Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 1,917 other subscribers.

Gaarmaakmetodes: Ep 3

Mar 17, 2023 | Eet.Kook.Leef.Beter.

Eet.Kook.Leef.Beter met die regte gaarmaakmetodes
Ek hoop jy het al kans gehad om na die derde episode van Eet.KookLeef.Beter. op my YouTube kanaal te kyk. Hier is ’n direkte skakel as jy dit nog nie gesien het nie. Dis deel van die videos waarin ek almal wil aanmoedig om lekker en gesond te eet – op die maklike manier. Teken sommer in op my YouTube kanaal (HeleenMeyerFood) terwyl jy daar is.

Dis regtig die moeite werd om ’n paar veranderinge te maak, om gesonder te leef. Dit hoef nie duur, moeilik of tydrowend te wees nie en is altyd die moeite werd. Met ’n paar goeie keuses, is jy reeds op die regte pad.

Klein veranderinge kan ’n groot verskil maak
Na ek self vir jare met ongemak na etes gesukkel het, het ek my manier van kook en eet aangepas. Dit het my soveel beter en meer energiek laat voel, dat ek enige een sal aanbeveel om soortgelyke veranderings te maak. En met hierdie stel videos wil ek jou wys hoe maklik dit is.

In die eerste twee episodes van EKLB gesels en oor my gesonde kosfilosofie en hoe om met geurmiddels kreatief te wees. Jy kan die blogs vir hierdie twee episodes ook op my webwerf lees. As jy op my webwerf ingeteken is, kry jy ook outomaties enige nuwe blogs en resepte wat gelaai word – so doen dit sommer nou.

Hoe kies jy ’n gaarmaakmetode?
Wonder jy soms of jy ’n bestanddeel in die oond moet rooster, panbraai, kook of selfs oor die kole gaarmaak? My beste raad is dat jy ’n gaarmaakmetode moet kies wat elke bestanddeel op sy lekkerste laat smaak. ’n Deel hiervan leer ’n mens met ervaring, maar heelwat bestanddele kan op verskillende maniere gaargemaak word en steeds heerlik smaak, so kies ’n resep van my webwerf om te begin eksperimenteer of wees net self kreatief in jou kombuis.

Dink byvoorbeeld aan botteskorsie of patat. Dit is lekker as dit in ’n bietjie water gekook is en selfs nog geuriger as jy ’n kaneelstokkie bysit. Maar hierdie twee bestanddele se natuurlike soet smaak is net soveel prominenter, as jy dit oondrooster. In dieselfde asem is boontjies op hul lekkerste as dit net liggies gestoom is, maar ek gaan dit nie in die oond rooster nie, want dié delikate groente sal maklik oorgaar word.

 

Geurmiddels
Geurmiddels
Geurmiddels

 

Gaar en gesond
Onthou, jy wil twee goed regkry: Eerstens wil jy dit natuurlik die kos gaarmaak, sodat dit lekker smaak, MAAR aan die ander kant dit so voedsaam as moontlik bly.

Kos wat perfek gaargemaak is, behou die tekstuur, geur en voedingswaarde wat beteken dat dit net soveel gesonder is en baie lekkerder smaak. Oorgaar kos moet dikwels met ’n sous of iets anders ‘gered’ moet word en dis veral waar die ongesonde goed kan insluip.

Gaarmaakmetodes wat met min moeite gesonder resultate oplewer is oondrooster, liggies kook (blansjeer), panbraai en stowe. En as jy ’n Suid-Afrikaner is, is kos oor die kole ’n algemene gaarmaakmetode – solank dit ook net nie brand nie! Terloops, dis ’n baie maklike manier om van oortollige vet in vleis of wors ontslae te raak.

