Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Geroosterde patat & appel met avo & mayo

Jun 29, 2018 | Kosblik 101 / Lunch boxes, Light meals, Light vegetarian

Kosblik 101

Bakkies met winterkos is op vandag se spyskaart en propvol geur. Vars gemmer, suurlemoen, brandrissie en knoffel is die ideal kombinasie vir ’n smullekker winterete. Dié geurmiddels is heerlik saam met ’n wye verskeidenheid bestanddele en pas ewe goed by die natuurlike soet smaak van patats en appels om ’n goeie balans van geure te gee. Verder is die vier geurmiddels ook bekend vir hul natuurlike gesondheids-eienskappe, so selfs nog meer geskik vir ’n voedsame wintersete.

Vegetariese etes is beslis nie net die slaai of groente op die tafel nie. Wanneer iemand verkies om nie vleis te eet nie, moet hul etes beslis steeds gebalanseerd wees. ’n Goeie bron van proteïen is nog altyd belangrik, veselryke en verkieslik onverfynde stysel, gesonde olies en vars groente en vrugte. Dit is dikwels vullende, maar nie swaar etes nie en juis die rede waarom baie mense dit so geniet. Dis raadsaam om ten minste een keer ’n week vegetaries te eet, as jy wel vleis eet. Dit voorsien jou van voedingswaarde uit ’n groter verskeidenheid bronne en boonop is dit ’n ‘groener’ manier van leef, as jy nie elke dag vleis eet nie. Met die regte geurmiddels, bestanddele en gaarmaakmetodes kan vleislose etes baie lekker koesterkos wees.

Hierdie resep kan ’n volledige vegetariese ete of selfs ’n bygereg met vark of hoender wees – altwee tipes vleis wat by die soeter smake van die patats en appels en skerper smake van die geurmiddels pas. Oorspronklik is die resep as deel van die derde resepteboek van Pharma Dynamics, se Cooking from the heart reeks  ontwikkel. Die fokus was om te wys dat daar baie alternatiewe vir ‘wit stysel’, soos bv. rys is. Aanvanklik is heel patats met die marinade gerooster en nou word dit op ’n nuwe manier aangewend vir ’n heerlike ete. Dis ’n goeie voorbeeld van die beginsels vir ’n gesonde leefstyl wat ook ’n belangrike deel van die resepteboeke is, nie net in die vorm van resepte nie, maar ook al die ander praktiese wenke daarin.

Iets waaroor daar baie in die boeke gesels word, is maniere om elke dag vars vrugte en groente deel te maak van jul etes. In die somer is dit makliker, met soveel opsies om van te kies en ook slaaie om op ’n warm dag te geniet. Vrugte en groente is beslis lekkerder wanneer dit in seisoen geëet word en dis verseker ook waar as dit by Pink Lady® appels kom. Dié mooi rooi appels is nou in seisoen en het ’n wonderlike soet geur wat ewe lekker is as ’n vars peuselhappie of in geregte. Die appel behou ook sy struktuur, al word dit gaargemaak, wat perfek is vir ’n resep soos die een hier onder. En as so ’n vars vrug deel kan wees van jul etes, is daar reeds meer voedingswaarde in die maaltyd.

Pink Lady® appels is bekend as die room van die oes, want daar word baie moeite gedoen om net die mooiste appels as ’n Pink Lady® te klassifiseer. Die appels word tipies langer aan die bome gelos, juis sodat dit ekstra soet kan word en word met baie liefde en aandag gepluk en verder hanteer. Kyk gerus in jou supermark uit daarvoor.

Vleis, hoender en vis is bekende bronne van proteïen, maar as mense vegetaries is of net soms so wil eet, is daar wonderlike ander bronne van proteïen. Eier is ’n voedsame en veelsydige bron van proteïen wat maklik is om gaar te maak. Vir In&UitKosblik het ons dit al op baie verskillende maniere gebruik en vandag maak ek ’n tuisgemaakte mayonnaise met twee van Nulaid se ekstra-groot eiers. Onthou dat mens net die eiergeel vir mayonnaise gebruik, omdat die meeste van die gesonde vette, wat vir mayonnaise die emulsie met olie moet vorm, in die eiergeel is. Maar moenie die eierwitte weggooi nie, dit vries uitstekend en kan vir baie ander geregte gebruik word. (Sien die wenk onderaan die resep.) Tuisgemaakte mayonnaise is aansienlik gesonder as meeste gekoopte weergawes, want daar is geen onnatuurlike geurmiddels of preserveermiddels ter sprake nie. Ekstra-groot eiers gaan ook help om vinniger ’n emulsie (verbinding) met die olie te vorm, so gebruik dit verkieslik vir die resep.

