Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Koue tamatiesop (Gazpacho)

Mar 19, 2021 | Light meals, Light vegetarian

Dié Spaanse-styl tamatiesop word koud voorgesit en is heerlik verfrissend op ’n warm dag. Dis perfek vir ’n ligte maaltyd of as voorgereg en smaak die volgende dag selfs nog lekkerder. Die sop is ook baie veelsydig, want dit kan soos hier onder, met suurroom of gewone jogurt en basiliekruidblare voorgesit word. Of geur dit met paprika of meer Tabasco vir ’n ekstra byt en sit met koljanderblare voor.

Heel, gekap of gegeur
Geblikte tamaties gee die sop ’n lekker gekonsentreerde tamatiesmaak en boonop is geblikte tamaties gesond, want daar is min of geen ekstra sout of ander preserveermiddels in. Heel, geskilde tamaties is redelik algemeen en gekapte tamaties is nou al hoe geredeliker beskikbaar.Enige een kan vir die sop gebruik word. Heelwat handelsmerke het ook ’n reeks tamaties wat reeds gegeur is, maar ek verkies die neutrale opsies, dan weet ek ook wat regtig in die blikkie is.

Praktiese wenke met geblikte tamaties:
1. Kook heel, geblikte tamaties in ’n warm gereg effens langer om die sous te verdik – dit het meer vloeistof as gekapte tamaties.
2. Geur ’n tamatiegereg met ’n eetlepel balsamiese asyn of suurlemoensap, soos in die sop, om die tamaties se suurderige smaak te balanseer. As dit regtig nodig is, kan ’n bietjie heuning of suiker bygeroer word, maar probeer gerus eers die suurlemoensap.
3. Snipper heel, geskilde tamaties sommer in die blikkie met ’n skoon, skerp kombuisskêr om ‘gekapte’ tamaties te hê. Dis vinnig en minder morsig as om dit op ’n snyplank te doen. 4. Dreineer eers die tamatievloeistof as jy regtig die heel tamaties moet sny. Sny dit op ’n bord, sodat die sous binne-in nie oral heen loop nie.
5. Spoel tamatieblikkies met ’n bietjie water, wyn of Rooibostee uit en roer dit by die gereg, dan gaan niks verlore nie.
6. Geblikte tamaties is baie gerieflik, maar hierdie sop kan ook met sowat 500 g vars tamaties voorberei word. Kies die rypste, vars tamaties terwyl dit in seisoen is – hoe ryper die tamaties, hoe geuriger. Los ’n paar ryp tamaties op die vensterbank in jou kombuis om nog verder ryp te word en maak dan die sop. Of roer nog tamatiesap of ’n klein bietjie tamatiepasta by die resep vir ’n meer gekonsentreerde smaak. Dis nie nodig om die tamaties eers te skil nie – verpulp dit net baie goed. Of as jy dit verkies, sny ’n klein kruisie in die stingel van elke tamatie, bedek tamaties met kookwater, laat vir ’n rukkie staan en skil dan af. Gebruik verder soos in die resep.

 

Koue tamatiesop (Gazpacho)
Koue tamatiesop (Gazpacho)
Resep
Koue tamatiesop (Gazpacho)

Resep aangepas uit The AMC Book
Lewer 6 – 8 porsies

Bestanddele

½ klein komkommer, in stukke gesny

1 selderystingel met blare, gekap

1 knoffelhuisie, gekneus

1 rooi soetrissie, ontpit en gekap

2 sprietuie, gekap

1 x 410 g-blik heel geskilde tamaties, grof gekap of gekapte tamaties

500 ml (2 k) tamatiesap

15 ml (1 e) balsamiese asyn

5 ml (1 t) Worcestershiresous

15 ml (1 e) olyfolie

15 ml (1 e) fyngerasperde suurlemoenskil

suurlemoensap, sout en peper na smaak

Tabascosous na smaak

ongegeurde jogurt of suurroom om mee voor te sit

basiliekruidblare en olyfolie om mee voor te sit

Metode

1. Plaas al die groente in ’n voedselverwerker of versapper en meng tot die groente heeltemal fyngekap is. Of meng dit met ’n stokmenger in ’n groot bak of beker.

2. Roer die tamatiesap en geurmiddels by en verkoel vir ’n paar uur of oornag. Of sit dadelik met ysblokkies of gebreekte ys in glase of bakkies voor. Verdun die sop met yswater indien verkies.

3. Geur na smaak, garneer met ’n teelepel jogurt of suurroom, vars basiliekruidblare en ‘n lekker draai swartpeper. ’n Skeut olyfolie is ook heerlik bo-op.

Wenke

1. Panbraai een groot garnaal per persoon, steek op ’n kebabstokkie en sit met die sop as spesiale voorgereg voor.

2. Nog bestanddele om dit mee voor te sit: klein repies geroosterde ciabatta of suurdeegbrood, olywe, fetakaasblokkies of gesnipperde grasuie of sprietuie.

3. As jy ’n liter-boks tamatiesap gekoop het, kan die orige tamatiesap vir ’n volgende keer se sop of ander ete baie suksesvol gevries word.

In Maart 2021 was hierdie deel van ’n artikel oor geblikte tamaties in LiG Tydskrif.
Fotos: Adel Ferreira Photography

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This