Twee idees met hawermout
Tuisgemaak is die beste
Almal het van tyd tot tyd lus vir ’n peuselhappie, maar dis ook dikwels een van die struikelblokke vir ’n gesonde leefstyl. As jy self iets voorberei, weet jy presies wat in die happies en jou kos is. Slim kombinasies van geure en teksture is genoeg om dit ekstra lekker te maak, sonder dat jy die oormatig baie sout en suiker wat dikwels in gekoopte happies wegkruip, sal mis.
Maklik, vinnig en gesond
Met ’n paar bekende en alledaagse bestanddele, soos hawermout kan jy ’n smullekker verskeidenheid van happies moeiteloos voorberei. In die twee happies word hawermout, grondboontjiebotter, kakao, eiers, rosyntjies en neute veelsydiger as wat jy dink. Kombineer dit met speserye soos kaneel, gemengde speserye of neutmuskaat. Selfs geurmiddels soos klapper, kakao en vanieljegeursel maak dit ekstra interessant. Seisoenvrugte is ’n gesonde peuselhappie op hul eie, maar net so ideaal om in dié resepte te gebruik. Onthou, dit wat jy op jou inkopielysie sit, is wat jy gaan eet, so hou dit gesond.
Laat die kinders sommer met die resepte help – dis ’n wonderlike manier om hulle aan te moedig om gesonde peuselhappies te geniet.
Resepte
Energieballetjies
Lewer ongeveer 25 balletjies
Dié balletjies is propvol geur en voedsaamheid – perfek vir kosblikke ook.
Bestanddele
50 rou amandels of 180 ml sonneblomsaad
375 ml (1½ k) rou hawermout
125 g dadels, grof gekap
½ medium appel in die skil, grof gerasper
5 ml (1 t) gemengde speserye of gemaalde kaneel
15 ml (1 e) goeie gehalte kakao
60 ml (¼ k) grondboontjiebotter (verkieslik met geen bygevoegde sout of suiker)
60 ml (¼ k) sterk afgekoelde Rooibostee
paar eetlepels fyn klapper om in te rol
Metode
- Plaas amandels of sonneblomsaad en hawermout in ’n voedselverwerker en meng tot ’n dit amper soos ’n growwe meelmengsel lyk.
- Voeg die res van die bestanddele, behalwe die klapper, by en meng saam tot dit soos koekiedeeg begin lyk.
- Rol balletjies van sowat 15 ml (‘n eetlepelvol) van die mengsel. Rol van die balletjies in klapper of selfs ekstra kakao, indien verkies. Verpak in ’n lugdigte houer en hou in die yskas vir 4 of 5 dae.
Glutenvrye peuselblokkies
Maak 16 blokkies
Bestanddele
500 ml (2 k) gewone rou hawermout
80 ml (80 g) sagte botter
80 ml (⅓ k) grondboontjiebotter (verkieslik met geen bygevoegde sout of suiker)
30 ml (2 e) sagte bruinsuiker
1 eier, geklits
5 ml (1 t) gemaalde kaneel
2,5 ml (½ t) gemaalde wonderpeper of nog kaneel
7,5 ml (½ e) vanieljegeursel
80 ml (⅓ k) rosyntjies of rooibosbessies (cranberries)
Metode
- Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer ’n klein bakplaatjie (ongeveer 18 x 18 cm) met bakpapier uit.
- Plaas helfte van die hawermout in ’n bak en meng met ’n stokmenger tot ’n meel.
- Klits die res van die bestanddele, behalwe die rosyntjies en hawermout saam. Klits die gemaalde en gewone hawermout by tot ’n deeg vorm. Roer die rosyntjies of bosbessies by.
- Druk die deeg in ’n eweredige laag in die bakplaatjie. Bak vir 15-20 minute tot goudbruin en gaar.
- Sny dit dadelik in blokkies terwyl dit nog warm is. Laat effens afkoel en plaas dan op ’n afkoelrakkie om heeltemal af te koel. Bêre in ’n lugdigte houer vir 3-5 dae.
Hierdie Peuselhappies was deel van ‘n kos-artikel in LiG Tydskrif, Herfs 2023.
Fotos: Adel Ferreira Photography.
Heleen ek is mal oor al jou resepte en idees
doen so voort
uitstekende gesondste eet goed groete en beste wense
Etnaxxxxxxxxxx
Sjoe. Hierdie lyk na besonder aantreklike lekkernye.
Dit lyk baie lekker en gesond.
Gaan jou praatjies en resepte mis op RSG
Heleen, kan ek die grondboontjiebotter in energieballetjies verander na cocunut olie? Ek eet nie grondbootjiebotter nie en die ander neute botter is te duur.
Dankie vir jou gesonde resepte.