Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Braaibroodjies met gekaramelliseerde uie

Sep 22, 2023 | Light meals, Sides & salads, Starchy side

Braaibroodjies is so eg Suid-Afrikaans as kan kom. Maar elkeen het hul manier van braaibroodjies maak, voorkeure oor die regte soort brood om te gebruik en vereistes van dit waaruit die perfekte braaibroodjie bestaan.

Die Braaibroodjie-debat
Het jy al om ‘n tafel hieroor probeer gesels? Waar word die botter gesmeer. Wat is die beste kaas om te gebruik of mag daar ‘n sous soos blatjang of mayo opgesmeer word. Ek het groot geword met hoekies van die ‘rou’ broodjies wat afgesny word om na die tyd te weet watter broodjies is net kaas en tamatie of watter het dalk uie by. Een hoekie af, was die teken vir een tipe vulsel, twee hoekies afgesny was dalk vir die broodjies met uie, ens. Hoe sorg julle dat elkeen hul voorkeur-vulsel kry?

Wat is jou gunstelingbestanddeel vir ’n braaibroodjie? My antwoord is ALTYD: gekaramelliseerde uie! As jy dit nog nie voorheen probeer het nie, is hierdie resep vir jou. As jy dit een keer daarop geëet het, is gewone uie vir altyd van die baan.

Resep

Braaibroodjies met gekaramelliseerde uie

Resep aangepas uit Maak vyf/Make five

Bestanddele

Gekaramelliseerde uie (lewer ongeveer 500 ml)

30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie

4 groot uie, gehalveer en in dun skyfies gesny

10 ml (2 t) gedroogde tiemie of 5 ml (1 t) komynsaad

45 ml (3 e) sagte bruinsuiker

45 ml (3 e) balsamiese asyn

sout en peper

45 ml (3 e) vars tiemieblare

 

Braaibroodjies (genoeg vir 8 – 10 braaibroodjies)

botter om op broodjies te smeer

16-20 snye volgraanbrood of brood van jou keuse (bak my Heuning & hawermoutbrood om dit ekstra lekker te maak)

60 ml (¼ k) pesto van jou keuse (opsioneel)

3-5 ryp tamaties, in skyfies gesny

250-350 g (1-1½ k) gerasperde wit cheddarkaas of 1-2 camembertkase, in skyfies gesny

 

Metode

  1. Uie: Verhit die olie oor matige hitte in ’n braaipan en soteer die uie stadig met die tiemie (of komynsaad) tot amper sag.
  2. Voeg die suiker en asyn by en soteer die uie nog 10-15 minute tot heeltemal sag en gekaramelliseer. Geur na smaak. Roer die vars tiemie by.
  3. Braaibroodjies: Smeer brood met die botter. Smeer van die pesto op elke tweede sny brood, as jy dit gebruik. Pak skyfies tamatie op die snye brood met die pesto, skep lepelsvol uie bo-op en verdeel die kaas tussen die broodjies.
  4. Maak die broodjies toe en braai oor matige kole tot goudbruin en die kaas gesmelt is.

Wenke

  1. Enige ekstra gekaramelliseerde uie kan in ’n gesteriliseerde glasfles in die yskas gehou word. Skink ’n dun lagie olyfolie oor om dit te seël en langer te laat hou. Die uie sal vir 2-3 weke in die yskas hou.
  2. Die uie is heerlik in ’n slaai, op burgers of in ’n eiergereg.
error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This