Groenboontjiebredie
Beste vir ‘n bredie
Hou jou gesin ook van groenboontjiebredie? In ‘n onlangse artikel vir LiG tydskrif, het ek oor gaarmaakmetodes gesels. Een van die resepte wat ek daarvoor gebruik het, is hierdie baie gewilde groenboontjiebredie. Elke stap in die bredieresep speel ‘n belangrike rol om dit ekstra geurig te maak. Dié groenboontjiebredie is so ‘n eenvoudige resep, maar met die regte geurkombinasies en metode, beslis ‘n wonderlike ete. As jy gelukkig is, is waterblommetjies dalk nog in seisoen, so gebruik dit in plaas van die boontjies om ‘n Waterblommetjiebredie te maak – ‘n bekende SA gunsteling.
Vir ‘n bredie, is ‘n kombinasie van gaarmaakmetodes die beste manier om goeie resultate te kry. Soos met ‘n sop of ander eenpot-gereg, word van die bestanddele dikwels eers verbruin en dan met die res van die bestanddele in vloeistof geprut. Die feit dat bestanddele soos uie en knoffel, gemmer, wortels of seldery eers gesoteer word, gee beslis ‘n ander geur as wanneer alles net saam gekook word. Deur die vleis heel eerste in die kastrol te verbruin, kry alles ook ‘n meer gekonsentreerde geur.
Om ‘n bredie te kook, is ‘n stadiger gaarmaakmetode wat veral met stowe-vleissnitte berei word. Dié snitte het tipies ‘n lang, stadige gaarmaaktyd in vloeistof nodig. Dit gee nie net die vleis kans om sag te word nie, maar laat al die geure in die pot wonderlik vermeng en ontwikkel – juis die rede waarom ‘n bredie die volgende dag selfs nog lekker is. Maak ‘n bredie in ‘n kastrol met ‘n swaar boom, sodat die hitte egalig versprei en konstant bly, selfs oor ‘n lae hitte. ‘n Bredie moet nooit te vinnig kook nie, anders kan die vleis taai word of uitmekaarval. ‘n Styfpassende deksel is ook belangrik, om te verhoed dat die vog verdamp en die bredie te droog word.
Lees meer oor nog gaarmaakmetodes en die beste keuse vir spesifieke bestanddele hier.
Resepte
Groenboontjiebredie
Lewer 6 porsies
Bestanddele
30-45 ml (2-3 e) avokado- of olyfolie (ek gebruik graag Westfalia avokado-olie)
1 kg skaapstowevleis aan die been, bv. skouer, nek of skenkels, in skywe gesny
2 uie, in wiggies gesny of 8-10 piekeluitjies, in kwarte gesny
250 ml (1 k) droë witywn of hoenderaftreksel
30 ml (2 e) vars tiemie of 15 ml (1 e) gedroogte tiemie
3 wonderpeperkorrels
3 heel naeltjies
2 heel lourierblare
15 ml (1 e) druiwe- of witwynasyn
3 knoffelhuisies, gekneus
1 brandrissie, fyngekap of ‘n knippie cayennepeper na smaak
300 g groenboontjies, in derdes gesny of waterblommetjies, skoongemaak
2-3 middelslag-aartappels, geskil en in blokkies gesny
sap van 2 suurlemoene
2 heel kaneelstokkies
sout en swartpeper na smaak
Metode
1. Verhit olie oor ‘n matige temperatuur in ‘n groot kastrol (AMC 24 cm Gourmet High is ideaal) en verbruin vleis in sarsies tot goudbruin. Skep met ‘n gaatjieslepel uit en hou eenkant.
2. Plaas uie in dieselfde pan en soteer tot amper sag. Roer wyn of aftreksel, kruie, speserye, asyn, knoffel en brandrissie of cayenne by. Bring oor matige temperatuur tot kookpunt. Skep vleis terug in kastrol, verlaag hitte en prut baie stadig, met die deksel vir ongeveer 1 uur of tot die vleis feitlik sag is.
3. Voeg groenboontjies of waterblommetjies, aartappels, suurlemoensap en kaneelstokkies by en prut stadig vir nog 30 minute of tot groente sag, maar nie pap is nie.
4. Geur na smaak met sout en peper en nog suurlemoensap indien nodig. Sit op rys voor.
5. Westfalia se reeks avokado-olies is in groot supermarkte beskikbaar.