Tuisgemaakte vars pasta
Maak jou eie pasta – dis groot pret!
Pasta is so veelsydig en beslis een van die redes waarom dit so gewild is. Droë pasta is in ’n verskeidenheid van vorms en groottes beskikbaar. Kies die pastavorm só, dat die sous aan die pasta ‘kleef’ en dit makliker is om saam te eet.
Min dinge kan by die smaak en delikate tekstuur van tuisgemaakte vars pasta kersvashou. Dis dalk ’n bietjie meer moeite, maar dit absoluut werd, want tuisgemaakte vars pasta is iets besonders. En dis nogal ’n prettige aktiwiteit vir die hele gesin of ’n groep vriende om sommer só saam te kook en te kuier.
Van watter pastasous hou jy?
Daar is hoofsaaklik twee hoofkategorieë pastasouse – souse met ’n tamatiebasis en die met ’n olie- of roombasis. Daarna kan ’n wye verskeidenheid van proteïene, groente, kruie en ander geurmiddels bygevoeg word. ’n Geurige maalvleismengsel, bolognaise, is natuurlik altyd heerlik met pasta.
Drie bestanddele wat sinoniem is met pasta is olyfolie, swartpeper en natuurlik kaas – veral ’n harde kaas soos pecorino-, parmesaankaas of beleë wit cheddarkaas, wat aan tafel bo-oor gerasper word.
Die beste wenke as jy pasta kook:
1. Die pot: ’n groot genoeg pot kook nie sommer oor nie en die pasta is minder klewerig. Reken sowat 3-4 liter water/500 g pasta. Moet nooit die deksel opsit nie – dit sal oorkook!
2. Sout: geur die pastawater deeglik – gebruik omtrent 15-30 ml sout vir 500 g pasta. Onthou, jy geur die pasta – jy gaan nie al die sout eet nie.
3. Olie of nie? Olie in die pastawater dryf net bo-op en keer nie regtig dat die pasta saamkleef nie – hou die lekker olyfolie liewer vir die gaar pasta.
4. Laat die pot sing: die Italiaanse koskenner, Valentina Harris, het my geleer dat die pot ‘Aida moet sing’, voor die pasta bygegooi word. Laat die water dus eers vinnig kook en gooi dan die pasta by. Roer deur sodra dit bygevoeg is, sodat die pasta nie net op die bodem gaan lê nie en dan elke nou en dan tydens die kooktyd.
5. ‘Al dente’: daardie perfekte punt van pasta-gaarheid – dit beteken die pasta is sag, maar het steeds ’n bietjie ‘byt’, beslis nie pap of klewerig nie.
6. Pastawater: behou so ’n paar eetlepels van die pastawater en roer dit by die sous vir ’n ekstra romerige tekstuur en sodat die sous om die pasta bind. Behou sowat 100 ml van die water in die warm pot om met die gaar pasta te meng – dit verhoed dat die pasta aan mekaar kleef.
7. As dit gaar is: dreineer die pasta in ’n vergiettes, skep terug in die warm pot met van die behoue pastawater en skink ’n goeie skeut olyfolie oor, meng deur en sit dadelik voor.
8. Mmm, suurlemoen: die sap en fyngerasperde skil van ’n suurlemoen is absoluut heerlik in warm pasta. Die pasta absorbeer dit en gee ’n besonderse geur, ongeag die sous waarmee die pasta voorgesit word.
9. Groen groente vir pasta: kook broccoli-blommetjies of groenboontjies vir die laaste 2-3 minute saam met die pasta. Dreineer saam en sit met die pastasous voor – groente in ’n blits deel van jou pasta-ete.
Lewer 4 ruim porsies
400 g witbroodmeel en ekstra vir knie en uitrol, gebruik verkieslik steengemaalde meel vir die beste resultate
4 ekstra-groot eiers
15 ml (1 e) olyfolie
5 ml (1 t) sout
1. Plaas die meel in ’n hopie op ’n skoon werksoppervlak en vorm dit in ’n dammetjie. Kraak die eiers in die holte en voeg die olie en sout by.
2. Meng die bestanddele geleidelik met twee vingers saam, tot dit amper klonterig is. Begin dan om die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak te knie. Knie met die agterkant (‘hak’) van jou palm, deur die deeg vorentoe te druk en in een beweging weer terug te rol.
3. Knie sowat 10 minute tot die deeg glad en elasties is. (Die deeg moet sag, maar amper leeragtig wees en glad nie aan jou vingers vassit nie, anders gaan dit sukkel om uit te rol.) Vorm dit in ’n bal en druk liggies daarop – dit behoort terug te spring, dan is die deeg gereed.
4. Bedek met kleefplastiek en laat die deeg vir 30 minute in die yskas rus.
5. Sny die deeg in vier tot ses ewe groot stukke en rol met ’n rolstok op ’n meelbestrooide oppervlak tot ’n paar sentimeter dik uit. Vou die deeg in derdes en rol weer uit. Herhaal 2-3 keer en rol dan tot ’n paar millimeter dik uit. (Of volg die pastamasjien-instruksies. Rol die stukke deeg een vir een, stelselmatig met ’n dunner stelling, tot ’n paar millimeter dik.)
6. Sny die pastavelle dan in lasagnevelle of lintnoedels volgens keuse en die stelling op jou masjien. Of gebruik ’n skerp sjefsmes met ’n groot lem om die pasta in repies te sny.
7. Hou die pasta deurentyd liggies met nog meel bestrooi, sodat dit nie aanmekaar kleef nie. Hang die pastalinte op tot dit gekook gaan word – dit verhoed dat dit saam kleef. Bedek ’n hanger of droograk met kleefplastiek en hang die pasta daaroor.
8. Kook die pasta soos hierbo in die pastawenke beskryf en sit met die sous van jou keuse voor. Of berei ’n lasagne van jou keuse.
1. Met ’n menger: Gebruik eers die gewone haak om die bestanddele deur te meng en knie dan met die deeghak tot sag en elasties. Hanteer verder soos hierbo beskryf.
2. Vir ’n groot lasagne, is helfte van die vars pastaresep voldoende.
3. Die bal pastadeeg van vir 1-2 dae in die kleefplastiek, in die yskas gehou word, maar sal later verkleur en te hard word om te kan uitrol.
In September 2020 was hierdie deel van ’n artikel oor pasta in LiG Tydskrif.
Foto’s: Adel Ferreira Photography
Trackbacks/Pingbacks