Uie-tert met roosmaryn & pecorino
Resepte
Uie-tert met roosmaryn & pecorino
Resep aangepas uit Maak vyf
Lewer 6 – 8 porsies
Gekaramelliseerde uie is so ’n eenvoudige, maar baie geurige vulsel vir die tert. Ideaal vir ’n teetafel of as bygereg. Lees die resep mooi, want dis eintlik ’n onderstebo-tert, so die laaste stap is inderdaad korrek.
Bestanddele
Kors
375 ml (1½ k) koekmeel
75 ml (5 e) koue botter, in blokkies gesny
50 ml fyngerasperde pecorinokaas
10 ml (2 t) gekapte vars roosmaryn
125 ml (½ k) gladde maaskaas
1 eier, geklits
Vulsel
15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie
2 elk groot rooi en wit uie, gehalveer en in wiggies gesny
15 ml (1 e) balsamiese asyn
15 ml (1 e) heuning
15 ml (1 e) gekapte vars roosmaryn
suurlemoensap na smaak
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
80 ml (⅓ k) grofgerasperde pecorinokaas
roketblare om mee voor te sit
Metode
1. Kors: Meng die meel, botter, kaas en roosmaryn in ’n voedselverwerker tot die mengsel soos growwe broodkrummels lyk. Voeg die maaskaas en eier by en meng tot ’n sagte deeg vorm. (Of vryf die botter met jou vingerpunte in tot dit soos broodkrummels lyk en meng dan die vloeistof by tot ’n sagte deeg.)
2. Druk die deeg versigtig in ’n sirkel so groot soos ’n kleinbordjie uit, bedek met kleefplastiek en plaas vir 30 minute in die yskas.
3. Vulsel: Verhit die olie oor matige hitte in ’n groot braaipan en braai uie vir ’n paar minute of tot goudbruin.
4. Voorverhit intussen die oond tot 200 °C. Kry ‘n 22 cm tertbak gereed, maar dis nie nodig om dit te smeer nie.
5. Roer balsamiese asyn en heuning by tot die heuning gesmelt het en dit ’n sousie vorm. Roer die roosmaryn deur en geur na smaak met suurlemoen, sout en peper.
6. Verlaag die hitte en prut met ’n deksel vir ’n paar minute tot die uie gekaramelliseer het.
7. Rol intussen die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak in ’n sirkel uit, totdat dit groot genoeg is om net oor die rand van die tertbak te pas.
8. Skep die uie in die tertbak en strooi die kaas oor. Plaas die deeg oor die warm vulsel en vou dit tussen die tertbak se rand en die vulsel in. Die warm uie sal help om stoom tussen die deeg en vulsel te vorm.
9. Bak vir 25-30 minute of tot die kors goudbruin is. Laat vir ’n paar minute staan sodat die sous effens kan intrek.
10. Plaas ’n groot opdienbord oor die tertbak en keer dit versigtig maar vinnig in een beweging om. Die kors is dan onder met die uievulsel na bo gekeer. Sit met vars roketblare voor.
Wenke
1. Halveer en ontpit 10-12 olywe en roer by die ui voor dit in die tertbak geskep word.
2. Die deeg vries uitstekend. Maak dit dubbeld aan en vries vir latere gebruik. Ontdooi oornag in die yskas en gebruik soos benodig.