Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Oondgebak met hoender, broccoli en sampioene

Aug 19, 2024 | Mains, Poultry

Resep

Oondgebak met hoender, broccoli en sampioene

In die gereg word die hoenderporsies eers gaargemaak en dié vloeistof word ’n geurige aftreksel vir die sous – baie gesonder as ’n gekoopte, dikwels baie sout aftreksel. Die sous word met ’n klein bietjie mielieblom verdik, so dis ’n baie lekker lae-koolhidraat maaltyd. Die eenskottelgereg is vullend genoeg en kan net met ’n eenvoudige tamatieslaai voorgesit word om iets uit elke voedselgroep in te sluit.

Lewer 6 porsies

Bestanddele

30 ml (2 e) olyfolie

250 g bruin sampioene, gehalveer en in dik skywe gesny

4 hoenderborsies aan die been, oortollige vet verwyder

3 preie of 2 uie, gehalveer en in skywe gesny

125 ml (½ k) sterk Rooibos

1 lourierblaar

2 repe suurlemoenskil, met ’n groenteskiller gemaak

30 ml (2 e) mielieblom

250 ml (1 k) melk

10 ml (2 t) Dijon mosterd

250 ml (1 k) dubbeldik ongegeurde jogurt

45 ml (3 e) vars salieblare, gekap

400 g broccoli, met die stingels in blommetjies gesny

suurlemoensap, sout en swartpeper na smaak

45 ml (3 e) sesamsaad

Metode
  1. Verhit ’n dun lagie van die olie in ’n groot braaipan en soteer die sampioene tot ligbruin. Skep uit en hou eenkant.
  2. Verhit nog ’n bietjie olie in dieselfde pan en verbruin die hoender aan albei kante. Skep uit.
  3. Soteer preie of uie in die pan en plaas die hoender terug in die pan. Verlaag die hitte en roer die Rooibos, lourierblaar en suurlemoenskil by.
  4. Prut met ’n deksel oor lae hitte vir sowat 25 minute of tot die hoender net gaar, maar steeds sappig is. Skep die hoender uit en laat effens afkoel. Ontbeen die hoender en haal oortollige stukke vel uit. Skeur die vleis in repies en hou eenkant.
  5. Voorverhit die oond tot 180 ˚C. Klits intussen die mielieblom, melk, mosterd en jogurt saam in ’n beker. Roer die mengsel by die kookvloeistof in die pan.
  6. Roer oor lae hitte tot die vloeistof alles ingemeng het. Moenie bekommerd wees as dit lyk of die mengsel wil skif nie, die mielieblom sal dit bind. Roer heeltyd tot die mengsel begin verdik.
  7. Roer die salieblare, sampioene en broccoli goed deur. Prut vir 1-2 minute met die deksel, om die broccoli liggies te stoom.
  8. Roer die hoender by en geur die mengsel na smaak. Skep die hoendermengsel in ’n groot oondbak en sprinkel die sesamsaad oor. Bak vir 20 minute of tot die deurwarm is en die sesamsaad goudbruin gerooster is.

Hierdie Oondgebak met hoender, broccoli en sampioene was deel van ‘n kos-artikel in LiG Tydskrif, Winter 2024.
Foto: Adel Ferreira Photography.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This