Basiliekruidpesto
Pesto vir ‘n Italiaanse fees
Basiliekruid is een van my gunstelingkruie en alhoewel dit as ‘n somer-krui beskou word, is dit deesdae vir meer as net die somermaande beskikbaar. Basiliekruid is perfek vir ’n verskeidenheid somergeregte en relatief maklik om in jou kruietuin te laat groei. As jy gelukkig genoeg is om ’n lekker groot oes te hê, móét jy eenvoudig pesto maak. Pesto is tipies ’n mengsel van fyngemaakte vars basiliekruidblare, knoffel, olyfolie, kaas en neute. Dit is baie handig om in die yskas te hê en só veelsydig om te gebruik en ’n gewone gereg ekstra geur-woema te gee. Vir ‘n vorige LiG tydskrif uitgawe, het ek ’n hele paar idees vir somer-onthaalhappies gedeel. Hier is ’n paar van die idees.
Pesto is heerlik op pasta, maar ewe lekker op ’n braaibroodjie, toebroodjie, pizza of burger. Of as ’n slaaisous – die perfekte kombinasie vir ’n tamatieslaai. Gebruik op groente of selfs met vleis of hoender of in ’n maalvleismengsel. Skep teelepelsvol op gebakte aartappels, of meng dit met ongegeurde maaskaas vir ’n slaai- of doopsous.
Soos die Italianers
Die Italianers se passie vir die lewe en lekker kos, is iets waarmee ons as Suid-Afrikaners beslis identifiseer. Bederf jou gaste hierdie somer met ’n paar maklike happies – propvol Italiaanse inspirasie en natuurlik, pesto. Die sogenaamde Mediterreense leefstyl en eetpatroon, soos baie Italianers ook eet, het oor die jare al baie aandag gekry. Dit bly ’n gewilde en gesonde manier van eet. Die belangrikste rede hiervoor is omdat hulle graag met vars bestanddele kook en die natuurlike geur van die elemente so goed benut, dat min ander byvoegings nodig is – dalk juis wat dit so gesond maak. Heelwat van die bestanddele wat in Italiaanse kookkuns gebruik word, is ook gewild in Suid-Afrika en ons gebruik dit ook op ’n wye verskeidenheid geurige maniere. Wees kreatief met dit wat in jou tuin en yskas is en maak ’n paar somerhappies met vars elemente en pesto.
Onthaal met min moeite
Teen die einde van die jaar moet ’n mense dikwels gaste onthaal, maar het nie ure om in die kombuis te spandeer nie. Hier is ’n paar maklike maniere om pesto vir stylvolle peuselhappies of skemerkelkhappies te gebruik. Met ’n flessie pesto en ’n paar interessante bestanddele gaan jy beslis jou gaste beïndruk.
Caprese in ’n glas of op ’n stokkie: ’n Baie bekende Italiaanse slaai is die eenvoudige, maar baie geurige kombinasie van tamaties, mozzarella en vars basiliekruidblare of pesto. Wees kreatief met die bestanddele en sit dit op verskillende maniere voor – ryg dit op stokkies of maak klein slaaitjies in individuele glasies. Selfs net ’n verskeidenheid van tamaties kan dit nog meer indrukwekkend maak. Gebruik: 6 bocconcini (mozzarella-balletjies), in stukkies geskeur of 100 g mozzarella, in blokkies gesny; ongeveer 200 g klein tamaties van enige kleur, gehalveer, in dik skywe of kwarte gesny; ’n handvol vars basiliekruidblare; avokado-olie, sout en peper na smaak; 60 ml pesto
Lewer ongeveer 250 ml
60-70 g vars basiliekruidblare
2-3 knoffelhuisies, fyn gedruk
30-50 g gemaalde amandels of sonneblomsade, liggies gerooster
125 ml (½ k) fyngerasperde pecorino-, parmesaan- of selfs beleë wit cheddarkaas
125 ml (½ k) olyfolie
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
1. Plaas basiliekruid, knoffel, neute of sade, kaas en helfte van die olie in ’n voedselverwerker en meng goed saam. Of sit al die bestanddele in ’n glasbak en meng met ’n stokmenger.
2. Voeg die res van die olie geleidelik by sodra die bestanddele ’n mengsel begin vorm en hou aan meng tot die olie ingemeng is. Geur na smaak en meng weer goed deur.
3. Skep pesto in ’n gesteriliseerde glasfles en bedek met ’n dun lagie olie om verkleuring te voorkom. Hou in die yskas en onthou dat die olie ’n soliede lagie bo-op sal vorm, maar baie gou weer loperig raak sodra dit uit die yskas is. Bedek weer met olie as dit verder in die yskas gehou gaan word.
