Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Pangebraaide groente met eier

Oct 14, 2022 | Light meals, Light vegetarian

Voedsaam, veelsydig & vegetaries
Een ding is seker – vegetariese etes is beslis nie net ’n vaal en vervelige bord vol boontjies of lensies nie. Maak dié kleurvolle en geurige gereg vir ’n heerlike ete.

Etes sonder vleis is nie net vir mense wat verkies om vegetariërs te wees, bedoel nie. Dit hou vir ons almal baie voordele in om van tyt tot tyd die vleis op ons borde met ‘n vegetariese opsie te verruil. Om so te eet, is inderdaad deel van ’n gesonde en gebalanseerde leefstyl.

Perfek vir vegetariese etes
Vegetariese bronne van proteïen sluit bestanddele soos eiers, lensies, bone, kekerertjies, neute, sade, sojaprodukte en suiwel in. Maak ’n wye verskeidenheid vars groente en vrugte deel van jul vegetariese etes om dit kleurvol en interessant te hou. Gebruik verkieslik natuurlike geurmiddels soos vars kruie, speserye, knoffel, gemmer, brandrissies en suurlemoen.

Probeer gerus om ten minste een vegetariese ete per week te eet – dis ‘n heerlike afwisseling en die moeite werd.

Resep

Pangebraaide groente met eier

Lewer 4 porsies
Resep aangepas uit Maak vyf/Make five

Soteer groente soos sampioene, boontjies, murgpampoentjies en ertjies is blitsvinnig in ’n pan en geur dit met korrelmosterd en kruisement vir ’n spesiale ete. Die eier maak dit lekker vullend en dis ’n ete wat perfek is vir enige tyd van die dag.

Bestanddele

30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie

10 ml (2 t) korrelmosterd

10 ml (2 t) appelasyn of suurlemoensap

sout en peper

250 g bruin of knopiesampioene, in skywe gesny

3 groot murgpampoentjies, met ’n aartappelskiller in linte gesny

100 g dun groenboontjies, diagonaal gehalveer

125 ml (½ k) bevrore ertjies, afgespoel

60 ml (¼ k) grofgeskeurde vars kruisement

4-6 eiers, gebak, gekook of geposjeer

pecorinokaas, grof gerasper om mee voor te sit

suurlemoenwiggies om mee voor te sit

Metode

  1. Meng 20 ml (4 t) van die olie met die mosterd en asyn of suurlemoensap en geur na smaak. Hou eenkant.
  2. Verhit die res van die olie oor matige hitte in ’n groot braaipan. Soteer die sampioene tot geurig, maar nie pap nie en skep uit. Soteer die murgpampoentjies in dieselfde pan tot net sag – hou dop, dis ’n vinnige proses.
  3. Voeg die boontjies by en braai vir nog ’n paar minute.
  4. Roer die sampioene, ertjies en sous by en geur na smaak. Roer die kruisement by en sit dadelik met die eiers, na jul smaak gaargemaak, en die kaas en suurlemoenwiggies voor.

Hierdie Pangebraaide groente met eier was deel van ‘n kos-artikel in LiG Tydskrif, Lente 2022.
Foto Adel Ferreira Photography.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This