Goulash-sop

Resep aangepas uit The AMC Cookbook
Lewer 8 – 10 porsies
30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie
750 g–1 kg ontbeende stowe bees of -skaapvleis, in blokkies gesny en oortollige vet verwyder
2 groot uie, in kwarte en dan dun skyfies gesny
2 knoffelhuises, gekneus
1 rooi soetrissie, ontpit en in dun repies gesny
2 selderystingels met blare, in dun skyfies gesny
40 ml (8 t) paprika
10 ml (2 t) gemaalde komyn
2,5 ml (½ t) karwysaad (opsioneeel)
500 g botterskorsie of 2 middelslag-patats, geskil en in blokkies gesny
1 lourierblaar
1 x 400 g-blik gekapte tamaties
1 liter (4 k) hoender- of groenteaftreksel
500 ml (2 k) sterk Rooibostee
150 g dun groenboontjies, diagonaal in derdes gesny
suurlemoensap, sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
50 ml grofgekapte Italiaanse pietersielie
125 ml (½ k) suurroom, ongegeurde jogurt of karringmelk
nog Italiaanse pietersielie om mee voor te sit
- Verhit ’n bietjie van die olie oor ’n matige temperatuur in ’n groot kastrol (bv. ’n AMC 24 cm Gourmet High).
- Verbruin ’n kwart van die vleis. Skep uit en herhaal met die orige olie en vleis in sarsies tot alles verbruin is. Skep uit en hou eenkant.
- Soteer die uie, knoffel, soetrissie en seldery in dieselfde kastrol tot sag. Voeg speserye by en soteer vir 2-3 minute tot aromaties.
- Roer die botterskorsie of patats by en soteer vir ’n paar minute.
- Roer die vleis met die lourierblaar, tamaties, aftreksel en tee by. Bring die mengsel tot kookpunt, verlaag die hitte en prut stadig, met die deksel, vir 1½-2 ure of tot die groente en vleis sag is. Die sop moenie te vinnig prut nie, want dit kan die vleis laat taai word.
- Voeg die boontjies vir die laaste 15 minute van die kooktyd by. Geur na smaak met suurlemoensap, sout en peper en roer die gekapte pietersielie by.
- Sit met skeppies suurroom, jogurt of karringmelk en nog vars Italiaanse pietersielieblare voor.
- Vegetariese weergawe: vervang die vleis met eiervrug, in blokkies gesny of nog botterskorsie en roer geblikte kekerertjies of witbone saam met die groenboontjies by. Die kooktyd sal dan net 30-40 minute wees, of tot die groente gaar is.
- Vervang die botterskorsie of patat met aartappel, maar onthou dat die sop nie dan gevries kan word nie. Blokkies aartappel word glaserig as dit gevries word.



Love your food
Wow Elizabeth, thanks for the special message! I hope you keep enjoying every recipe you try.