Bierbrood met kaas & kruie

Dit is een van die maklikste maniere om warm brood op die tafel te hê. Jy kan die geurmiddels maklik varieer om by jou smaak en voorkeur te pas. Dis ’n heerlike bygereg met braaivleis.
Resep
Bierbrood met kaas en kruie
Resep aangepas uit Onthoukos/Food from the heart
Lewer 1 brood
Bestanddele
450 ml (250 g) bruismeel (of gewone koekmeel met nog 7,5 ml bakpoeier)
450 ml (250 g) witbroodmeel (verkieslik steengemaalde meel)
7,5 ml (1½ t) bakpoeier
‘n knippie sout
250 ml (100 g) gerasperde beleë cheddarkaas
1 x 330 ml-bottel bier of appelbier
90 ml (6 e) water
30-45 ml (2-3 e) vars tiemieblaartjies
6-8 gemarineerde songedroogde tamaties, in repies gesny
15-30 ml (1-2 e) sonneblom-, papawer- of sesamsaad of ’n mengsel hiervan
Metode
- Voorverhit oond tot 200 ˚C. Voer en smeer ’n 1,5 liter broodpan of ander interessante houers, bv leë blikkies van verskillende vorms en groottes of individuele broodpannetjies deeglik met botter.
- Sif mele, bakpoeier en sout saam in ’n groot mengbak. Roer kaas by en meng res van bestanddele, behalwe saadjies, in ’n aparte bak saam. Roer vloeistof by droë mengsel in en roer net tot al die bestanddele deur gemeng is. Voeg nog 2-3 eetlepels water by as die deeg te styf is.
- Skep in voorbereide pan of houers en sprinkel saadjies oor. Druk saadjies liggies vas en bak brood sowat 50-60 minute of 20-30 minute vir kleiner broodjies of tot ’n toetspen net skoon uitkom.
- Laat broodjies vir net so 2-3 minute in pannetjies staan. Keer dan dadelik, maar versigtig uit. Sit warm saam met braaivleis of gebraaide wors met sagte botter voor.
Wenke
- Vervang songedroogde tamaties met 125 g spek, gebraai en gekap of 125 ml fyn biltong of met 60-90 ml pesto en die cheddar- met pecorinokaas. Onthou dat die brood dan redelik sout sal wees.
- Dit maak heerlike roosterbrood die volgende dag – bygesê, ás daar iets oor is.
Die bierbrood was baie lekker. Niks het oorgebly vir roosterbrood nie. Ek maak dit beslis weer.
Baie dankie vir die resep
Hanna
Dankie vir die lekker terugvoer, Hanna. Dit is nogal ‘n probleem ja, ons hou ook selde iets oor vir roosterbrood!