Peuselhappies vir die hele gesin
Tuisgemaak is die beste
Almal het van tyd tot tyd lus vir ’n peuselhappie, maar dis ook dikwels een van die struikelblokke vir ’n gesonde leefstyl. As jy self iets voorberei, weet jy presies wat in die happies en jou kos is. Slim kombinasies van geure en teksture is genoeg om dit ekstra lekker te maak, sonder dat jy die oormatig baie sout en suiker wat dikwels in gekoopte happies wegkruip, sal mis.
Maklik, vinnig en gesond
Met ’n paar bekende en alledaagse bestanddele kan jy ’n smullekker verskeidenheid van happies moeiteloos voorberei. Onthou, dit wat jy op jou inkopielysie sit, is wat jy gaan eet, so hou dit gesond. Klik hier vir nog twee lekker idees vir kosblikke of as peuselhappies.
Piesang-&-blousessie-plaatkoekies
Lewer 14 plaatkoekies
Dié glutenvrye plaatkoekies kan blitsvinnig gemaak word en is net so lekker vir ontbyt of teen kampertempratuur, as alternatief vir ’n toebroodjie in ’n kosblik. Sit dit voor met natuurlike bestanddele en iets wat jou vir langer gaan volhou, nie net iets soets nie. Goeie keuses is grondboontjiebotter, kaneel, ongegeurde jogurt, ’n bietjie heuning, kaas of seisoensvrugte.
Bestanddele
500 ml (2 k) gewone rou hawermout
7,5 ml (½ e) bakpoeier
2 medium-grootte, ryp piesangs
2 eiers
fyngerasperde skil van een suurlemoen
45 ml (3 e) melk
100-125 ml vars of bevrore bloubessies
olie vir panbraai
Metode
- Plaas die hawermout in ’n mengbak en meng met ’n stokmenger tot ’n fyn meel. Voeg die bakpoeier by.
- Druk die piesangs met ’n vurk in ’n ander mengbak fyn. Klits die eiers en suurlemoenskil by. Roer die hawermoutmeel en melk by tot ’n deeg vorm en roer die bloubessies by.
- Verhit ’n groot braaipan oor matige hitte en skink ’n dun lagie olie op die bodem. Skep lepelsvol van die beslag in die pan. Braai tot effens gestol bo-op, draai versigtig om en braai tot goudbruin en gaar. Hou warm terwyl die res gebraai word.
- Sit dadelik warm met enige gesonde bolaag van jou keuse voor.
Wenk: die resep is die perfekte manier om iets met oorryp piesangs te maak.
Jaffels
Maak 4 jaffels
Dié geurige kombinasie van peer, ’n sterk kaas, mosterd en tiemie is heerlik vir dié wat ’n southappie verkies. Onthou om nie die hele jaffel as peuselhappie te eet nie, want dis amper ’n maaltyd op sy eie – maak ’n paar en deel met almal.
Bestanddele
sagte botter om die brood mee te smeer
8 snye bruin-of volkoringbrood
vars tiemieblaartjies of korrelmosterd na smaak
1-2 ryp pere in die skil, in dun skyfies gesny
250 ml (100 g) grofgerasperde beleë chedderkaas
Metode
- Smeer een kant van elke sny brood met botter. Sit die brood twee-twee saam, met die gebotterde kante op mekaar.
- Smeer ’n bietjie mosterd op vier van die ongebotterde snye en sprinkel met tiemie as jy dit verkies – die kombinasie is heerlik.
- Plaas ’n paar skyfies peer op die mosterdlaag. Verdeel die kaas tussen die snye en strooi oor die pere.
- Om die jaffels te maak: Lig die sny brood met die vulsel van die stapeltjie en plaas met die gebotterde kant in die jaffelpan. Sit die ander sny bo-op, sodat die gebotterde kant nou na buite wys – dan sit die jaffel nie vas nie.
- Maak die jaffelpan toe en sny enige korsies wat oorsteek af. Verhit die jaffelpan oor ’n gasvlam (of oor die kole as jy dit oor die naweek maak) en braai die eerste jaffel vir sowat 3-5 minute of tot die brood goudbruin is en die kaas gesmelt het. Onthou om die jaffelpan gereeld in die tyd te draai, sodat die broodjie eweredig rooster en nie brand nie.
- Neem in ag dat die pan al hoe warmer word, so werk versigtig dat jy nie brand nie. Die jaffels sal al hoe vinniger in die warm pan rooster – so hou dit dop.
- Haal die jaffel uit die en hou warm terwyl die res gemaak word. Of maak dit ’n gesellige manier van kuier en peusel solank aan die warm jaffels terwyl almal help om nog te maak.
Hierdie Peuselhappies was deel van ‘n kos-artikel in LiG Tydskrif, Herfs 2023.
Fotos: Adel Ferreira Photography.
Smaaklik! sou my Nederlandse vriende se. En ja, daardie jaffels gaan mooi in happie-porsies moet gesny word… miskien ook nie.
Baie dankie.
Waardeer al die resepte
Hannetjie Erasmus
Dit lyk heerlik, gaan beslis vir my kleinkinders plaatkoekies maak vir Saterdag ontbyt