Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Geroosterde kekerertjies met speserye

Sep 28, 2018 | Kosblik 101 / Lunch boxes, Light meals, Light vegetarian, Sides & salads, Vegetable side

’n Eenvoudige speserymengsel met ’n skeut suurlemoensap en olie is perfek om kekerertjies in ’n opwindende element te omskep. Die kekerertjies word in dié mengsel gerooster tot dit bros is en dan is dit sommer ekstra veelsydig. Vegetariese etes gebruik gereeld kekerertjies, aangesien dit ’n goeie bron van proteïen en koolhidrate is. Dit het ook die vermoë om ander geure wonderlik te absorbeer en juis daarom is die resep so ideaal.

Om vegetaries te eet, is iets wat vir ons almal tot voordeel is, want verskillende bronne van proteïen voorsien ook ander voedingselemente. Dit is ’n goeie idee om ten minste een keer ’n week vegetaries te eet en nie net elke dag vleis as proteïen in te sluit nie. So is eiers bv. ook ryk aan omega olies, vitamiene en minerale. Maar as jy besluit om vegetaries te eet, beteken dit beslis nie net dat jy vleis uitlaat en die groente of slaai aan tafel eet nie. Proteïene bly ’n belangrike kossoort om te eet en ander bronne as vleis, vis of hoender, sluit bestanddele soos eiers, lensies, peule, bone, sade en neute in.

Speserye soos komyn, koljander, kaneel en paprika is altyd ’n heerlike kombinasie en ewe lekker met die neuterige smaak van kekerertjies. Rooster dit alles saam vir ’n nog geuriger idee. Die kekerertjies word vir dié ete met ’n gebakte eier, slaaibestanddele en jogurt, wat jy self geur, voorgesit. Met min moeite is ’n gebalanseerde en voedsame maaltyd voorberei en dis selfs ideaal vir ’n kosblik. ’n Gekookte eier gaan dalk makliker vir ’n kosblik werk, maar die voedingswaarde van die ete bly dieselfde.

Kies die slaaibestanddele waarvan jy en jou gesin hou, om saam met die eier en kekerertjies voor te sit. Gebruik dit wat in seisoen is en hou dit kleurvol. Met die warmer weer wat ons begin beleef, raak mens beslis meer lus vir ligte etes met slaaibestanddele. Hierdie ete-idee is ideaal, want dis steeds vullend, voedsaam en baie geurig. Maak sommer genoeg van die kekerertjies, want dis net so lekker om met enige ander groen slaai voor te sit of strooi dit oor geroosterde groente vir ekstra geur.

Resep
Geroosterde kekerertjies met speserye
Resep aangepas uit Cooking from the heart 2
Lewer 4 porsies
Bestanddele
Kekerertjies

5 ml (1 t) gemaalde komyn

5 ml (1 t) gemaalde koljander

5 ml (1 t) komynsaad

2,5 ml (½ t) gemaalde kaneel

5 ml (1 t) paprika

30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie

10 ml (2 t) fyngerasperde suurlemoenskil

1 x 410 g-blik kekerertjies, gedreineer

Jogurtsous

125 ml (½ k) ongegeurde jogurt

knippie gemaalde komyn

5 ml (1 t) fyngerasperde suurlemoenskil

30 ml (2 e) grofgekapte vars kruie, soos kruisement en koljanderblare

Om mee voor te sit

200 g kersietamaties, gehalveer

½ komkommer, in blokkies gesny

1 rooi soetrissie, ontpit en in klein blokkies gesny

4-6 groot of ekstra-groot Nulaid eiers

2 avokado’s, gehalveer en in dun skyfies gesny

suurlemoenwiggies

Metode

1. Kekerertjies: Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n bakplaat met bakpapier uit.

2. Druk die kekerertjies droog met kombuispapier – dit maak die roosterproses meer effektief.

3. Meng die speserye, olie en suurlemoenskil saam in ’n mengbak en roer die kekerertjies deur. Skep dit op die bakplaat en versprei eweredig.

4. Rooster vir 20-25 minute of tot bros en goudbruin. Haal uit die oond en laat afkoel.

5. Jogurtsous: Meng al die bestanddele saam. Hou dit eenkant.

6. Meng die tamaties, komkommer en soetrissie saam om as ’n salsa voor te sit.

7. Bak die eiers in ’n pan volgens elkeen se smaak.

8. Sit 1-2 eiers per persoon met die geroosterde kekerertjies, jogurtsous, salsa, avokado en suurlemoenwiggies voor.

Wenke
1. ’n Handvol ekstra vars kruie, soos kruisement- en koljanderblare of Italiaanse pietersielie is heerlik met die res van die bestanddele van die gereg.

2. Die geroosterde kekerertjies is heerlik oor enige slaai, sop of geroosterde groente. Bêre in ’n lugdigte houer vir 1-2 dae. Dit sal ’n bietjie sag word, maar rooster dit weer vir ’n paar minute vinnig in ’n warm oond of pan om dit bros te maak.

3. Onthou om nie die vloeistof waarin kekerertjies geblik word, weg te gooi as jy dit gedreineer het nie. Vries dit en gebruik as ‘aftreksel’ vir ’n volgende keer se sop of bredie.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This