Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Heuning-&-hawermoutbrood

Jun 22, 2018 | Baking, Extras

Hawermout is een van daardie veelsydige bestanddele wat definitief nie net as ontbytpap gebruik hoef te word nie. In dié broodresep gee die kombinasie van steengemaalde meel, hawermout, karringmelk en ’n skeut heuning ’n wonderlike tekstuur en geur. En as jy dit kan regkry om iets oor te los vir die volgende dag, is die roosterbrood wat jy daarmee kan maak, absoluut heerlik!

Tuisgebakte brood is nie net ’n lekker bederf nie, maar ook ’n heelwat gesonder opsie, want jy weet wat alles in die brood gebruik word. Winkelbrood voel dalk gerieflik, maar dit is dikwels van meer verfynde meel gemaak en hoog in bygevoegde sout of suiker. Sulke brood is dikwels minder vullend en voedsaam as ’n tuisgebakte brood. Die rysmiddel in die resep is bakpoeier, so dis nie nodig om iets te knie nie. As jy dalk skrikkerig is om ’n gisbrood te bak, is hierdie ’n maklike alternatief. Met ’n tuisgebakte brood kan jy selfs kleiner brode bak, om porsiebeheer makliker te maak.

Die brood is perfek om vir toebroodjies te gebruik en in ’n kosblik of vir padkos in te pak. Kies bestanddele vir ’n vulsel wat die broodjies selfs nog voedsamer maak. Vars bestanddele is ’n goeie begin en ’n proteïen soos oorskiet-vleis, vis of kaas is ideaal. Selfs biltong is heerlik, maar kies wel klam biltong wat nie te sout of vetterig is nie. Al hierdie wenke geld ook vir ander peuselhappies, hetsy in ’n kosblik of as dit dalk vir padkos nodig is. Die keuses vir gesonde en gebalanseerde eetgewoontes, is ewe toepaslik vir wanneer jy aan iets wil knibbel.

Resep
Heuning-en-hawermoutbrood

Resep uit Maak vyf/ Make five
Lewer 1 brood

Bestanddele

625 ml (2 ½ k) gewone broodmeel of steengemaalde witbroodmeel

250 ml (1 k) rou hawermout

15 ml (1 e) bakpoeier

’n knippie sout

45 ml (3 e) heuning

1 eier

500 ml (2 k) karringmelk

30 ml (2 e) geroosterde hawermout (sien wenk)

Metode
  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer ’n 1,5 liter-broodpan (of twee kleiner broodpanne) met bakpapier uit en smeer deeglik met botter.
  2. Meng die droë bestanddele saam in ’n groot mengbak.
  3. Klits heuning en eier goed saam en voeg met die karringmelk by die droë bestanddele. Roer tot goed gemeng, maar moenie nie te veel meng nie.
  4. Skep in pan (of panne) en smeer die deeg met ’n houtlepel of spatel in die middel plat. Dit voorkom dat die brood met ’n hoë punt rys. Strooi geroosterde hawermout oor en druk liggies vas.
  5. Bak die groot brood vir 50-60 minute en 40-45 min vir ’n kleiner brood, of tot ’n toetspen skoon uitkom. Laat staan vir 1-2 minute in die pan. Keer op ’n afkoelrakkie uit en laat effens afkoel voor die eerste sny gesny word.
  6. Geniet ’n warm snytjie uit die oond met ’n smeersel botter.
Wenke
  1. Rooster die hawermout sodra die oond verhit is. Plaas dit op ’n bakplaat en rooster vir 5-10 minute of tot ligbruin.
  2. As daar enige iets van die brood oorbly, maak dit heerlike roosterbrood.

 

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This