Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

6 Japtrap-happies

Oct 3, 2023 | Desserts, sweet treats & baking, Sweet snacks

Maklik, vinnig en gesond
Met ’n paar bekende en alledaagse bestanddele kan jy ’n smullekker verskeidenheid van happies moeiteloos voorberei. Onthou, dit wat jy op jou inkopielysie sit, is wat jy gaan eet, so hou dit gesond.

6 Planne
Die ses resepte hier onder gebruik soms dieselfde bestanddele, maar elke happie is uniek. Laat die kinders sommer help – dis ’n wonderlike manier om hulle aan te moedig om gesonde peuselhappies te geniet. Lees ook die twee blogs vir nog lekker idees vir kosblikke of as peuselhappies: Peuselhappies vir die hele gesin en Twee idees met hawermout

Resepte

Peuselhappies vir die hele gesin
Peuselhappies vir die hele gesin

Speseryneute

’n Ongelooflike lekker en gesonde alternatief vir ’n pak tjips of gesoute neute. Meng die volgende saam:
15 ml (1 e) olyfolie, 5 ml (1 t) paprika, 2,5 ml (½ t) elk gedroogde tiemie, gemaalde komyn en neutmuskaat, die fyngerasperde skil van 1 suurlemoen en swartpeper, na smaak. Roer 200 g ongesoute neute van jou keuse, bv amandels, kasjoeneute of selfs grondbone (of sade) by tot die neute met die oliemengsel bedek is. Skep op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is. Rooster teen 180 °C vir 10-12 minute of tot goudbruin en bros. Wees versigtig dat dit nie brand nie. Laat afkoel en bêre in ’n lugdigte houer.

Geroosterde sesamsaad

Almal is altyd verbaas oor hoe so ’n eenvoudige idee, so lekker kan wees. Rooster 125 ml (½ k) sesamsaad in ’n droë pan oor ’n matige temperatuur vir ’n paar minute tot goudbruin. Hou dit dop, want dit brand baie maklik. Doop stukkies komkommer, wiggies appel of peer en selfs druiwe daarin. Dis regtig lekker en verras mense altyd!

Kaas-en-slaaihappies

Sny appel en komkommer in dun wiggies of stokkies. Rol met dun repe (’n groenteskiller werk goed) beleë cheddarkaas of ander kaas van jou keuse, in sagte slaaiblare toe. Doop die appel of komkommer eers in geroosterde sesamsaad (sien hier bo) of sit met die saadjies voor.

Appelhappies met grondboontjiebotter

Die kombinasie van appel en grondboontjiebotter is altyd ’n wenner. Sny die kern uit een of twee appels met ’n appelboor en sny die appels in dik skywe. Smeer grondboontjiebotter op elke skyf en sprinkel met gesonde bestanddele van jou keuse. Geroosterde sonneblom- of sesamsaad, gekapte neute of tuisgemaakte muesli is heerlik. Ander opsies is kaneel, heuning of selfs honderde-en-duisende of ander kolwyntjieversierings vir ’n prethappie vir die kinders.

Sjokolade-neuthopies

Plaas 125 ml (½ k) donkersjokoladesplinters of gekapte donkersjokolade in ’n glasbak. (Of gebruik 80 ml donker- en 60 ml melksjokolade as jy nie van so ’n donker smaak hou nie.) Sit die bak oor ’n kastrol met liggies pruttende water, sodat die sjokolade stadig smelt. Roer tot dit heeltemal gesmelt het. Kap 125 ml (½ k) ongesoute neute van jou keuse by, bv. amandels, kasjoeneute, gemengde neute of selfs grondboontjies. Roer tot die neute heeltemal bedek is. Voer ’n bakplaatjie met bakpapier uit en skep lepelvol van die mengsel op die papier. Laat dit op ’n koel plek afkoel. Hou in ’n lugdigte houer.

Neuterige doopsous

Meng 15 ml (1 e) grondboontjiebotter (of tahini, ’n sesamsaadpasta) met 125 ml (½ k) ongegeurde jogurt. Geur met ’n knippie speserye van jou keuse soos neutmuskaat, gemengde speserye, kaneel of selfs fyngerasperde suurlemoenskil, na smaak. Gebruik as doopsous met appel, wortel, peer of ander seisoensvrugte.

Hierdie Peuselhappies was deel van ‘n kos-artikel in LiG Tydskrif, Herfs 2023.
Fotos: Adel Ferreira Photography.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This