Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Geroosterde wortelsop

Aug 15, 2023 | Mains, Vegetarian

Resep

Geroosterde wortelsop

Lewer 4 – 6 porsies

’n Maklike en vinnige sop met baie geur vir ’n lekker winters-ete. Klik hier vir ’n heerlike Honder-en-wortelkerrieresep. Klik hier vir ’n heerlike Honder-en-wortelkerrieresep.

Bestanddele

500 g groot, ryp tamaties, in wiggies gesny

2 uie, in wiggies gesny

1 groot rooi soetrissie, ontpit en in repe gesny

750 – 1 kg wortels, geskil en in dik skywe gesny

2 selderystingels met blare, in dik skywe gesny

2 knoffelhuisies, in kwarte gesny

15 ml (1 e) heel komynsaad

45 ml (3 e) gekapte Italiaanse pietersielie

10 takkies vars tiemie

45 ml (3 e) olyfolie

fyngerasperde skil en sap van 1 suurlemoen

sout en peper na smaak

1,250 liter (5 k) sterk Rooibostee

30 ml (2 e) grofgerasperde vars gemmer

ongegeurde jogurt of suurroom en Italiaanse pietersielie om mee voor te sit

geroosterde pampoensaad om mee voor te sit (sien wenk)

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Plaas tamaties, uie, soetrissie, wortels, seldery, knoffel, komyn en helfte van die kruies in ’n groot mengbak. Giet die olie oor en meng goed deur.
  3. Plaas die groentemengsel op twee groot bakplate of vlak oondbakke en geur na smaak met helfte van die suurlemoenskil en -sap en peper.
  4. Rooster vir 45 minute of tot die groente gaar en goudbruin, maar nie te donker is nie. Haal enige groente stukkies uit wat te donker is of effens gebrand is.
  5. Plaas die geroosterde groente in ’n groot kastrol en roer die tee, gemmer en orige kruie, suurlemoenskil en -sap by.
  6. Meng met ’n stokmenger tot verpulp of skep alles in ’n versapper en verpulp. (Onthou, die wortels verpulp nie so glad soos bv ’n botterskorsiesop nie, so die sop het ’n effens growwer tekstuur.)
  7. Geur na smaak en verhit tot deurwarm. Voeg ’n bietjie water of nog Rooibostee by die sop indien dit te dik is na jul smaak.
  8. Sit warm met lepetjiesvol jogurt of suurroom of ’n paar druppels olyfolie, Italiaanse pietersielie, peper en van die pampoensaad voor.

Wenke

  1. Geur die sop met gewone of gerookte paprika na smaak.
  2. Rooster pampoensaad op ’n klein bakplaatjie terwyl die groente rooster tot dit net goudbruin en aromaties is. Anders kan dit in ’n droë pan, sonder olie, oor matige hitte gerooster word – wees versigtig want dit rooster baie vinnig en kan maklik brand.

Hierdie Geroosterde wortelsop was deel van ‘n kos-artikel in LiG Tydskrif, Winter 2023.
Foto by Adel Ferreira Photography.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This