Nektarien-&-bloukaasslaai

Slaai het deesdae ’n heeltemal nuwe betekenis en hoef lankal nie meer net blaarslaai met komkommer, tamatie en wortelrepies te wees nie. Slaaie kan ’n ete op hul eie wees of die fokuspunt van ’n eenvoudige ete. Wissel soms die bestanddele af vir ’n vinnige nuwe idee. Eksperimenteer ook met iets wat jy dalk minder gereeld gebruik, soos geblansjeerde vars groenboontjies of aspersies of basiliekruidblare en kruisement in enige groenslaai. ’n Bed van interessante blare met net ‘n paar geurige bestanddele en ’n lekker slaaisous, kan ’n absolute wenner wees. ’n Slaai wat op ’n groot plat bord, in plaas van in ’n slaaibak voorgesit word, is vol kleur en tekstuur en op ’n nuwe manier aptytlik.
Vrugte is ’n wonderlike bestanddeel in ’n slaai en saam met ’n paar ander vars elemente is hierdie ’n delikate, maar besondere smaaksensasie.
Resep
Nektarien-&-bloukaasslaai
Resep uit Kos is op die tafel!
Lewer 4 – 6 porsies
Bestanddele
Slaaisous
50 ml olyf- of avokado-olie
30 ml (2 e) appel-, framboos-, of enige vrugte-asyn of selfs Verjuice
20 ml (4 t) heuning
10 ml (2 t) korrelmosterd
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
5 groot vars kruisementblare, in dun repies gesny
Slaai
150 g aspersies, deeglik gewas of groenboontjies
50 g pekanneute of gevlokte amandels, gerooster, of 50-75 ml sonneblomsaad, gerooster
120-150 g gemengde slaaiblare, klein spinasieblare of kruie bv. roket en bronkors
4-6 ryp maar ferm nektariens, in dun wiggies gesny
40-50 vars kruisementblare
50-70 g bloukaas, bokmelk- of fetakaas
Metode
1. Slaaisous: Klits al die bestanddele, behalwe die kruisement, saam en geur na smaak. Roer kruisement versigtig in en laat vir ’n paar minute staan.
2. Slaai: Plaas aspersies intussen in ’n vlak mengbak en bedek heeltemal met kookwater. Laat 5-7 minute staan en dreineer dadelik. Spoel af in koue water sodat aspersies nie verder gaar word nie en dreineer deeglik.
3. Pak slaai- en kruieblare met die res van die bestanddele op individuele borde of ’n groot slaaibord. Sny die kaas in skywe of krummel dit grof en sit die slaai met die slaaisous voor.
Wenke
1. Voeg repies gaar hoender by die slaai vir ’n ligte ete.
2. Vervang nektariens met geelperskes, druiwe of mango. Gaar beet, in wiggies gesny, is ook heerlik in die slaai. Vervang die neute of sade dan met vars granaatpitte.
3. Groen slaai met druiwe: Vervang neute, nektariens en kaas met 500 g rooi- of groen druiwe, gehalveer en ontpit; 8-10 klein komkommertjies, 4 sprietuie, 1 avokado en 1-2 selderystingels, in skyfies gesny. Krummel 2-3 skywe fetakaas oor en sit voor met die slaaisous.