Botterskorsiekoekies met saliebotter

Botterskorsiekoekies met saliebotter
Lewer 4 – 6 porsies
Wie’s nie dol oor ’n stapeltjie warm pampoenkoekies nie? Maar het jy dit al met botterskorsie gemaak? Probeer gerus ook dié aromatiese botter met vars salie – jy gaan ’n nuwe geur-wêreld ontdek. Die kombinasie van botter en salie is baie geurig en die olie verhoed dat die botter te maklik brand. Die kaneelstokkie waarmee die botterskorsie gekook word, gee dit ook ’n ekstra spesiale geur. As die idee van die saliebotter jou glad nie opgewonde maak nie, is jy welkom om dit met die tradisionele kaneelsuiker voor te sit. Maar probeer gerus die botter, jy sal nie spyt wees nie.
Bestanddele
Koekies
800 g botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
1 kaneelstokkie
2 ekstra-groot eiers, liggies geklits
250 ml (1 k) koekmeel
7,5 ml (½ e) bakpoeier
1,25 ml (¼ t) gemaalde wonderpeper (allspice) of neutmuskaat
5 ml (1 t) gemaalde kaneel
sout en peper na smaak
olyfolie om in te braai
Saliebotter
45 ml (3 e) botter (nie margarien nie!)
45 ml (3 e) olyfolie
20-25 heel vars salieblare, afgespoel en droog gedruk
Metode
- Koekies: Plaas die botterskorsie met die kaneelstokkie en ongeveer 250 ml water in ’n kastrol. Bring tot kookpunt en prut met die deksel vir 25 minute of tot net gaar. Dreineer dit deeglik en laat afkoel. Haal die kaneelstokkie uit.
- Plaas botterskorsie in ’n mengbak en druk met ’n vurk of aartappeldrukker fyner. Klits die eiers by tot dit goed ingemeng is.
- Sif die droë bestanddele oor die botterskorsie en geur na smaak. Meng dit versigtig met ’n klister of silikoon-spatula deur – moenie die mengsel te veel meng nie.
- Verhit ’n groot braaipan oor matige temperatuur en giet ’n dun lagie olie op die basis. Skep lepelsvol beslag (ongeveer 30 ml elk) in die pan. Braai vir ’n paar minute tot die onderkant goudbruin is en die bokant begin stol.
- Draai die koekies om en braai aan die anderkant tot goudbruin en gaar. Hou die koekies warm en herhaal met die orige beslag om ongeveer 24 koekies te bak. Giet nog ’n dun lagie olie in die pan soos nodig.
- Saliebotter: Berei dit net voor die botterskorsie-plaatkoekies voorgesit gaan word. Plaas die botter en olie in ’n klein pannetjie en verhit oor ’n medium tot lae temperatuur.
- Roer die salieblare by, sodra die botter gesmelt het en die olie begin warm word. Braai die blare tot amper bros, maar steeds groen van kleur. Wees versigting, want hoe langer die blare braai, hoe brosser word hulle en moeiliker om uit te skep. Die botter kan maar ’n bietjie begin verkleur – effens goudbruin tot amberkleurig is reg, maar dit moenie brand nie.
- Sit die warm botterskorsiekoekies met lepelsvol warm saliebotter en van die blare voor.
Wenk
- Die resep is ideaal vir oorskiet gaar botterskorsie of pampoen. Gebruik ongeveer 650 g gaar, fyngedrukte botterskorsie vir die resep.
Foto deur Adel Ferreira vir LiG Tydskrif, Herfs 2025.
Baie dankie vir al die heerlike resepte.
Wil asb vra vir n maklike mikrogolf resep om marmalade te kook.
En asb waar kan ek n knie masjien koop om beskuit en brood te knie?
Ek het baie artritus en kan nie meer self knie nie.
Baie dankie.
Hannetjie