1. Rooster sonneblomsade oor matige hitte in ’n droë pan tot aromaties. Skud die pan gereeld om te verhoed dat dit brand – wees versigtig, dit gebeur vinnig.
2. Wenk: moenie in die versoeking kom om ‘n gebruikte lepel of mes weer in ‘n fles pesto te doop nie. Dit kan die pesto baie vinnig laat sleg word. Skep liewer net genoeg uit vir ‘n maaltyd en moenie iets wat oorbly terugskep in die flessie nie. Skink weer ‘n dun lagie olie bo-op die pesto en hou in die yskas.
3. Pesto-maaskaas: meng 60 ml (¼ k) pesto met 125 ml (½ k) gladde maaskaas en gebruik met ander bestanddele op bruschettas.
2-3 groot of 6 klein rooi of geel soetrissies, gehalveer en ontpit
45 ml (3 e) olyfolie
sout en pepper
1. Voorverhit oond tot 250 °C of skakel die oondroosterelement aan. Verf soetrissie-halwes met olie en geur met sout en peper.
2. Plaas die soetrissies met die skil-kant na bo op ’n bakplaat. Rooster letterlik tot die skilletjies pikswart is. Dit neem sowat 15-20 minute of 8-10 minute onder die element, maar hou dit dop, dat die soetrissie self, nie brand nie.
3. Verwyder dadelik uit die oond en plaas in ’n glasbak, bedek met kleefplastiek en laat so stoom tot die soetrissies afgekoel is. Of plaas dit in ’n stewige plastieksakkie, bind toe en laat dit so afkoel. Dit help dat die skilletjies lostrek van die soetrissies en baie makliker afskil.
4. Trek die skilletjies af en gebruik die soetrissies op enige van die volgende maniere.
5. Gemarineerde soetrissies: Sny die geroosterde soetrissies in repies en marineer in ’n mengsel van gelyke hoeveelhede olyfolie en balsamiese asyn. Gebruik die repies in slaai of as bolaag vir bruschettas, in klein wraps of selfs in ’n quiche.
6. Soetrissie-maaskaas: Verpulp van die rooi soetrissies met ’n stokmenger met 125 ml (½ k) gladde maaskaas of roomkaas tot ’n gladde smeersel om op die bruschettas te gebruik. Die rooi soetrissies gee die mengsel ’n pragtige kleur.
1 middelslag ciabatta
60-80 ml (¼ – ⅓ k) olyfolie
1-2 knoffelhuisies (opsioneel)
varsgemaalde swartpeper
OF wees kreatief met wat in jou yskas is
1. Voorverhit oond tot 180 ˚C.
2. Sny ciabatta in ongeveer 1 cm dik skywe en halveer elke skyf of sny dit in derdes of kwarte, sodat dit maklik hanteerbare groottes is. Dit sal ook van die brood se grootte afhang.
3. Verf elke sny brood met olie en pak in ’n enkellaag op ’n groot bakplaat. As jy knoffel wil gebruik, kan die skyfies brood liggies met die heel knoffelhuisie gevryf word, om amper die knoffel daarop te ‘rasper’. Te veel knoffel kan ’n bitter smaak hê en die ander bestanddele oorheers, so gebruik net genoeg om dit ’n aromatiese geur te gee.
4. Rooster vir 8-10 minute of tot net goudbruin en bros. Draai snye om en rooster vir nog ongeveer 5 minute aan die ander kant, maar wees versigtig om dit nie te ver te rooster nie, dan is dit moeilik om te eet en val die bolaag net af.
5. Laat afkoel en rond dan met die bolaag-opsies van jou keuse af.
Bruschettas op die foto hierbo:
1. Pecorino-skaafsels, geroosterde, gemarineerde soetrissierepies, kappertjiesade, Italiaanse pietersielie
2. Soetrissie-maaskaas**, prosciutto, olywe en basiliekruidblare
3. Pesto, gemarineerde soetrissierepies, pecorino-skaafsels, kappertjiesade, olywe, origanum
4. Soetrissie-maaskaas, kersietamaties, kappertjiesade, olywe en Italiaanse pietersielie
5. Prosciutto, kersietamaties en basiliekruidblare
6. Pesto, gemarineerde soetrissierepies, prosciutto en olywe
7. Pecorino-skaafsels, prociutto, kappertjiesade, origanum
Trackbacks/Pingbacks