Souserige sjokoladepoeding met neute en koffie

Resep
Souserige sjokoladepoeding met neute en koffie
Resep aangepas uit Onthoukos/Food from the heart
Lewer 6-8 porsies
O, hoe lekker is dit nie om deur dié poeding se bros deeg tot by die romerige sjokoladesous te skep nie! Die koffie is ’n lekker balans vir die soeter sjokoladesous. Onthou om goeie gehalte koffie en kakao vir die beste geur te gebruik. Dis ’n ou bekende, met ’n nuwe byvoeging en perfek vir ’n koue wintersdag.
Bestanddele
Sous
375 ml (1½ k) kookwater
125 ml (½ k) sterk swart filterkoffie (espresso)
180 ml sagte bruinsuiker
30 ml (2 e) kakao
5 ml (1 t) vanieljegeursel
Deeg
80 g (125 ml) makadamianeute of amandels
60 ml (¼ k) botter
100 g (125 ml) suiker
1 ekstra groot eier
5 ml (1 t) vanieljegeursel
250 ml (1 k) koekmeel
15 ml (1 e) bakpoeier
25 ml (5 t) kakao
150 ml melk
50 g donkersjokolade, grof gekap en ekstra vir garnering
Metode
- Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n 2,5 liter diep oondvaste bak of 6-8 groot ramekins of oondvaste poedingbakkies (met ongeveer 125-250 ml volume) liggies met botter.
- Sous: Plaas die bestanddele in ’n kastrolletjie. Verhit oor matige temperatuur, roer tot die suiker opgelos is en hou die sous warm.
- Plaas intussen die neute op ’n bakplaatjie en rooster vir 8-10 minute of net tot goudbruin. Kap neute grof en hou eenkant.
- Deeg: Klits die botter en suiker met ’n elektriese klitser saam tot romerig. Klits die eier en vanielje by tot glad.
- Sif die droë bestanddele in ’n ander bak saam en klits om die beurt met die melk by die bottermengsel om ’n loperige beslag te vorm. Roer die sjokolade en meeste van die neute by.
- Skink die warm sous in die oondbak of bakkies. Skep die beslag bo-op en bak die groot poeding vir 40-45 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. (Bak die individuele poedings vir net 20 minute of tot gaar.) Onthou dat die sous die toetspen sal ‘vuil’ maak, maar maak seker dat die deeg gaar is.
- Garneer met die ekstra sjokolade en orige neute. Sit dadelik met of sonder ’n skeppie roomys voor.
Hierdie Souserige sjokoladepoeding met neute en koffie was deel van ‘n kos-artikel in LiG Tydskrif, Winter 2022.
Foto by Adel Ferreira Photography.
Yummy…