Hoender-en-wortelkerrie
Resep
Hoender-en-wortelkerrie
Lewer 6 porsies
Die wortels maak die gereg lekker kleurvol en is genoeg stysel vir die ete, so dit kan net so voorgesit word. As julle verkies, geniet dit saam met klein porsies bruinrys of bruin basmatirys. Klik hier vir ’n Geroosterde wortelsop resep – net nog ’n manier om te wys hoe veelsydig dié alledaagse bestanddel kan wees.
Bestanddele
30 ml (2 e) olyfolie
2 uie, in wiggies gesny
2,5 ml (½ t) heel vinkelsaad (fennel)
10 ml (2 t) heel komynsaad
2,5 ml (½ t) borrie
10 ml (2 t) matige kerriepoeier
6-8 kerrieblare of 2 suurlemoenblare
15 ml (1 e) fyngerasperde vars gemmer
1 klein rooi brandrissie, ontpit en fyngekap
15 ml (1 e) fyngerasperde suurlemoenskil
100 ml water
6 wortels, geskil en in dik diagonale skywe gesny
125 ml (½ k) hoenderaftreksel of Rooibostee
1 x 400 ml blik klappermelk (sien wenk)
6-8 hoenderborsfilette, in skyfies gesny
sout en swartpeper na smaak
60 ml (¼ k) gekapte vars koljanderblare
60 ml (¼ k) kasjoeneute
ekstra koljanderblare
suurlemoenwiggies indien verkies
Metode
- Verhit die olie oor matige hitte in ’n groot, wye braaipan of wok. Soteer die uie vir ’n paar minute. Roer die speserye, kerrie- of suurlemoenblare, gemmer, brandrissie en suurlemoenskil by.
- Soteer vir ’n paar minute tot aromaties. Verlaag die hitte, giet die water oor die uie en prut oor ’n lae temperatuur tot die uie sag en geurig is en die water weggekook het.
- Roer die wortels by en soteer vir ’n paar minute tot dit begin verbruin.
- Roer die aftreksel of Rooibostee en eers net helfte van die klappermelk by die uie- en wortelmengsel. Prut oor ’n lae hitte tot die vloeistof deurwarm en geurig is.
- Voeg die hoenderfiletskyfies met die orige klappermelk by en roer goed deur. Verhoog die temperatuur ’n klein bietjie tot die kerrie net liggies begin prut. Prut oor matige tot lae hitte vir 8 – 10 minute of tot die hoender net gaar, maar steeds sappig is. As dit hoender te vinnig kook, sal dit droog word.
- Geur na smaak en roer die gekapte koljanderblare by.
- Sit die kerrie met die kasjoeneute, ekstra koljanderblare en suurlemoenwiggies voor.
Wenke
- Skud die blik klappermelk voor dit oopgesny word, sodat die inhoud goed deurgemeng is. Klappermelk skei in die blik en kan vreemd voorkom, maar daar is niks fout daarmee nie.
- Sit die kerrie met liggies gaargemaakte groenboontjies of broccoli voor.
- Klappermelk pas perfek by speserygeure, maar as julle nie van die smaak hou of dit nie in die hande kan kry nie, kan die resep ook met dubbel-dik jogurt gemaak word. Onthou dat dit makliker as die klappermelk sal skif, so maak die hoender dan oor ’n lae hitte in die sous gaar.
Hierdie Hoender-en-wortelkerrie was deel van ‘n kos-artikel in LiG Tydskrif, Winter 2023.
Foto by Adel Ferreira Photography.
Wow doe Hoender en Wortel dis klink heerlik.. baie dankie
Dankie vir die lekker boodskap. Ek hoop jy het dit al probeer en die resep baie geniet.