Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Tuisgemaakte mayonnaise

Jan 29, 2021 | Extras, Sauces

Mayonnaise
As jy eers ’n lekker tuisgemaakte mayonnaise geproe het, is daar min wat daarby kan kers vashou. As jy dit nog nooit voorheen gemaak of geproe het nie, is dit nou jou kans. En dis maklik om te maak – volg net die metode stapsgewys. Die belangrikste ding van ’n mayonnaise is dat die eiergele, asyn of suurlemoensap en olie ’n gladde emulsie moet vorm, sodat dit nie weer skei nie. En wanneer die basiese mayonnaise gemaak is, kan ’n hele paar ander geurmiddels bygeroer word om ’n nuwe geurkombinasie te skep. In die resep word mosterd en kaas bygeroer, maar vars kruie soos dille, tiemie of Italiaanse pietersielie sal ook heerlik wees. ’n Tuisgemaakte weergawe is ook gesond, want dis is letterlik net die paar bestanddele wat saam gemeng word. Met gekoopte weergawes is jy nooit seker wat presies daarin is nie en die smaak is beslis nie so spesiaal nie.

Hoe kan ek dit nog gebruik?
Het jy dit al met oondgeroosterde aartappel- of patatwiggies geproe? Absoluut heerlik! Wees kreatief, mayonnaise is beslis vir meer as net toebroodjies of aartappelslaai bedoel. Dis heerlik met hoender, soos ’n Keiserslaai of gebruik dit as doopsous met groenterepies en koue vleis. Smeer dit op ’n burger of as deel van ’n wrap.

Probeer gerus enige van hierdie resepte met die mayonnaise: Aartappelslaai met kruie, Geroosterde patat & appel met avo & mayo of die Klein lensieburgers.

Resepte
Basiese mayonnaise
Lewer sowat 200 ml
Bestanddele

2 eiergele (sien wenke)

5 ml (1 t) Dijon mosterd

10 ml (2 t) appel- of witwynasyn

10 ml (2 t) suurlemoensap

100 ml olyf- of avokado-olie

5 ml (1 t) fyngerasperde suurlemoenskil

sout en peper na smaak

Metode

1. Plaas die eiergele, mosterd, asyn en suurlemoensap in ’n mengbeker en meng deeglik met ’n stokmenger. Of klits met ’n draadklitser.

2. Skink die olie geleidelik by, terwyl die mengsel heeltyd geklits word. Maak elke keer seker dat die olie alles ingemeng is, voor nog bygevoeg word. Meng tot ’n dik, gladde mayonnaise.

3. Geur na smaak met die suurlemoenskil, sout en peper.

4. Skep die mayonnaise in ’n skoon glasflessie en hou vir tot ’n week in die yskas.

 

Mayonnaise met pecorino
Lewer sowat 200 ml
Metode

Berei die Basiese mayonnaise en roer die volgende by:

5 ml (1 t) korrelmosterd

45 ml (3 e) suurroom of ongegeurde jogurt

30 ml (2 e) fyngerasperde pecorinokaas

Dis ’n effens loperiger mayonnaise en heerlik om net so as slaaisous oor enige slaai te skink.

Wenke

1. Eierwitte vries uitstekend en is ideaal om later meringues mee te bak.

2. Onthou, die kleur van die eiergeel sal die mayonnaise se kleur bepaal. Vryloop-hoenders se eiers is dikwels heelwat geler.   ​

In Oktober 2020 was hierdie deel van ’n artikel oor slaaisouse in LiG Tydskrif.
Foto: Adel Ferreira Photography

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This