Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Marokkaanse koeskoes

Apr 30, 2019 | Light meals, Light vegetarian, Sides & salads

Kyk net al die K’s: komyn, ’n tikkie kaneel, koljanderblare, kruisement en koeskoes – wat ’n wonderlike kombinasie. Die Marokkaanse geure is perfek saam met die andersins neutrale smaak van koeskoes en dis so ’n maklike bygereg om te maak. Dit kan net so met geroosterde vis, hoender of vleis voorgesit word en koeskoes kan ook ’n souserige gereg heerlik absorbeer.

In dié resep word ui en botterskorsie met my gunsteling-spesery, komyn, in die oond gerooster en dan met geroosterde amandels en vars kruie gebruik om die koeskoes te geur. Kruisement- en koljanderblare is perfekte pasmaats vir die speserye en ander bestanddele. Die verskillende bestanddele gee die bygereg ook ’n interessante tekstuur. Hierdie weergawe kan maklik vooraf berei word, maar voeg die kruie en amandels by net voor dit voorgesit word.

Wat is koeskoes?

Koeskoes is ’n tipiese Noord-Afrikaanse en Mediterreense kossoort. Dit is nie die saad van enige plant of ’n tipe graan, soos baie mense dink nie, maar ’n klein korreltjie wat van semolina of koring gemaak word, baie soos pasta. Die een voordeel van koeskoes is dat dit net geweek of vir ’n kort tydjie gestoom hoef te word om gaar te wees. Die korreltjies word vooraf gedeeltelik gestoom, wat die gaarmaaktyd aansienlik vinniger maak wanneer jy dit wil voorberei. Dis ’n gewilde alternatief vir rys, veral met ’n bredie en is ewe lekker as basis vir ’n slaai. Koeskoes kan na gelang van die bestanddele wat vir geur bygevoeg word, warm of koud geëet word.

Koeskoes se neutrale smaak maak dit juis veelsydig, want dit het die vermoë om ’n wye verskeidenheid geure te kan ‘dra’ en absorbeer. Kruie, verskillende speserye, neute of sade en amper enige gedroogde vrugte, gaar groente of selfs vars slaaibestanddele is heerlik in koeskoes. Feta- of pecorinokaas word ook gereeld in ’n koeskoesslaai of as bygereg gebruik.

Maak dit so gaar

Daar is verskillende maniere om koeskoes gaar te maak en elke verpakking beveel ’n gaarmaakmetode aan. Vir my is dit die maklikste om die koeskoes net in kookwater te week. Daar is ’n paar wenke om dit so suksesvol as moontlik te doen. Gebruik ’n plat, vlak bak, sodat die koeskoes in ’n dun laag lê. Gelyke hoeveelhede koeskoes en kookwater of warm aftreksel lewer die beste resultate. Daar moet net genoeg vloeistof wees om die koeskoes te laat stoom, sonder dat dit ’n pappery word. Skink die warm vloeistof oor die koeskoes in die bak en laat dit so staan vir 5 minute – maar moet dit nie dadelik roer nie. Die bak kan selfs met ’n deksel, kleefplastiek of foelie toegemaak word, om die stoomproses aan te help.

Maak die koeskoes dan met ’n groot vurk los, deur dit te roer en enige klonte op te breek. Skink olyf- of avokado-olie oor om seker te maak dit behou ’n los tekstuur en roer dan die geurmiddels van jou keuse by. As die koeskoes warm geëet gaan word, moet vars kruie liewer bygeroer word, net voor dit voorgesit word, anders word dit bruin.

Resep

Marokkaanse koeskoes

Resep uit Kos is op die tafel!
Lewer 6 porsies

Bestanddele

50 g gevlokte amandels

1 groot ui, gehalveer en in dun wiggies of skyfies gesny

500 g botterskorsie, in blokkies gesny

5 ml (1 t) komynsaad

90-100 ml olyf- of avokado-olie

sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

500 ml (2 k) koeskoes

500 ml (2 k) hoender- of uie-aftreksel

5 ml (1 t) gemaalde komyn

2,5 ml (½ t) gemaalde kaneel

10 ml (2 t) fyngerasperde suurlemoenskil

30 ml (2 e) grofgekapte kruisementblare

30 ml (2 e) grofgekapte koljanderblare

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 200 °C. Plaas die amandels op ’n groot bakplaat en rooster dit ’n paar minute tot goudbruin, maar wees versigtig dat dit nie brand nie. Skep uit en hou eenkant.
  2. Plaas die ui, botterskorsie en komynsaad op dieselfde bakplaat. Giet sowat 30 ml van die olie oor en geur na smaak. Rooster die groente 30 minute of tot net gaar, maar nie te sag nie. Skep uit en laat afkoel.
  3. Plaas intussen die koeskoes in ’n groot, plat mengbak. Giet die warm aftreksel oor en laat dit 5 minute staan sonder om te roer. Meng dit met ’n groot vurk deur om enige klonte op te breek.
  4. Voeg die groente met die res van die bestanddele by en meng versigtig deur. Geur na smaak en sit warm of teen kamertemperatuur as bygereg of ligte vegetariese ete voor.
error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This