‘Stiekie’ varknek-steaks

Resep
Daar is nie ‘n woord in Afrikaans, wat die Engels vir ’n ‘barbecue’-sous so goed omskryf nie. Maar moenie te veel daaroor bekommerd wees nie, maak net binnekort dié vingeraflek-lekker marinade! Dis perfek met varkvleis, maar sal ewe lekker op hoender, ribbetjies of steak wees. Sien die wenke hier onder vir meer detail en ook nog idees as steenvrugte nie meer in seisoen is nie.
Maak 300 ml marinade
Lewer 6-8 porsies
Bestanddele
15 ml (1 e) olyfolie
100 ml appelsap
60 ml (¼ k) goeie gehalte tamatiesous
1 x 50 g pakkie (50 ml) tamatiepasta
30 ml (2 e) fyngerasperde vars gemmer
45 ml (3 e) sojasous
30 ml (2 e) balsamiese of rooiwynasyn
10 ml (2 t) gemaalde koljander
10 ml (2 t) gewone paprika
45 ml (3 e) heuning
1,5 kg (omtrent 8-10 steaks) varknek-steaks, soos ribeye
Metode
- Plaas al die marinadebestanddele in ’n klein kastrolletjie en roer oor ’n matige temperatuur tot die heuning gesmelt het. Verlaag die hitte en prut sonder ’n deksel vir 10-15 minute tot die sous effens verdik het.
- Verf die marinade oor die varksteaks en pak die vleis in lae ’n marineerbak. Bedek en marineer vir 1 tot 2 ure in die yskas. Moenie enige sout op die vleis sit nie.
- Braai die steaks oor matige warm kole vir sowat 6-8 minute aan elke kant tot dit net gaar, maar steeds sappig is. Varkvleis moenie te droog gebraai word nie. Verf die vleis met van die orige marinde terwyl dit gebraai word. Onthou, die dikte van die steaks sal die gaarmaaktyd bepaal, so hou dit mooi dop.
- Geur die vleis met ’n klein bietjie sout en peper terwyl dit braai, maar onthou dat die marinade baie geurig is en soja- en tamatiesous in het, wat reeds heelwat sout bevat.
- Sit die steaks met gebraaide nektariens of perskes en slaaiblare en ’n stysel van jou keuse voor. (Sien wenk.) Die Kraakvars koolslaai op my webwerf sal ook heerlik wees saam met die varkvleis.
Wenke
- Halveer en ontpit 4-5 nektariens, perskes of pruime. Verf met ’n bietjie olyfolie en rooster oor warm kole tot net goudbruin. Sny klein koppies stewige slaaiblare, (soos cos, Romeinse of gem-slaaiblare) in kwarte en rooster vinnig oor warm kole (of in ’n riffelpan) tot net liggies geskroei. Sit met fyngesnyde sprietuie voor. Of as steenvrugte nie meer in seisoen is nie, sal dik skywe pynappel net so lekker wees om te braai.
- Stiekie-hoendervlerkies is ’n lekker voorgereg of as deel van ’n ete. Die hoender sal wel langer braai en kan ook teen 180 °C in die oond gerooster word. Volg die resep soos hier bo.
Foto deur Adel Ferriera vir LiG Tydskrif, Somer 2025
