Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Vinaigrette

Dec 15, 2020 | Extras, Sauces

Vinaigrette
Tower ’n gewone slaai of bygereg met ‘n slaaisous om tot ’n feesmaal – dis ’n maklike en vinnige manier om interessante geure deel te maak van ’n ete.

’n Klassieke vinaigrette is ’n mengsel van twee derdes olie en een derde asyn of selfs suurlemoensap met geurmiddels, soos mosterd, kruie of speserye. En as jy hier en daar bestanddele afwissel of vervang, het jy weer ’n heeltemal ander eindresultaat. Verskillende asyne, soos rooi druiwe- of wynasyn gee ’n ander kleur en smaak. Of gebruik balsamiese asyn vir ’n meer prominente smaak. Appelasyn is heerlik delikaat en suurlemoensap en selfs van die skil fyn gerasper, is altyd ‘n wenner. Moet nooit spiritusasyn in slaaisous gebruik nie, die smaak is heeltemal te oorheersend.

Van eenvoudig tot wow!
Kyk met nuwe oë na ’n slaaisous – daar is wonderlike maniere om net ‘nog ’n slaai’, met ’n geurige slaaisous woema te gee. Soms is dit die eenvoudigste kombinasie van bestanddele wat die verskil kan maak. Tuisgemaak is ook soveel gesonder, want jy bepaal wat daarin is. So gerieflik soos ’n gekoopte slaaisous is, weet jy nie altyd hoeveel suiker, sout en preserveermiddels dit bevat nie. Dis veral ook waar van mayonnaise en ander souse en bykomstighede.

Geurig en gesond
Met ’n paar gesonde bestanddele, soos olyf- of avokado-olie, suurlemoensap, vars kruie en mosterd kan dié bykomstigheid selfs bydra tot die voedsaamheid van die ete. Met ’n vinnige variasie op die klassieke resep, kan jy ’n splinternuwe smaaksensasie skep, so kyk gerus na die variasie met speserye en die ekstra idees om elkeen van die twee resepte te gebruik.

Probeer gerus enige van hierdie resepte met die tuisgemaakte vinaigrette of gebruik die slaaisouse van elke resep as nog ‘n variasie: Oosterse wortelslaai, Citrus & cabbage salad with dill, Nektarien & blourkaasslaai of die Green salad with fruit.

Vinaigrette
Vinaigrette
Resepte
Vinaigrette met mosterd & kruie
Lewer ongeveer 250 ml
Bestanddele

125 ml (½ k) olyf- of avokado olie

60 ml (¼ k) appel-, of wit druiweasyn

20 ml (4 t) korrelmosterd

30 ml (2 e) heuning

30 ml (2 e) vars tiemieblaartjies of gekapte Italiaanse pietersielie

sout en peper na smaak

Metode

1. Klits die olie, asyn, mosterd en heuning saam tot deeglik gemeng. Roer die tiemie by en geur smaak.

2. Hou die slaaisous in ’n skoon glasflessie in die yskas.

Wenke

1. Vervang die kruie met enige ander kruie soos origanum of kruisementblare of ’n mengsel van kruie.

2. ’n Vrugtige of framboos-asyn is heerlik met groen groente en vrugte soos druiwe, bessies, aarbeie of perskes.

3. Onthou olie stol in die yskas en kan vreemd lyk. Haal dit so 10-15 minute voor die ete uit die yskas – dit word baie gou weer loperig.

Vinaigrette met komyn & kaneel
Lewer ongeveer 250 ml
Bestanddele
125 ml (½ k) olyf- of avokado olie

60 ml (¼ k) appel-, of wit druiweasyn

15 ml (1 e) fyngerasperde suurlemoenskil

30 ml (2 e) heuning

10 ml (2 t) gemaalde komyn

2,5 ml (½ t) gemaalde kaneel

45 ml (3 e) gekapte vars koljanderblare

20 ml (4 t) gekapte vars kruisementblare

sout en peper na smaak

Metode
1. Klits die olie, asyn, suurlemoen, heuning en speserye saam. Roer die vars kruie by en geur na smaak.
Wenk
1. Nog idees vir ’n vinnige olie-basis slaaisous: Klits gelyke hoeveelhede balsamiese asyn en olyfolie saam. Vervang die asyn of suurlemoensap in ’n slaaisous met vars lemoensap. Of meng net gelyke hoeveelhede lemoensap en olyfolie, dis heerlik op groen groente of enige iets met hoender.
In Oktober 2020 was hierdie deel van ’n artikel oor slaaisouse in LiG Tydskrif. Fotos: Adel Ferreira Photography
error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This