Hier is ’n paar praktiese wenke:
Delikate groente soos broccoli of boontjies is ideaal om net liggies in water te kook of blansjeer tot dit net gaar is – ’n goeie riglyn is dat dit nog heldergroen en bros moet wees.
Harder groente soos aartappels, patats of botterskorsie, kan ook gekook word, maar is perfek om in die oond te rooster. En dis baie gesonder as om bv aartappels in diepvet te braai.
Het jy al blomkool in die oond gerooster? Wow, dis so lekker en is binne 10-15 min gaar.

As jy groente soos botterskorsie of broccoli kook, sê ek altyd: ‘niks hoef vir swemlesse in water te gaan nie’. Onnodig baie water laat net te veel van die voedingswaarde ‘uitlek’ en verlore gaan. Groente moet liewer in minder water gaar ‘stoom’ as in te veel water kook.

Eiers word teen ’n redelike lae temperatuur gaar, so moenie in die versoeking kom om dit oor hoë temperature gaar te maak nie. As dit oorgaar word, is dit droog en amper rubberig. Eiers het altyd ’n klein bietjie olie nodig wanneer dit in ’n pan gebraai word. Maar die veelsydige bestanddeel kan op feitlik enige manier gaargemaak word.

Sampioene het weer aansienlik minder olie nodig. In ’n swaarboompan, het jy amper geen olie nodig nie. Kyk gerus na die video om te sien hoe sampioene teen die regte (’n matige) temperatuur in ’n pan ‘skweek’ 😉.

Sampioene bevat heelwat vog, so dit word lekker vinnig gaar. Dis ook ideaal om in die oond te rooster en groot bruinsampioene het ’n heerlike tekstuur as dit gerooster is. Het jy dit al oor die kole gerooster? Probeer dit volgende keer.

O ja, en moenie sampioene was nie! Vee dit net met kombuispapier af. Hulle is soos klein sponsies wat al die water sal absorbeer en dit dan net weer uitstoot wanneer dit in ’n pan gebraai word. Die vog laat die sampioene dan meer kook as braai, wat nie dieselfde eindresultaat tot gevolg sal hê nie.

Baie mense hou nie van hoenderfilette nie, omdat hulle sê dis droog en smakeloos. Maar eintlik is die filette net oorgaar. Kyk bietjie gerus na die metode wat ek in my resep gebruik om seker te maak dat die filette sag en sappig is wanneer jy dit voorsit.

 

Geurmiddels
Geurmiddels
Geurmiddels

 

Waarmee jy kook
Die regte toerusting maak ’n groot verskil as jy goeie resultate wil hê. Ek kook al vir jare met AMC Cookware se reeks topgehalte vlekvryestaal produkte. Dis wonderlik om te weet dat ek die kookware kan vertrou om die kookproses elke keer maklik te maak en die hitte in die kastrolle te kan beheer.

As jy dalk binnekort nuwe kookware moet aanskaf, kies beslis panne of kastrolle met ’n dik bodem wat die hitte egalig versprei en goed sal behou. ’n Deksel wat stewig pas behou ook die hitte baie beter en verhoed dat vog vinnig verlore gaan. Op die manier hoef die kos nie te vinnig te kook om gaar te word, omdat die pan of kastrol heeltyd die hitte verloor nie.

Matige temperature is die beste
’n Matige hitte maak dit soveel makliker om die temperatuur in ’n kastrol te beheer. As die pan of kastrol eers te warm is, sukkel jy jou flou om dit weer kouer te kry. En niemand hou van aangebrande kos nie. Hoe warmer ’n pan is, hoe meer olie is mens ook geneig om in te gooi, juis om te keer dat dit vassit of brand.

Ongeag die bestanddeel wat jy gaarmaak: met ’n kombinasie van vars en natuurlike geurmiddels soos kruie, speserye en suurlemoen, en ’n goeie gaarmaakmetode, is jy verseker van ’n gesonder ete – op die maklike manier.
Loer gerus hier op my webwerf vir ‘n volgende lekker aandete-resep.
Lekker kook en eet!

 

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This