Waatlemoen, kruisement-&-fetaslaai
Somer in ’n skil
Party vrugte sê nou maar eenmaal, ‘somer is hier’! Waatlemoen is beslis hoog op die lys. As een van dié vrug oopgesny word, is die kenmerkende geur dadelik te bespeur. Hier is ’n paar lekker wenke en maniere om dit selfs as ’n slaai of voorgereg voor te sit.
So suikersoet…
Onthou jy dié kindertyd-raaiselrympie? ‘So groen soos gras, so wit soos was, so rooi soos bloed, so suikersoet – wat is dit?’ En jy vergeet nie sommer weer dat die antwoord waatlemoen is nie. Hoe dit ook al sy, yskoud is hierdie sappige vrug ’n verfrissende lafenis op ’n warm somersdag. Pitlose waatlemoen is ook nie meer ’n vreemde verskynsel nie, maar alle kinders (en selfs party grootmense) het al ’n waatlemoenpit-spoegkompetisie gehou en groot pret daaruit geput.
Waatlemoene bestaan meestal uit water en verklaar waarom dit so ’n lekker dorslesser is. ’n Ryp waatlemoen behoort swaar te voel en ’n duidelike geel-wit merk waar dit op die grond gerus het, wys dat die waatlemoen volwasse is. Die effektiefste manier om te weet of ’n waatlemoen ryp is, is om daarop te klop. Hoe holler die klank, hoe beter is die kans dat dit stroopsoet gaan wees.
Die kuns van skil en sny
Soveel mense, soveel metodes. Elkeen het hul eie manier om waatlemoen te sny en af te skil. Party sny eers skywe of wiggies en skil dit individueel af, ander sny die skil af en sny dan die res in skywe of blokkies.
Dit kan in verskillende vorms vir verskillende doeleindes gesny word. As net ’n gedeelte van ’n waatlemoen gebruik gaan word, werk dit uitstekend om dik sirkelskywe te sny en vandaar dit verder in driehoeke of blokkies te sny. Maar die opsnywerk kan omtrent in ’n studie ontaard.
Ek onthou hoe my oupa vir ’n groot groep familie ‘n heel waatlemoen só gesny het, dat die kroon (die middelste, dikwels stewigste en sappigste deel van die vrug) apart gehou kon word.
Die bo- en onderpunt van’ n lang waatlemoen is afgesny en dan is die hele vrug van punt tot punt in lang skywe gesny, maar net tot waar die kroon begin. Hy het die mes se lem, so ’n paar sentimeter van die punt vasgehou sodat hy die diepte van elke snit kon ‘meet’, want elke skyf moes net tot by die kroon strek. Die lang skywe is versigtig losgebreek van die kroon en daardie spesiale middelste deel is dan verder in dik skywe gesny. Die kinders het eers van die ‘res’ van die waatlemoen gekry en kon met ’n groot vergunning (na die grootmense) elkeen ’n kroonskyf kry – hemels!
Onthou dit van waatlemoen:
– skywe of blokkies hou net ’n dag of twee in die yskas, want die vog begin uitloop en die vleesgedeeltes word dan maklik pap.
– as net ’n deel van die vrug gebruik gaan word, bly die res langer behoue in die skil. Sny net soveel af as wat nodig is en sit die res, met die gesnyde kant na onder op ’n bord gekeer, in die yskas.
– dit is ideaal vir die komposhoop en die wurms in ’n wurmplaas is net so dol oor waatlemoen soos ons.
– sny waatlemoenskil in kleiner stukke voor dit komposhoop toe gaan, sodat dit makliker kan inmeng en vinniger komposteer.
Smullekker pasmaats
Waatlemoen is verseker nie net ‘n vrug wat in skywe gesny en op ’n warm dag geëet kan word nie. Dit pas uitstekend met bestanddele soos komkommer, feta en kruisement om ’n verfrissende slaai mee te maak. Balsamiese asyn is perfek met waatlemoen en ander soutsmake soos ham, spek en verskillende kase is ook goeie opsies, bv. bokmelkkaas, mozzarella-, feta en pecorinokaas. Sprinkel neute, geroosterde sade en iets soos dukkah oor dit vir ’n interessante kombinasie.
Iets wat mens deesdae nogal sien, is waatlemoen-‘pizzas’. Dik skywe waatlemoen word as basis met ongegeurde jogurt, vars bessies en kruisement as slaai of ontbyt voorgesit. Of maak vir die kinders waatlemoen-op-’n-stokkie as gesonde peuselhappie.
Dalk lyk hierdie resep na ’n effens vreemde kombinasie, maar dis altyd ’n wenner. Die hoef ook nie net op ’n slaaibord te wees nie. Ryg die bestanddele op stokkies en maak dit deel van ’n peusel- of kaasbord. Vir peuselstokkies werk ’n sagte mozzarella beter, omdat dit makliker ryg. Hierdie resep was in die artikel wat ek vir LiG Tydskrif se Desember 2018 uitgawe geskryf het.
gesny 2 skywe fetakaas, grof gekrummel of in blokkies
gesny 2 handevol kruisementblare
Trackbacks/Pingbacks