Hutspot met tuna en groente
Resep
Hutspot met tuna en groente
Tuna is so veelsydig en hierdie vinnige eenpotgereg is propvol wintergeure en perfek om uit ’n bakkie te eet. Daar is genoeg stysel in die gereg, so sit dit net so voor.
Lewer 4 porsies
30 ml (2 e) fyn gedroogde klapper
200 ml melk
15 ml (1 e) olyfolie
2 uie, gekap
3 wortels, in diagonale skywe gesny
20 ml (4 t) kerriepoeier of meer na smaak
20 ml (4 t) gemaalde komyn
10 ml (2 t) gewone paprika
300 g botterskorsie, geskil en in klein blokkies gesny
150 g blomkool, met stingels in groterige blommetjies gesny
375 ml (1½ k) Rooibos of water
1 klein rooi brandrissie, heel (opsioneel)
2 x 175 g blikkies tuna in soutwater, met die vloeistof
sap en fyngerasperde suurlemoenskil van 1 medium suurlemoen
swartpeper na smaak
2-3 spinasieblare, in repe gesny
30 ml (2 e) elk gekapte koljanderblare en Italiaanse pietersielie
- Meng die klapper en die melk in ’n beker en laat week om die melk ’n klappergeur te gee.
- Verhit intussen die olie oor matige hitte in ’n groot kastrol of braaipan. Soteer die uie en wortels vir ’n paar minute. Roer die speserye by en soteer tot aromaties.
- Roer die botterskorsie en blomkool by. Verlaag die hitte en roer die Rooibos of water en die brandrissie (indien gebruik) by.
- Prut vir 15 minutes met die deksel of tot die groente net gaar, maar nie pap is nie.
- Roer die tuna, met die vloeistof van die blikkies, en die klapper-melkmengsel by. Prut vir nog 5-8 minute of tot alles deurwarm is. Geur na smaak met suurlemoen en peper. Roer die spinasie en kruie by.
- Sit die gereg in bakkies voor. Skyfies avokado sal heerlik wees hierby.
Hierdie Hutspot met tuna en groente was deel van ‘n kos-artikel in LiG Tydskrif, Winter 2024.
Foto: Adel Ferreira Photography.