Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Japanese hoender-en-noedelsop (Ramen bowl)

Oct 3, 2025 | Mains, Meat

Resep

Japanese hoender-en-noedelsop (Ramen bowl)

Die geurige koesterkos kom oorspronklik uit China, maar die Japanese het dit gewild gemaak. Dis ’n smullekker ete, propvol geur en spesiale aromas. Niemand gaan skeef kyk as jy so bietjie moet slurp aan die noedels nie, dis immers hoe dit geëet word. Ramen is deesdae ’n baie gewilde gereg op restaurantspyskaarte, so ek deel graag my resep. Verskillende ramenresepte het ‘n variasie van bestanddele wat bygevoeg kan word. Gewilde opsies is hoender, vark of eiers as protein. Sampioene, tofu of jong ertjies is ook baie tipies. Die geheim van ’n goeie ramenresep lê wel in die kookvloeistof of aftreksel (broth). In die resep is die kombinasie van sojasous en gemmer regtig lekker. Hoe geuriger die vloeistof is, is hoe lekkerder is die eindresultaat. 

Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele

20 ml (4 t) olie

3 hoenderborsies aan die been, gehalveer

2-3 sprietuie, gekap

2 knoffelhuisies, fyngedruk

1-2 rooi brandrissies, ontpit en fyngekap

1,25 liter (5 k) water

500 ml (2 k) hoender- of groenteaftreksel

45 ml (3 e) sojasous, of meer na smaak

6 dik skyfies vars gemmer

250 g sampioene, gehalveer of in kwarte gesny

100-150 g rou ramen-noedels, of eier- of rysnoedels (sien wenk)

100 g heel klein mielietjies, of enige ander delikate groente, soos groenboontjies of plat-ertjiepeule

100 g-150 g broccoli, in kleiner blommetjies geny, of 1-2 pak choi (bok choi), gehalveer (opsioneel) of ’n kombinasie van broccoli en plat-ertjiepeule

2-3 groot handevol baba spinasie of 2 groot spinasieblare, grof geskeur

fyngerasperde skil en sap van 2 lemmetjies

sout en swartpeper na smaak

4-6 eiers, volgens voorkeur gekook (opsioneel)

handvol vars koljanderblare en lemmetjiewiggies om mee voor te sit

Metode

  1. Verhit ’n groot braaipan, wok of diep kastrol oor ’n matige temperatuur. Skink helfte van die olie in die pan en braai die hoender vir ’n paar minute aan beide kante tot goudbruin, maar nog nie gaar nie. Skep die hoender uit en hou eenkant.
  2. Voeg die sprietuie, knoffel en brandrissie by en soteer vir ’n paar minute tot dit aromaties is.
  3. Roer die water, aftreksel, sojasous, gemmer en sampioene by. Bring die mengsel tot kookpunt en verlaag dan die hitte. Skep die hoender terug in die vloeistof en prut vir ongeveer 20-25 minute of tot dit net gaar is.
  4. Skep die hoender uit en laat dit effens afkoel. Ontbeen en ontvel die hoender en pluis die vleis in kleiner stukkies. Hou eenkant.
  5. Roer die noedels, mielietjies en broccoli by die vloeistof en prut liggies tot die noedels en broccoli net gaar is. Gebruik die aanwysings op die noedelverpakking vir die kooktyd. As dit meer as 5-7 minute moet kook, moet die broccoli eers in die laaste 5 minute bygeroer word.
  6. Roer die hoender en spinasie by en laat die spinasie net sag word in die warm sop, maar dit moet steeds heldergroen wees. Geur die sop met lemmetjieskil en -sap, sout en pepper – maar proe eers, want sojaous is baie sout.
  7. Sit die noedelsop dadelik met die gekookte eiers, vars koljanderblare en lemmetjiewiggies voor.

Wenk

  1. Vervang die noedels met spaghetti of linguine, maar dit sal heelwat langer kook – volg die instruksies op die verpakking. Vul die vloeistof aan soos nodig en geur met nog suurlemoen, sojasous en gemmer, soos nodig.

Foto deur Adel Ferreira vir LiG Tydskrif, Winter 2025.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This