dit graag as viskoekies wil braai, stel ek voor dat jy die meel verdubbel en 2,5 ml bakpoeier insit, sodat die mengsel steeds lig bly. Jy sou ook selfs ‘n bietjie meer hawermout kon gebruik, sodat die mengsel nie te loperig is nie. As dit steeds te loperig voel, kan jy ‘n eetlepel mielieblom (Maizena) inmeng, maar maak seker dat dit nie klonte vorm nie. Ek hoop dit help met jou vraag.