Romerige Indiese hoender met platbrode (Butter chicken)

Resep
Romerige Indiese hoender met platbrode (Butter chicken)
Die aromatiese gereg se naam kom oorspronklik van die konsep dat ’n speserygegeurde sous met ’n tamatiebasis, met botter romeriger gemaak is. Die naam het vasgesteek, maar deesdae is ongegeurde jogurt die bestanddeel wat die fluweelsagte tekstuur aan die sous gee – dus aansienlik gesonder. Het jy al self butter chicken gemaak? Die resep is baie makliker as wat jy dink en in ‘n paar maklike stappe gereed. Onthou net dat die hoender die heel lekkerste smaak as dit wel kans gehad het om bietjie te marineer, maar daarna is dit in drie vinnige stappe gereed. Jy het beslis iets nodig om elke druppel van die sous mee ‘op te vee’, so naan- of platbrode is ideaal, maar jy kan die hoender enige tyd op rys voorsit. Ek sou bruin basmatirys voorstel, want dis so lekker geurig.
Die speserymengsel (Butter chicken spice) wat tipies gebruik word, is gewoonlik ’n kombinasie van gewone paprika, gemaalde kaneel, komyn, koljander, vinkel, borrie, rooipeper en kerrieblare. Kies een waarvan jou gesin sal jou, want verskillende handelsmerke kan nogal in sterkte verskil.
Lewer 4 – 6 porsies
Bestanddele
375 ml (1½ k) ongegeurde dubbelroom jogurt
1 knoffelhuisie, fyngedruk
30 ml (2 e) grofgerasperde vars gemmer
15 ml (1 e) van jou gunsteling butter chicken speserymengsel, of meer na smaak
sowat 900 g hoenderborsfilette, in ewe groot blokkies gesny
15 ml (1 e) olie
1-2 uie, fyngekap
6-8 vars of gedroogde kerrieblare of 2-3 vars suurlemoenblare (opsioneel)
300 ml tamatiepuree
250 ml (1 k) hoenderaftreksel of sterk Rooibostee
sout en peper na smaak
warm plat- of naanbrode en vars koljanderblare om mee voor te sit
Metode
- Meng die jogurt, knoffel, gemmer en speserye deeglik in ’n glas mengbak saam. Roer die hoenderblokkies by tot dit alles met die jogurtmengsel bedek is. Bedek die bak met kleefplastiek en laat die hoender vir 1-2 ure in die yskas marineer.
- Verhit die olie oor matige hitte in ’n groot braaipan of wok. Soteer die uie vir ’n paar minute en roer die kerrie- of suurlemoenblare by. Soteer tot die uie sag is.
- Roer die tamatiepuree en aftreksel of tee by en prut vir ’n paar minute tot deurwarm.
- Roer die hoenderblokkies met al die orige marinade by die sous en prut vir 10-15 minute of tot die hoender net gaar, maar nog sappig is. Geur na smaak, maar onthou dat die voorafbereide speserymengsel reeds baie sout kan wees, so proe eers voor jy nog byvoeg.
- Sit die romerige hoender met die plat- of naanbrode en koljanderblare voor.
Foto deur Adel Ferreira vir LiG Tydskrif, Winter 2025.
‘n Gunsteling.