Geurmiddels: Ep 2
Suurlemoen is die nuwe sout
Het jy al my uitdrukking ‘suurlemoen is die nuwe sout’ gehoor?
In die vorige episode van my reeks videos Eet.Kook.Leef.Beter, het ek oor die beginsels van ’n gesonde leefstyl gesels. Die tweede episode fokus op gesonde maniere om kos te geur, sodat jy lekker en gesond kan eet.
Tuisgemaak is die beste
Weet jy regtig hoeveel suiker en sout in jul etes is? En ek praat nie net van die suiker in jou tee en koffie of wat jy oor jou pap eet nie. Daar is baie meer van dié bestanddele in veral verwerkte en voorafbereide kos, daarom moedig ek almal aan om liewer, soos die Engelse sê, ‘van scratch’ te kook.
Hou dit vars en natuurlik
’n Baie belangrike beginsel van ’n gesonde leefstyl, is om suiker, sout en onnatuurlike geurmiddels en preserveermiddels in jou kos te beperk. Dit het regtig ’n nadelige effek op ons gesondheid. Dit affekteer die algemene gesondheid van jou ingewande (gut), vehoog inflammasie in jou lyf en kan allerhande probleme soos ekseem, gewigstoename, verhoogde bloeddruk en natuurlik iets soos diabetes tot gevolg hê. Soms is mens nie eers bewus van die impak van te veel suiker, sout en preserveermiddels nie, maar dit bly belangrik om dit te beperk, want die skade word wel aangerig.
Hoe kry mens dit reg om die elemente te beperk? Deur met natuurlike en vars geurmiddels te werk. Op die manier is jou etes nie net geuriger nie, maar ook gesonder. Behalwe vir die onnatuurlike geurmiddels wat jy vermy, is gesonder opsies soos gemmer, brandrissie, kruie, speserye en suurlemoen bekend vir hul wye verskeidenheid gesondheids-eienskappe. Een voorbeeld daarvan is dat dit jou immuniteit ’n groot hupstoot gee.
Sinergie van geure
Ek begin altyd om te dink aan die SINERGIE van geure – wanneer die regte kombinasies van bestanddele iets nog lekkerder laat smaak. Die twee voorbeelde wat ek in die video gebruik, is die lekker smaak van botterskorsie met kaneel of die ‘nuwe’ geur as jy vars tamatie en basiliekruid saam gebruik. Het jy al gesien hoe opgewonde raak die hoofkaraktertjie in die fliek Ratatouille 😉 oor sulke smullekker kombinasies? Gaan kyk gerus na die oulike kosfliek, as jy dit nog nie gesien het nie.
Geur, geurig, geuriger, geurigste
Ek het altyd VARS KRUIE in my tuin en kombuis. Of dit vars of gedroog is, bly dit ’n baie veelsydige bestanddeel. Nog iets waarvan ek ’n rak vol het, is SPESERYE. Ek is dol oor komyn, paprika, koljander, kardemom, kerriepoeier, kaneel en vele meer. Daar is soveel om van te kies en maniere om kreatief te wees daarmee. Klik gerus op die skakel om meer oor ’n verskeidenheid kruie en speserye te leer. Ander vars elemente waaroor ek dol is, is LOURIERBLARE, GEMMER, KNOFFEL, en BRANDRISSIE. Die geurmiddels is op hul eie of as ’n kombinasie, ewe lekker in kos.
Suurlemoen
Oor SUURLEMOEN kan ek boekdele skryf, want ek kook elke dag daarmee. Soos ek in die video sê: ek noem dit sommer ‘my beste vriendin in die kombuis’. Elke deel van suurlemoen is SO geurig. Het jy al die skil daarvan op verskillende maniere gebruik? Rasper dit fyn en sit dit in ’n marinade (sien die resep hier onder) of sny breë repe af met ’n groenteskiller. As jy ’n paar repe saam met die water in ’n pot rys gebruik, kan jy helfte van die sout insit en dan het jy ’n subtiele suurlemoengeur in die rys, wat heerlik is. Dis maar net een toepassing van suurlemoen as die nuwe sout.
