Kraakvars koolslaai

Resep
Kraakvars koolslaai
’n Koolslaai is altyd ’n gewilde bygereg met enige braaivleis, maar dit hoef nie altyd met mayonnaise gemaak te word nie. Hierdie ‘varser’ weergawe gaan jy weer en weer wil maak. Die eenvoudige slaaisous met mosterd en kruie pas perfek by die verfrissende en kleurvolle bestanddele en sal veral lekker wees saam met die ‘Stiekie’ varknek-steakresep op my webwerf.
Lewer 4-6 porsies
Bestanddele
45 ml (3 e) olyfolie
20 ml (4 t) appel- of witwynasyn
7,5 ml (½ e) korrelmosterd
15 ml (1 e) elk gekapte vars Italiaanse pietersielie en kruisement
peper na smaak
375 ml (1½ k) fyngesnyde witkool
375 ml (1½ k) fyngesnyde rooikool of meer witkool
1 groot wortel, grofgerasper
1 appel in die skil, of ½ klein pynappel, in dun repies gesny
1 groot spinasieblaar, in growwe repe geskeur
60 ml (¼ k) sesamsaad, gerooster
15-20 ekstra kruisementblare
Metode
- Meng die olie, asyn, mosterd en kruie in ’n groot mengbak saam. Geur met peper.
- Meng alles saam, net voor die slaai voorgesit word. Roer al die kool, wortel, appel of pynappel en spinasie deur die slaaisous tot dit goed met die sous bedek is.
- Roer helfte van die sesamsaad met die ekstra kruisementblare deur. Sit dadelik met die orige sesamsaad voor. Die slaai is die heel lekkerste op die dag wat dit voorberei is.
Foto deur Adel Ferriera vir LiG Tydskrif, Somer 2025

Klink heerlik baie dankie xx