Botterskorsie-&-kekerertjieslaai
In die feestyd is dit altyd lekker om ’n resep of twee te hê wat moeiteloos is om voor te berei en op verskillende maniere voorgesit kan word. Almal wil lekker eet, maar nie noodwendig ure in die kombuis moet spandeer nie. Dié geurige geroosterde botterskorsie met kekerertjies en bone is ’n ideale resep vir die vakansie. ’n Mengsel van speserye word met ’n lekker olie gemeng en is die marinade waarin die botterskorsie gerooster word. Daarna word die botterskorsie met bone en kekerertjies gemeng en op ’n bed van klein spinasieblare met ’n sagte kaas gepak en is ewe lekker as slaai of ligte middagete. Dis selfs ideaal om as piekniek in te pak of as jy dalk wel nog ’n kosblik nodig het, is dit net so lekker. Na die feesdae se etes is daar dikwels oorskiet-vleis wat dalk net te min is om weer ’n volledige ete te wees, maar genoeg om ’n bord vol van hierdie slaai weer in ’n ‘nuwe’ ete te omskep. Beplan sommer om van die begin af ekstra botterskorsie te rooster, want dan is die volgende ete ook al halfpad klaar. Repies geroosterde lamsboud, varkvleis, ham of hoender sal alles heerlik wees saam met die botterskorsie. Groot etes is in die feesdae dikwels aan die orde van die dag, maar ek wil almal aanmoedig om kreatief te wees met dit wat oorbly en beslis nie kos weg te gooi nie.
Die slaai is ’n heerlike alternatief vir ’n bygereg wat nie net uit stysel bestaan nie en ’n maklike manier om ’n gebalanseerde ete voor te sit – iets wat in die feestyd steeds belangrik is. Die bone en kekerertjies in die slaai is beide ’n bron van stysel en proteïene, so na ’n dag van groot maaltye kan die slaai selfs as vegetariese (en heelwat ligter) middagete geniet word. Of dalk het jy vegetariërs aan jou feestafel, dan is hierdie ’n heerlike gereg wat vir almal geskik is. Mag die volgende paar weke vir jou en jou gesin ’n spesiale feestyd wees, met vele heerlike, gesonde etes aan jul tafel.
Resep aangepas uit Cooking from the heart 3
Lewer 6 porsies
5 ml (1 t) gemaalde koljander
5 ml (1 t) paprika
10 ml (2 t) gedroogde origanum
5 ml (1 t) gemaalde komyn
2,5 ml (½ t) kerriepoeier
45 ml (3 e) olyfolie
1,2 ml (¼ tsp) sout
30 ml (2 e) suurlemoensap
45 ml (3 e) water
500 g botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
swartpeper na smaak
1 x 410 g-blik kekerertjies, gedreineer
1 x 410g-blik borlotti- of enige ander bone, gedreineer
handvol dwerg spinasieblare of 2 handevol klein slaaiblare
100 g bokmelk- of fetakaas, grof gekrummel
2. Geur met swartpeper en skep uit op ’n groot bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is, of in ’n groot oondbak. Rooster vir 30 minute of tot botterskorsie net gaar is, maar nie pap nie.
3. Roer kekerertjies en bone by en laat afkoel. (Of as jy die botterskorsie die vorige dag al berei, laat dit eers afkoel en roer dan die res by.)
4. Pak die spinasie- of slaaiblare op ’n groot slaaibord en skep die botterskorsiemengsel bo-op. Krummel die kaas oor, giet die orige olie oor en sit met nog ‘n lekker draai swartpeper voor.
Wenke
1. Die kekerertjies en bone kan by die warm botterskorsie gemeng en nog ’n paar minute gerooster word, om as warm bygereg voor te sit. Los dan die spinasie- of slaaiblare uit en sit die kaas by net voor dit voorgesit word.
2. Sprinkel sonneblom- of pampoensade oor die slaai vir nog tekstuur.
3. Maak die slaai ’n ligte middagete en sit enige oorskiet-vleis daarby. Repies skaapvleis, gerookte vark of selfs geroosterde hoender sal heerlik wees.
dankie vir lekker resepte