Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Geroosterde kool & spek met heuning-mosterd

Oct 10, 2019 | Salad as a side, Sides & salads

Kool en spek is ’n bekende kombinasie en beide is ekstra lekker as dit gerooster is. Die soetsuur smaak van mosterd is perfek in hierdie eenvoudige, maar geurige bygereg. Moenie die kool te lank rooster nie, want dit moet net gaar en beslis nie pap wees nie. Die twee kleure kool lyk mooi, maar net witkool sal dit ewe lekker wees.

Ek het onlangs ’n artikel vir LiG Tydskrif oor dikwels ‘vergete’ groente geskryf. Daar is basiese groentes soos uie, kool en wortels wat ons gereeld as basis vir geregte gebruik, maar wanneer laas was jy kreatief daarmee en het dit die kollig aan tafel laat steel? Gebruik die regte gaarmaakmetodes en geurmiddels en wees gereed vir ’n feesmaal. Moenie in die gewoonte verval om hierdie veelsydige groentes net altyd op dieselfde manier voor te berei nie. Benut die natuurlike geur en tekstuur van elkeen vir ’n interessante eindresultaat.

Hierdie groentes is amper heeljaar beskikbaar en dikwels die basis van geregte soos slaaie, soppe, bredies, ’n maalvleismengsel of eenskottelgeregte. Dis net die begin van ’n lys geregte wat met dié oes uit Moeder Natuur opgetower kan word. Kool is deesdae weer hoogmode – maak dié bygereg met ‘n volgende braai.

Hier is ’n paar praktiese wenke oor kool:

– neutrale smaak wat dit juis veelsydig maak in terme van geure wat daarby pas
– eet rou of gaar: rooster, blansjeer of roerbraai liggies en geur met neutmuskaat
– kook of blansjeer in min water – kool se natuurlike vog dra by tot die vog in die kastrol en te veel water lei maklik tot oorgaar, pap en onaptytlike kool met min orige voedingswaarde.
– rooi kool is gewild vir slaaie, of gebruik soos in die resep in die artikel. Onthou: dit sal ander groente waarmee dit gekook word, pers vlek, so hou dit liewer apart.
– hou kool in die yskas in ’n bruinpapier- of plastieksak en behou die buitenste blare wat help om die kool teen uitdroging te beskerm, tot dit gebruik gaan word
– bypassende geure: komyn-, karwy-, vinkel- en mosterdsaad, Chinese vyfspeserye, suurlemoen, brandrissie, appel, tiemie, pietersielie en lekker met enige vleis, gewild saam met vark

 

Resep
Geroosterde kool & spek met heuning-mosterd
Lewer 6 – 8 porsies
Bestanddele

30 ml (2 e) korrelmosterd

30 ml (2 e) heuning

30 ml (2 e) appel- of wit druiwe-asyn

30 ml (2 e) avokado- of olyfolie (probeer Plain Westfalia Avokado-Olie)

1 elk klein rooi en wit kool, in dik wiggies of agtstes gesny

250 g spek, oortollige vet verwyder en spek in dik repe geskeur

sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Metode
1. Voorverhit die oond tot 220 °C.
2. Meng die mosterd, heuning, asyn en olie in ’n groot mengbak saam.
3. Plaas die kool en spek in die mengsel en roer versigtig deur tot alles met die sous bedek is. Geur met sout en peper.
4. Skep alles in ’n vlak oondbak of op ’n bakplaat. Rooster vir 20 minute of tot die kool net gaar is en die spek begin bros word. Die kool moenie pap wees nie.
5. Sit dadelik as ’n bygereg voor. Heerlik wees met hoender of varkvleis.
Wenke
1. Vervang mosterd met komyn- of karwysaad.
2. Sit met lepelsvol ongegeurde of Griekse jogurt voor.
error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This