Nog ’n manier om proteïene en gesonde vette in die ete in te sluit, is om van nog ’n seisoenale produk gebruik te maak – avokado. Dié vrugte is bekend daarvoor dat dit ’n uitstekende bron van omega-olies is en deesdae kan jy met ’n geruste hart ’n halwe-avokado op ’n dag in jou etes insluit. Dit is dus perfek saam met die ander bestanddele in die resep en verleen ’n natuurlike romerige smaak saam met die mayo. Avokado is een van daardie kosse wat by soveel ander bestanddele pas en dit regtig veelsydig maak

Weet jy hoe om te bepaal of ’n groen (dun) skil avokado en ’n donker (dik en growwer) skil Hass-variëteit avokado ryp is? Onthou dat dit veral met die kleur van die vrug te doen het. Die groen skil avo bly groen en jy kan voel dat dit sagter word. Avokado’s met ’n growwe skil, begin as ’n groen avokado en soos dit ryp word, verkleur die skil tot dit heeltemal donker is. Dis moeilik om deur die dikker skil te voel of die vrug regtig ryp is, so gebruik liewer die kleur en tekstuur van die skil as riglyn. Nog ’n manier om te bepaal of enige van die soorte avokado’s ryp is, is om liggies aan die boonste stingel van die vrug te trek. Dit behoort maklik uit te kom en die avo se vleis behoort heldergroen te wees. As dit swart of donker onder die stingel is, is die kans groot dat die avokado reeds binne-in begin verkleur.

Nog wenke wat SAAGA (South African Avocado Growers’ Association) met ons gedeel het, is dat dit die beste is om ’n paar onryp avokado’s in die yskas te hou. Haal elke dag ’n vrug of twee uit om geleidelik ryp te word en sit dit terug in die yskas sodra dit ryp is, as jy dit dalk nie dadelik gaan eet nie.

Resep

Geroosterde patat & appels met avo & tuisgemaakte mayo

Resep aangepas uit Cooking from the heart 3
Lewer 6 porsies

Bestanddele

Patat en appels

20 ml (4 t) avokado- of olyfolie

60 ml (¼ k) suurlemoensap

30 ml (2 e) water

20 ml (4 t) fyngerasperde vars gemmer

1 klein rooi brandrissie, ontpit en fyn gekap

1 knoffelhuisie, gekneus

6-8 klein patats met die skil, in dik diagonale skywe gesny

2 uie, in wiggies gesny

2 Pink Lady® appels, met die skil in dik wiggies gesny en dan gehalveer

baba-spinasieblare

vars koljanderblare

2-3 avokado’s, gehalveer en oor die breedte in skywe gesny

 

Tuisgemaakte mayonnaise

2 ekstra-groot Nulaid eiergele (sien wenk)

5 ml (1 t) Dijon-mosterd

10 ml (2 t) witwyn- of appelasyn

100 ml avokado- of olyfolie

suurlemoensap, sout en peper na smaak

 

Metode

1. Patats en appels: Voorverhit die oond tot 180 ˚C.

2. Meng die olie, suurlemoensap, water, gemmer, brandrissie en knoffel in ’n groot mengbak. Voeg patat en uie by en meng goed deur.

3. Skep patats en uie in ’n oondbak. Plaas die appelwiggies in die orige oliemengsel en hou eenkant. Rooster die patats en uie intussen vir 25 minute.

4. Roer appels en enige orige oliemengsel by die groente in die oondbak. Rooster vir nog 20 minute of tot goudbruin en gaar.

5. Mayonnaise: Plaas intussen die eiergele, mosterd en asyn in ’n beker en meng vir 1-2 minute met ’n stokmenger. (’n Draadklitser kan ook gebruik word, maar maak seker dat die eiergele deeglik geklits is voor die olie bygevoeg word.)

6. Voeg olie bietjie-vir-bietjie by en klits deeglik saam tot dit dik en romerig is. Geur na smaak met suurlemoensap, sout en peper.

7. Plaas warm groente en appels in individuele bakkies met spinasie- en koljanderblare. Sit dit met ’n kwart tot halwe avokado per persoon voor, afhangend van hoe groot die avokado’s is. Skep lepelvol mayonnaise bo-op en geniet as ’n vegetariese ete of bygereg.

Wenk

1. Eierwitte vries baie suksesvol. Gebruik dit later vir meringues, pavlova of enige ander resep wat eierwitte benodig, soos ’n quiche, gebakte nagereg of selfs omelet. Onthou om op die houertjie aan te dui hoeveel eierwitte daarin is

Pin It on Pinterest

Share This