Maklike mieliesop
Resep
Maklike mieliesop
’n Mieliesop is dikwels ’n dik en romerige wintersop, maar hierdie is ’n ligte, vars weergawe. Dis so geurig en kan as voorgereg of ligte maaltyd voorgesit word. Maak dit meer vullend met iets soos spek of skyfies chorizo as jy wil.
Lewer 6 – 8 porsies
20 ml (4 t) olyfolie
4 mielies aan die stronk
1 groot ui, fyn gekap
2 preie, in dun skyfies gesny
2 knoffelhuisies, fyngedruk
1 liter (4 k) hoender- of groenteaftreksel
1 lourierblaar
10 ml (2 t) suurlemoensap
15 ml (1 e) fyngerasperde suurlemoenskil
20 ml (4 t) vars tiemie of 10 ml (2 t) gedroogde tiemie
125 ml (½ k) melk
2 sprietuie, in dun diagonal skyfies gesny
sout, swartpeper en nog suurlemoenskil na smaak
lepelsvol ongegeurde jogurt om mee voor te sit
ekstra gekapte sprietuie om mee voor te sit
- Verhit olie oor matige hitte in ’n groot kastrol. Braai mielies vir ’n paar minute tot goudbruin, al is die mielies nog nie almal gaar nie.
- Haal die mielies uit en laat effens afkoel. Soteer intussen die ui, preie en knoffel tot dit liggies goudbruin en sag is.
- Sny die mieliepitte van die stronke af, maar moenie die stronke weggooi nie.
- Skink die aftreksel oor die uiemengsel en voeg die stronke, met tweederdes van die afgesnyde mieliepitte, lourierblaar, suurlemoensap en -skil en tiemie by die aftreksel.
- Bring oor matige hitte tot kookpunt en prut dan liggies met ’n deksel vir 20 minute. Skep die stroke uit en verwyder die lourierblaar.
- Verpulp die sop met ’n stokmenger of druk in die kastrol met ’n aartappeldrukker effens fyner vir ’n growwer tekstuur.
- Roer die orige pitte met die melk en sprietuie by. Bring oor lae hitte net tot kookpunt om die sop deurwarm te maak. Geur na smaak.
- Sit warm met lepelsvol jogurt, ekstra sprietuie en swartpeper voor.
- Voeg ’n tikkie rooipeper, gewone of gerookte paprika by die sop na dit verpulp is.
- Repies gaar spek of skyfies chorizo-worsies sal heerlik wees in die sop.
- Vervang die jogurt met feta of pecorinokaas.
Hierdie Maklike mieliesop was deel van ‘n kos-artikel in LiG Tydskrif, Herfs 2024.
Foto by Adel Ferreira Photography.
Oeee, dit klink baie lekker. Ek gaan beslis die sop maak. Iets nuuts na al die bekende sopresepte.
Ek hoop jy gaan dit baie geniet!
Lyk heerlik! Gebruik jy groenmielies of die geel suikermielies wat oral te sien is?
Margot, die geel mielies aan die stronk, ‘sweet corn’, gaan ‘n lekkerder geur gee en is van nature soet, maar ‘n minder soet opsie, soos groenmielies sal ook werk, solank dit ‘n geel mielie is, sodat die sop dan geurig genoeg is. Ek hoop dit antwoord jou vraag.
Lyk Lekker. gaan vandag maak.