Goulash-sop

Goulash-sop

Ons is almal lief vir warm koesterkos en dié geurige sop is altyd ’n wenner. Dis ’n maaltyd-in-een met vleis, groente en die aromatiese geure van tamatie, paprika en gemaalde komyn. Maak dit vir ’n heerlike gesinsete of nooi vriende vir ’n gesellige winterkuier. Dit gaan ’n nuwe gunsteling word – ek waarborg jou.

Oosterse wortelslaai

Oosterse wortelslaai

’n Gewone wortelslaai sal nooit weer dieselfde wees as jy eers hierdie weergawe met Oosterse geure gemaak het nie. Die slaaisous is gesonder as die tradisionele mayonnaise-sous en tog so lekker. Dit kan vir ander slaaie ook gebruik word, veral ’n groen slaai met vrugte, soos appels en druiwe of groente soos groenboontjies en broccoli. Dit pas by die gemmer en sojasous-mengsel. Onthou dat sojasous baie sout bevat, so maak seker jy het ’n ligte southand.

Pangebraaide vis met drie groentes

Pangebraaide vis met drie groentes

Vis is ’n wonderlike vorm van proteïen – dis nie net gesond nie, maar ook maklik en vinnig om voor te berei. En tog is mense soms huiwerig om dit self gaar te maak. Geroosterde of gebraaide vis word dikwels in ’n degie voorberei, maar dan ook in diepvet gebraai. Hierdie resep gebruik dieselfde beginsel, om repies vis in ’n gegeurde meelmengsel te doop, maar dan word dit in net ’n dun lagie olie in ’n pan gebraai tot dit gaar, maar steeds sappig is. Die buitenste korsie is dus bros en geurig, maar daar is heelwat minder olie ter sprake. Om ’n vinnige gesinsete te kan voorsit, word die groente sommer in dieselfde pan gebraai.

Sjokoladekolwyntjies met appel

Sjokoladekolwyntjies met appel

Suid-Afrikaners is dol oor bak. En hierdie tyd van die jaar is dit beslis een of ander tyd deel van almal se feestydbeplanning. Sjokolade en kaneel is ’n smullekker kombinasie en in hierdie klam kolwyntjies is die subtiele smaak van die kaneel baie lekker – veral omdat dit ook met appel gekombineer word. Dit mag dalk na ’n vreemde kombinasie klink, maar om die suiker in die kolwyntjies minder te maak, is die natuurlike soet smaak van appels gebruik. En appel en kaneel vul mekaar se smake altyd baie goed aan.

Maklikste viskoekies

Maklikste viskoekies

Geurige viskoekies, aartappeltjies in die skil en ‘n groot slaai is in my opinie koningskos. Soos Julia Child tereg sê: ‘You don’t have to cook fancy or complicated masterpieces, just good food from fresh ingredients.’
Iets so basies soos ’n blikkie vis is genoeg om ‘n heerlike gesinsete op te tower. In die week is ons almal se programme vol en die dae soms lank, so as jy dan vinnig na werk iets vir aandete kan maak wat bekostigbaar, vinnig, gesond en boonop baie lekker is, gaan jy beslis die resep weer maak. My kinders is absoluut gek oor hierdie viskoekies en dis ewe lekker teen kamertemperatuur, so ek maak altyd ‘n dubbele mengsel om vir die volgende dag of drie iets vir hul kosblikke gereed te hê.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest