Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 1,889 other subscribers.

My kosfilosofie: Ep 1

Mar 3, 2023 | Eet.Kook.Leef.Beter.

Eet.Kook.Leef.Beter met my kosfilosofie
Ek is baie opgewonde om met my nuwe reeks videos, Eet.Kook.Leef.Beter, my passie vir maklike, lekker en gesonde kos met jou te deel. Wonder jy waar om met ’n gesonde leefstyl te begin?

In die eerste episode van Eet.Kook.Leef.Beter gesels ek oor die beginsels van my kosfilosofie om almal aan te moedig om lekker en gesond te eet. Ek is ’n baie praktiese mens, so dis die plan met my raad en wenke – om my kosfilosfie so maklik en prakties as moontlik vir jou te verduidelik.

Waar begin mens?
Om gesond te eet, beteken nie dat jy duur of vreemde bestanddele te koop nie. Gesonde kos is ook glad nie vaal of vervelig nie. In dié reeks videos, gaan ek met alledaagse bestanddele vir jou wys hoe om slim te werk te gaan met geurmiddels, gaarmaakmetodes en ’n paar beproefde resepte van my webwerf deel.
Ek stel geen dieet voor nie – terloops, ek verpes die woord ‘dieet’! Ek sou dit graag sommer uit die woordeboek wil haal, want soveel mense het ’n negatiewe ervaring met ’n dieet.
Gesond eet, fokus meer op dit wat jy doelbewus in jou etes insluit, as net dit wat jy nie mag eet nie. Só ’n leefstyl is meer volhoubaar as ’n kitsdieët wat maklik misluk of jou net moedeloos maak.
Kies dus ’n gesonde leefstyl wat lekker en volhoubaar is – dis net baie meer suksesvol.

Iets uit elke voedselgroep
Deur die loop van ’n dag se etes, moet daar iets uit al die voedselgroepe ingesluit word.
Proteïene: kies uit verskillende bronne, soos vleis, vis, hoender en ook plant-aardige vorms van proteïene voorsien elkeen meer as net die proteïene. Daarom is ’n verskeidenheid is ideaal.
Eiers is nog ’n belangrike en baie bekostigbare bron van proteïene. Terloops, het jy geweet dat eiers eintlik soos klein ‘gesondheids-bommetjies’ is, want dit bevat soveel voedingswaarde.
Vars vrugte en groente – kies veral dit wat in seisoen is, dis meer bekostigbaar en sommer lekkerder ook.
Onverfynde koolhidrate, soos bruinrys, hawermout, volkoringmeel en selfs groente soos patats is ’n beter keuse as bv witrys. Ek verkies veral steengemaalde meel, omdat dit soveel minder verwerk is en ook geen chemiese elemente bevat nie. Steengemaalde meel het ook baie meer voedingswaarde as hoogsverfynde mele.
Gesonde vette is ook ’n belangrike aspek om deel te maak van jul etes. Ek gesels meer hieroor in die vierde episode van Eet.Kook.Leef.Beter

 

 

My kosfilosofie
My kosfilosofie
My kosfilosofie

 

My kosfilosofie in vyf punte opgesom

1. Hou MATIGHEID voor oë en eet ’n variasie van kosse. Op die manier hoef jy jouself nie van ’n bederf te ontneem nie, want die res van jou etes in gesond. Porsie-groottes is ook altyd baie belangrik. Hou dit vullend, maar nie oordadig nie.

2. EET DIE REËNBOOG dan sluit jy outomaties iets uit elke voedselgroep in en dus, ’n wonderlike verskeidenheid vitamiene, minerale, antioksidante, genoeg vesel en gesonde vette. Hoe varser en natuurliker jy eet, hoe minder ‘ongesonde’ kos is op jou bord. En onthou dat jou bord beslis nie net uit stysel of ‘witkos’ soos baie mense daarna verwys, kan bestaan nie.
Hier onder is ’n lekker riglyn om te volg: verdeel jou bord in kwarte, soos op die diagram hier onder.
Twee kwarte moet uit vrugte en groente bestaan en ten minste een of twee van die soorte moet verkieslik rou wees. Berei dit op gesonde maniere voor sodat soveel as moontlik voedingswaarde behoue bly.
Nog ’n kwart: proteïene
Laaste kwart: onverfynde stysel
En dan ’n klein porsie gesonde vet, soos in avokado, neute, sade of olyfolie

 

Plate model

 

3. WEES INGESTEL OP JOU LYF. Let bietjie op watter kosse jou dalk ongemaklik laat voel? Sukkel jy met ekseem, of kry jy dalk ’n hoofpyn van iets wat jy eet? Eet liewer só, dat jy dit vir jou lyf so maklik as moontlik maak om gesond te bly, jou immuniteit sterk te hou en die nodigheid vir medikasie so ver as moontlik te beperk.

4. Vermy SUIKER, SOUT, perserveermiddels en hoogs-verwerkte of VERFYNDE PRODUKTE. Ons almal weet dat te veel van dié bestanddele ’n lang lys van leefstylsiektes tot gevolg kan hê, soos hartkwale, allergieë, tipe 2 diabetes en selfs iets soos sooibrand of ekseem. Dit begin en eindig beslis nie met die suiker in jou tee of die sout oor jou kos nie. Daar is soveel suiker wat in verwerkte produkte versteek word, dat mens soms baie meer suiker inneem as wat jy besef. Ter voorbeeld: kosse soos ontbytpap uit ’n boks is dikwels baie verfyn en vol suiker, sout of onnatuurlike bestanddele. Maak liewer jou eie muesli, eet hawermout vir ontbyt en wissel dit party oggende met eier af. Ander kosse wat tipies baie sout en suiker kan bevat, is natuurlik soetgoed en gebak. Maar het jy besef dat slaaisouse, marinade en voorafbereide souse soms ook baie hoog in suiker en sout kan wees?

5. Die laaste riglyn is genoeg GESONDE VETTE.
Vir jare het baie mense gedink bestanddele soos avokado, neute, sade en eiers is ongesond. Gelukkig weet ons nou dat die tipe vet, belangriker is as die hoeveelheid vet wat jy eet. Onthou om binnekort na die vierde episode van Eet.Kook.Leef.Beter te kyk om meer hieroor te leer.

Jy kan hier nog meer hieroor lees.

 

My kosfilosofie
My kosfilosofie
My kosfilosofie

 

BORGE wat my kosfilosofie ondersteun
AMC Cookware: ek het met AMC kookware groot geword en was bevoorreg om vir 10 jaar as kosspesialis by hul hoofkantoor te werk. Ek ken die topgehalte kookware baie goed en kook regtig graag daarmee. Die spesiale ontwerp van AMC kookware beteken dat elke kastrol en pan die vermoë het om hitte baie vinnig te gelei, maar ook die hitte te behou. Die voordeel daarvan is dat jy kos oor matige en lae temperature kan gaarmaak. Dit spaar nie net krag nie, maar verhoed ook dat kos aanbrand of te vinnig oorgaar word. Om AMC kookware te koop, was een van die beste beleggings wat ek al vir my kombuis gemaak het.

Gideon Milling: die kwaliteit van hierdie reeks steengemaalde mele beïndruk my elke keer. Die meel is altyd vars met ’n hoë voginhoud en daarom lewer dit altyd goeie resultate. Gideon se meel word net van koring uit SA gemaal en dit bevat geen chemiese preserveer- of bleikmiddels nie. Op die manier word heelwat meer van die natuurlike vesel en veral voedingswaarde behou. Ek is veral dol oor die ongesifte volkoringmeel se tekstuur en neuterige smaak en gebruik dit in baie gebak, selfs skons en pannekoek.

LemonGold®: in my kombuis is daar altyd suurlemoene, want ek gebruik die sap en skil op ’n daaglikse basis in kos. Jy sal my gereeld hoor sê dat suurlemoen die ‘nuwe sout’ in my kombuis is. Daar is soveel wat jy daarmee kan doen en ek geniet veral die pitlose LemonGold® suurlemoene. Dis so gerieflik om te gebruik, want jy sukkel nie met pitte wat ook nog in die kos beland nie. LemonGold® is ekstra sappig en die geur is besonder aromaties – dis amper asof dié suurlemoene ’n lekkerder geur het en nie net ‘suur’ is nie.

MushroomsSA: oor sampioene kan ek boekdele skryf. Sampioene is nie net veelsydig nie, maar regtig ook gesond. Dit is propvol voedingswaarde en van nature laag in sout. Gaar sampioene se geur word dikwels as ‘umami’ beskryf, wat amper as ’n natuurlike sout smaak beskryf kan word, so as jy dit in kos gebruik, is daar sommer dadelik ekstra geur. SAMFA – die SA Mushroom Farmers’ Association, doen baie moeite om seker te maak dat daar ’n wonderlike verskeidenheid van sampioene in ons winkels is. Loer gerus na die resepafdeling op my webwerf – ek gebruik dikwels sampioene op verskillende maniere.

Nulaid: soos ek reeds genoem het, is eiers ’n fantasiese element om in etes in te sluit. Dis bekostigbaar en natuurlik ’n goeie bron van proteïen. Dit is ook ryk aan gesonde vette, baie ander voedingswaarde en antioksidante. Maak dit gerus deel van jul etes op ’n verskeidenheid van maniere. Daar is heelwat resepte met eiers op my webwerf om van te kies.

Afrikaans.com: hierdie platform is natuurlik nie ’n koshandelsmerk nie, maar hul passie vir Afrikaans en om ons almal ’n verskeidenheid van goed in die mooi taal te leer, strek wyd. Die platform doen baie moeite om kinders aan te moedig om te lees en hul leerhulp is ’n wonderlike bron van inligting vir ouers om met kinders se skoolwerk te help. Afrikaans.com het selfs ’n afdeling op hul webwerf met die naam ‘Kook dit’. Hier is ’n hele paar van my resepte met videos om te wys hoe ek dit voorberei, so loer gerus daarna vir lekker inspirasie.

Onthou: goeie keuses begin in die winkel met jou inkopies, in jou kombuis as jy kos gaarmaak en aan tafel, as jy matige porsies skep en nie te veel sout bysit nie. ’n Klein verandering, kan ’n groot verskil maak.

Dis die beginsels waarmee ek ons etes beplan en hoe ek kos maak. Kyk saam na die reeks, Eet.Kook.Leef.Beter, volg my op sosiale media en teken hier op my webwerf in, as jy dit nog nie gedoen het nie. My webwerf is propvol resepte om my kosfilosofie, met alledaagse bestanddele en wenke, prakties te maak. So kan jy en jou lekker en gesond eet en beter leef!

Onthou: jy is wat jy eet – en jy voel soos dit wat jy eet …

 

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This