Varkfrikkadelle met suurlemoen en kruie op pastarys
Maak ’n slag dié klein frikkadelletjies op pastarys as ’n geurige manier om dit voor te sit. En terwyl jy frikkadelletjies maak, kan jy dié deel van die resep sommer verdubbel. Klein frikkadelletjies is ewe lekker warm of koud en perfek vir ’n kosblik of om vir ’n volgende ete te vries. Hierdie resep was deel van die artikel wat ek vir LiG Tydskrif se Julie-uitgawe gedeel het.
Meer as net bees
Beesmaalvleis is dalk die bekendste, maar skaap, vark, bok, wild, hoender en selfs volstruis word ook vir maalvleis gebruik. Elkeen van hierdie het ’n unieke smaak en tekstuur. Varkmaalvleis is bv. heerlik met speserye en soeter smake, soos appel. Deur elke keer die geurmiddels af te wissel, kan jy ’n ander geurprofiel aan ’n ete gee. Of kombineer twee soorte maalvleis – volstruismaalvleis is bv. baie maer en ideaal saam met beesmaalvleis. Of gebruik bees en vark om die helfte.
Maak ’n goeie keuse
Maalvleis se vetgrade verskil. Dit word bepaal deur die tipe vleis, die snit van die vleis en of die vet daarin natuurlik voorkom en of daar ekstra vet bygemaal word. Die vetinhoud speel ’n rol in die eindresultaat van ’n gereg en bepaal tot ’n groot mate maalvleis se prys. Hoe meer vet daar is, hoe goedkoper is dit per kilogram, wat dalk aanloklik lyk as jy dit net volgens prys oorweeg. Onthou dat heelwat van die gewig wel ‘verlore’ gaan, omdat die vet dikwels tydens die gaarmaakproses afgeskink of afgeskep word. Maer maalvleis het ook ’n losser tekstuur as dit gaar is, omdat die vet die vleis meer saambind.
Maak só met maalvleis
Maalvleis is veelsydig en vinnig om gaar te maak. Gaar en rou maalvleis vries uitstekend. Maak seker dat die rou vleis deeglik verpak is voor dit gevries word, om te keer dat dit uitdroog of vriesbrand opdoen. Ontdooi maalvleis oornag in die yskas en nooit in die mikrogolf nie – dit sal begin gaar word en die eindresultaat taai maak. Verbruin maalvleis in sarsies om te verhoed dat die pan te vinnig afkoel en die vleis laat vog uitstoot. Sodra dit gebeur sal die vleis net daarin ‘kook’ en nie verbruin nie. Maalvleis met meer vet in, kan sonder of met baie min ekstra olie oor matige hitte verbruin word, so gebruik liewer die natuurlike vet in die vleis vir die verbruining. Enige oortollige vet kan afgeskink word, voor die res van die bestanddele bygevoeg word.
Resep
Varkfrikkadelle met suurlemoen en kruie op pastarys
Resep aangepas uit Kos is op die tafel!
Lewer 4 – 6 porsies
Bestanddele
Frikkadelle
500 g maer varkmaalvleis (sien wenk)
1 groot knoffelhuisie, fyngedruk
20 ml (4 t) fyngerasperde vars gemmer
10 ml (2 t) elk fyngerasperde suurlemoen- en lemoenskil
10 ml (2 t) gemaalde koljander
15 ml (1 e) gemaalde komyn
60 ml (¼ k) gekapte vars koljanderblare
½ klein tot middelslag ui, fyngerasper
1 groot eier
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
avokado-olie om in te braai
Pasta
300 g pastarys (orzo) of penne
sap en skil van 1 suurlemoen
30 ml (2 e) avokado- of olyfolie
80 ml (⅓ k) suurroom of volroom ongegeurde jogurt
2-3 groot handevol babaspinasie
1 groot handvol Italiaanse pietersielie en koljanderblare
ekstra suurlemoenskil en avokado- of olyfolie om mee voor te sit (Westfalia suurlemoengegeurde avokado-olie sal lekker wees)
1. Frikkadelle: Plaas maalvleis in ’n groot mengbak en breek met ’n groot vurk uitmekaar. Voeg al die orige bestanddele, behalwe die olie, by en meng goed deur. Geur na smaak en rol in klein balletjies.
2. Verhit intussen helfte van die olie oor matige hitte in ’n groot braaipan. Verbruin helfte van die frikkadelle aan beide kante tot goudbruin, maar nog nie gaar nie. Herhaal die proses en plaas al die frikkadelle terug in die pan. (bv. ‘n AMC 28 cm Chef’s pan)
3. Prut frikkadelle met die deksel vir 5-8 minute of tot net gaar, maar steeds sappig.
4. Pasta: Kook intussen die pasta volgens die instruksie op die verpakking, tot net sag, maar nie pap nie (al dente). Dreineer deeglik en sit dadelik terug in die warm pot. (bv. ‘n AMC 24 cm Gourmet High)
5. Roer die sap en skil van die suurlemoen met die olie en suurroom of jogurt by.
6. Roer die spinasie en kruie by en geur met sout en peper. Skep pasta op ’n warm opdienbord met die warm frikkadelle bo-op. Sit met die ekstra suurlemoenskil en olie voor.
1. Vra jou slagter of by die supermark dat hulle varkvleis vir jou maal as dit nie vooraf verpak is nie. As jy sukkel om dit te kry, sal beesmaalvleis ook werk.