Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Pavlova met suurlemoensmeer

Nov 16, 2017 | Baking, Desserts, sweet treats & baking, Fruit

Aarbeie, appelliefies, bloubessies en frambose… die mooi kleure is al genoeg om ’n feestelike atmosfeer te skep. Laat dit jou dié somer inspireer om kreatief te wees met hierdie gesonde vruggies.

Ek het dié meringue as ‘verjaarsdagkoek’ vir LiG-tydskrif se 80ste verjaarsdag-uitgawe gemaak. Dié maklike meringue het ’n sagte tekstuur binne-in en is perfek met ‘n suurlemoenvulsel en vars bessies. Die meringue gebruik vier eierwitte en om by my filosofie van ’n ligter leefstyl te pas, vermors ons niks nie, so die eiergele word vir die suurlemoensmeer benut. Meng dit met Griekse jogurt vir ’n hemelse vulsel. Dié pavlova is perfek vir enige feesviering – rond dit af met ’n verskeidenheid vars bessies en eetbare blomme. In die LiG-artikel is daar nog ’n paar maklike idees en wenke met bessies.

Resep
Pavlova met suurlemoensmeer
Resep aangepas uit Maak vyf/Make five
Lewer 8 porsies

Nagereg uit die boonste rakke! Om ’n pavlova te maak skrik die meeste mense af – hierdie resep is egter maklik en jy hoef nie ’n perfekte pavlova te bak nie.

Bestanddele
Pavlova

4 ekstragroot eierwitte, teen kamertemperatuur

250 ml (1 k) strooisuiker

5 ml (1 t) vanieljegeursel

5 ml (1 t) fyngerasperde suurlemoenskil

10 ml (2 t) suurlemoensap

 

Suurlemoensmeer-vulsel

4 eiergele

100 ml strooisuiker

125 ml (½ k) suurlemoensap, deur ’n sif gedreineer

100 ml koue botter, in blokkies gesny

15 ml (1 e) fyngerasperde suurlemoenskil

250 ml (1 k) Griekse jogurt

300 g bessies van jou keuse, soos bloubessies, frambose en aarbeie

vars kruisementblare en eetbareblomme

Metode
1. Pavlova: Voorverhit intussen die oond tot 130 °C en voer ’n groot bakplaat met bakpapier uit. Smeer ’n bietjie olie liggies in ’n groot sirkel op die papier.

2. Giet die eierwitte, strooisuiker, vanieljegeursel, suurlemoenskil en -sap in ’n groot glasbak. Klits met ’n elektriese klitser vir ongeveer 10 minute of tot stywe punte vorm. Die eiers moet lig en donsig word en die tekstuur van malvalekkers hê. Moenie te ver klits nie, dit sal droog word.

3. Skep die mengsel op die bakplaat en smeer liggies in ’n 20-24 cm-sirkel. Dit hoef nie perfek rond te wees nie.

4. Bak vir 1 uur of tot net goudbruin en gestol. Skakel die oond af, maak dit effens oop en laat die pavlova heeltemal in die oond afkoel.

5. Suurlemoensmeer-vulsel: Plaas intussen al die bestanddele, behalwe die jogurt, bessies, kruisement en blomme, in ’n glasbak. Sit die glasbak oor ’n kastrol met liggies pruttende water, sonder dat die bak aan die water raak. Klits die bestanddele met ’n draadklitser saam tot glad en die botter gesmelt is.

6. Hou aan klits vir 5-10 minute of tot die mengsel die agterkant van ’n metaallepel egalig bedek. Die mengsel moenie kook nie. Haal die bak van die stoof af en skep in ’n bakkie om af te koel.

7. Om die pavlova te vul: Meng die koue suurlemoensmeer met die jogurt en skep lepelsvol van die mengsel op die pavlova. Rangskik die bessies, kruisementblare en blomme bo-op en sit dadelik voor.

Wenke
1. Om eierwitte styf te klits: Maak seker dat die mengbak baie skoon en droog is. Enige vetterigheid sal verhoed dat die eiers styf klits. Gebruik ’n glas- of vlekvryestaalmengbak in plaas van ’n plastiek een. Maak ook seker dat die klitser heeltemal skoon en droog is.

2. Jy kan ook klein meringues bak, om saam met die bessies op die pavlova te sit. Maak die pavlova dan 20 cm in deursnee sodat daar mengsel oorbly vir die kleintjies.

3. Enige ander vrugte van jou keuse kan gebruik word – selfs vye, granaatpitte en druiwe. Nektariens is ook heerlik saam met bessies.

4. Eiers teen kamertemperatuur tot ’n beter volume styf as eiers wat direk uit die yskas kom. Eierwitte wat gevries was, klits maklik tot ’n hoë volume.

5. Die suurlemoensmeer sal vir 2-3 weke in die yskas, in ’n steriliseerde glasfles, hou.

6. Versier die pavlova vir ’n feesgeleentheid met ’n stel lint-vlaggies wat aan twee kebabstokkies vasgemaak is. Druk dit in die pavlova soos op die foto.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This