Nog twee voorbeelde is sampioene of eiers, wat beslis nie net met sout gegeur hoef te word nie. Probeer volgende keer gekapte vars kruie, ’n knippie komyn of selfs paprika. En ‘n skeut suurlemoen oor gebraaide sampioene is heerlik!
Meeste van die resepte op my webwerf én dit wat ek op sosiale media deel, word juis met natuurlike en vars geurmiddels gemaak. Klik en blaai gerus rond op die resepte-afdeling van my webwerf en kyk hoe ek die geurmiddels gebruik.
Ek maak gereeld ’n eenvoudige marinade vir hoender of vleis net met vars kruie, suurlemoen en olyfolie. Hier is ’n skakel na ’n volledige resep met ’n plathoender waar ek dit gebruik. Die resep vir die Hoendergereg wat ek in die video gemaak het, is hier onder. Dis so ’n lekker vinnige aandete.
Hoe jy dit gaarmaak, gee geur
Selfs ’n gaarmaakmetode kan ekstra geur aan kos gee. Kyk gerus na episode drie om meer hieroor te leer – dit word binnekort bekendgestel.
Speserye, neute of sade kry selfs meer geur as dit eers in ’n droë pan, oor matige hitte gerooster word. Ek sprinkel dikwels geroosterde sesamesaad of sonneblomsaad oor groente of slaai vir ekstra geur. Dit smaak nie net lekker nie, maar is ook ’n gesonde alternatief vir net nog ’n gekoopte sous.
Deur met natuurlike bestanddele en geurmiddels te kook, weet jy presies wat in jul etes is. En die beste deel? Dit hoef nie moeilik of tydrowend te wees nie. Ek wil jou graag help om gereeld met vars kruie, suurlemoen en ander natuurlike geurmiddels te kook, so probeer gerus een van die resepte op my webwerf vir jul volgende aandete.
Kyk saam na die res van Eet.Kook.Leef.Beter, volg my op sosiale media en teken hier op my webwerf in, as jy dit nog nie gedoen het nie.
In my volgende episode oor Gaarmaakmetodes, deel ek nog praktiese wenke om lekker en gesond te eet en beter te leef!
Onthou: tuisgemaak is die beste!
Resep
Eenpot-hoender met suurlemoen & kruie
Lewer 4-6 porsies
Bestanddele
Marinade
60 ml (¼ k) olyfolie
sap en fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
45 ml (3 e) grofgekapte vars basiliekruidblare of origanum
15 ml (1 e) vars tiemieblare
15 ml (1 e) grofgekapte vars Italiaanse pietersielie
sout en peper
Hoender
8-12 hoenderporsies van jou keuse
2 uie, grof gekap
300-400 g knopie- of portabellini sampioene, in kwarte gesny
200 g klein tamaties
vars kruie vir garnering
Metode
- Voorverhit oond tot 180 °C. Meng al die marinadebestanddele saam.
- Hoender: Plaas hoenderstukke, uie, sampioene en tamaties in ’n AMC Gourmet Roaster of groot oondvaste bak.
- Skink die marinade oor en rooster gereg in die oond vir 35-45 minute of tot die hoenderporsies net gaar, maar steeds sappig is.
- Garneer met vars kruie en sit met ’n groenslaai voor. Bruinrys is heerlik om saam met die sousie te eet, as jy ’n stysel wil bysit. Of rooster blokkies botterskorsie as deel van die hoendergereg, maar dan is daar genoeg stysel in die ete en het jy net slaai nodig.
So eenvoudig maar so gesond. Gaan defnitief hierdie resept probeer.
Geniet dit baie! Dis regtig lekker.
Hier is ek weer Heleen ek het die druk formaat gekry. Baie, baie dankie en ook vir die feit dat dit druk vriendelik is.
Groete weer.
Helena