Oosterse wortelslaai

Wortels het van nature ’n soet smaak wat beteken dat jy baie daarmee kan doen, ongeag of dit rou of gaar is. En dit is inderdaad ‘n groente wat op soveel maniere gaargemaak kan word, van kook of blansjeer tot rooster en rou gebruik. Daar was ’n tyd toe gestolde wortelslaai baie in die mode was, maar dit het my nooit opgewonde gemaak nie. Gelukkig is daar heelwat ander planne wat mens met dié gesonde groente kan maak.
’n Gewone wortelslaai sal nooit weer dieselfde wees as jy eers hierdie weergawe met Oosterse geure gemaak het nie. Dié slaaisous is gesonder as die tradisionele mayonnaise-opsie vir wortel-en-koolslaai en régtig lekker saam met hoender, vark of vis. Die kombinasie van olie, sojasous, vars gemmer en ‘n drupsel heuning kan vir ander slaaie ook gebruik word, veral ’n groenslaai met vrugte, soos appels en druiwe of geblasjeerde groente soos groenboontjies en broccoli pas uitstekend by die geure. Onthou dat sojasous baie sout bevat, so maak seker jy het ’n ligte southand.
Resep
Oosterse wortelslaai
Bestanddele
500 ml (2 k) fyngesnyde witkool
2 groot wortels, met ’n aartappelskiller in linte gesny
1 appel, ongeskil en in dun skyfies gesny
’n handvol vars kruisementblare
’n handvol vars koljanderblare
’n handvol slaaispruite van jou keuse
30 ml (2 e) sesamsaad
Slaaisous
60 ml (¼ k) olyf- of avokado-olie
15 ml (1 e) sojasous
15 ml (1 e) rooiwynasyn
7,5 ml (½ e) heuning
15 ml (1 e) fyngerasperde vars gemmer
sout en peper
Metode
1. Slaai: Meng al die slaaibestanddele, buiten die spruite en sesamsaad, in ’n groot mengbak. Of pak in groepe op ‘n groot bord.
2. Slaaisous: Meng al die bestanddele en geur na smaak.
3. Strooi die spruite en sesamsaad oor die slaai en sit dadelik voor met die slaaisous.
Wenke
1. Roer repies gaar hoender by vir ’n ligte maaltyd.
2. Voeg ’n handvol rooi bosbessies by die slaai of vervang die spruite en sesamsaad met ’n handvol ongesoute kasjoeneute.
Trackbacks/Pingbacks