Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Goulash-sop

Jun 4, 2019 | Mains

Ons is almal lief vir warm koesterkos en dié geurige goulash-sop is altyd ’n wenner. Dis ’n maaltyd-in-een met vleis, groente en die aromatiese geure van tamatie, paprika en gemaalde komyn. Maak dit vir ’n heerlike gesinsete of nooi vriende vir ’n gesellige winterkuier. Dit gaan ’n nuwe gunsteling word – ek waarborg jou. Dié resep het ek onlangs in LiG-tydskrif se Junie uitgawe gedeel. Ek het die sop baie jare gelede vir AMC Cookware se resepteboek, The AMC Book ontwikkel. Dit bly beslis een van my gunstelinge en gaste is altyd beïndruk – veral dié wat soms dink dat sop nie regtig as ‘volwaardige ete’ tel nie. My gesin is dol daaroor en my kinders vra gereeld wanneer ek weer dié sop gaan maak. Na dit ’n dag in die yskas was en weer warm gemaak word, is dit selfs nog geuriger. Sit dit voor met ’n bietjie suurroom of ongegeurde jogurt om ekstra swier aan die sop te gee. Dis altyd ’n perfekte kombinasie met die paprika en ander geurmiddels.
Resep
Goulash-sop

Resep aangepas uit The AMC Cookbook
Lewer 8 – 10 porsies

Bestanddele

30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie

750 g–1 kg ontbeende stowe bees of -skaapvleis, in blokkies gesny en oortollige vet verwyder

2 groot uie, in kwarte en dan dun skyfies gesny

2 knoffelhuises, gekneus

1 rooi soetrissie, ontpit en in dun repies gesny

2 selderystingels met blare, in dun skyfies gesny

40 ml (8 t) paprika

10 ml (2 t) gemaalde komyn

2,5 ml (½ t) karwysaad (opsioneeel)

500 g botterskorsie of 2 middelslag-patats, geskil en in blokkies gesny

1 lourierblaar

1 x 400 g-blik gekapte tamaties

1 liter (4 k) hoender- of groenteaftreksel

500 ml (2 k) sterk Rooibostee

150 g dun groenboontjies, diagonaal in derdes gesny

suurlemoensap, sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

50 ml grofgekapte Italiaanse pietersielie

125 ml (½ k) suurroom, ongegeurde jogurt of karringmelk

nog Italiaanse pietersielie om mee voor te sit

Metode
  1. Verhit ’n bietjie van die olie oor ’n matige temperatuur in ’n groot kastrol (bv. ’n AMC 24 cm Gourmet High).
  2. Verbruin ’n kwart van die vleis. Skep uit en herhaal met die orige olie en vleis in sarsies tot alles verbruin is. Skep uit en hou eenkant.
  3. Soteer die uie, knoffel, soetrissie en seldery in dieselfde kastrol tot sag. Voeg speserye by en soteer vir 2-3 minute tot aromaties.
  4. Roer die botterskorsie of patats by en soteer vir ’n paar minute.
  5. Roer die vleis met die lourierblaar, tamaties, aftreksel en tee by. Bring die mengsel tot kookpunt, verlaag die hitte en prut stadig, met die deksel, vir 1½-2 ure of tot die groente en vleis sag is. Die sop moenie te vinnig prut nie, want dit kan die vleis laat taai word.
  6. Voeg die boontjies vir die laaste 15 minute van die kooktyd by. Geur na smaak met suurlemoensap, sout en peper en roer die gekapte pietersielie by.
  7. Sit met skeppies suurroom, jogurt of karringmelk en nog vars Italiaanse pietersielieblare voor.
Wenke
  1. Vegetariese weergawe: vervang die vleis met eiervrug, in blokkies gesny of nog botterskorsie en roer geblikte kekerertjies of witbone saam met die groenboontjies by. Die kooktyd sal dan net 30-40 minute wees, of tot die groente gaar is.
  2. Vervang die botterskorsie of patat met aartappel, maar onthou dat die sop nie dan gevries kan word nie. Blokkies aartappel word glaserig as dit gevries word.
error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This