Aromatiese hoenderpilaf

’n Pilaf is ’n rysgereg propvol geur. Rys word in aftreksel of ander geurige vloeistof met speserye of verskillende geurmiddels gaargemaak. Dis ’n baie eenvoudige metode, maar die eindresultaat is altyd spesiaal. Vars kruie, speserye of geurmiddels soos uie, knoffel, vars gemmer of selfs seldery of wortel word dikwels gebruik. Dit kan net ’n manier wees om rys as bygereg gaar te maak, of soos in hierdie resep, ’n heerlike eenskottelgereg word. Hoenderporsies is ’n gewilde vleis om saam met die rys gaar te maak, want die twee bestanddele neem min of meer ewe lank om gaar te word. Vir hierdie pilaf is die vloeistof ’n kombinasie van water, lemoensap en aftreksel wat alles uitstekend met die hoender en speserye kombineer.
Kruie en speserye
Amper enige soort rys kan gebruik word, maar basmatirys is reeds geurig en perfek vir ’n smullekker ete. Onthou dat wit basmatirys baie vinnige kook, so dan moet hoenderborsfilette eerder as porsies hoender liewer gebruik word. Heel speserye soos kaneel, kardemom, komynsaad, karwysaad, lourierblare, naeltjies of wonderpeperkorrels is heerlik saam met rys. Gemaalde speserye word ook graag gebruik en probeer gerus verskillende speserykombinasies.
En dan wanneer die rys gaar is, word ander bestanddele soos neute, droëvrugte, granaatpitte en vars kruie tipies bygeroer. Koljanderblare is altyd ’n goeie keuse of gebruik Italiaanse pietersielie of kruisement. Pilaf word ook soms met ongegeurde jogurt voorgesit. ’n Pilaf kan ’n vinnige gesinsete wees of selfs as spesiale ete vir gaste voorberei word. As jy regtig luuks wil wees, kan saffraan as geurmiddel ingespan word. Dis redelik duur, maar het ’n ongelooflike spesiale geur – gelukkig is min nodig om ’n hele pot vol rys te geur.
Hier is ‘n paar interessante feite en praktiese riglyne wanneer jy met hoender werk.
– dis ’n maer vleis, want meeste van die vet is in die vel
– maak hoender met die vel gaar om die vleis sappig te hou, maar moet verkieslik nie al die vel eet nie
– moenie hoender oorgaar maak nie – dit word maklik droog, selfs al is dit in ’n sous
– hoender wat aan die been gaargemaak is, het meer geur
– hoenderborsfilette bevat baie min vet – verbruin aan beide kante oor matige hitte in ’n pan en prut dan vir net nog 5-7 minute met die deksel, vir die perfekte eindresultaat
– hoendervleis moet deurgaar wees en glad nie pienk of bloederig lyk as dit deurgesny word nie
– toets hoender se gaarheid, deur ’n skerp mespunt in die dikste deel of dy te druk – die vloeistof wat uitloop moet helder wees
– moenie hoender wat ontdooi het, weer vries nie, maak dit liewer gaar en vries dan
– verdeel ’n heel hoender maklik in porsies met ’n skerp kombuisskêr – dit knip makliker deur die beengedeeltes as ’n mes, sonder om die vleis te veel te beskadig
Resep
Aromatiese hoenderpilaf
Resep vir LiG Tydskrif, Maart 2020
Lewer 6 porsies
’n Opwindende geurkombinasie van hoender met basmatirys, droëvrugte en neute. Dis ’n stylvolle gereg en ideaal vir ’n spesiale ete.
Bestanddele
30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie
4-6 hoenderdye
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
2 uie, gehalveer en in dun skyfies gesny
10 ml (2 t) gemaalde gemengde speserye
2,5 ml (½ t) karwysaad
7,5 ml (½ e) komynsaad
1 kaneelstokkie
500 ml (400 g) rou bruin basmatirys
750 ml (3 k) hoenderaftreksel
375 ml (1½ k) water
125 ml (½ k) vars lemoensap
80-100 g gedroogde rooibosbessies of rosyne
125 g sagte, gedroogde appelkose, in kwarte gesny
60 ml (¼ k) gevlokte amandels, gerooster
60-75 ml (4-5 e) grofgekapte koljanderblare
175 ml ongegeurde jogurt
ekstra koljanderblare vir garnering
granaatpitte vir garnering (opsioneel)
Metode
1. Verhit helfte van die olie oor matige hitte in ’n groot braaipan met ’n wye, oop basis. Braai hoender aan beide kante tot goudbruin. Geur na smaak, skep uit en hou eenkant.
2. Verhit orige olie en soteer die uie met al die speserye tot die uie goudbruin en die speserye aromaties is.
3. Roer die rys by die uie en braai vir ’n paar minute. Plaas die hoenderstukke in ’n enkellaag terug in die pan saam met die rys. Skink die aftreksel, water en lemoensap oor – die hoender en rys moet soveel as moontlik met vloeistof bedek wees.
4. Verlaag hitte, sit die deksel op. Prut rys vir 20-25 minute of tot rys en hoender gaar is.
5. Roer die droëvrugte, amandels en gekapte koljander by die rys in. Geur na smaak.
6. Skep op ’n groot opdienbord en sit warm met lepelsvol jogurt, ekstra koljanderblare en granaatpitte voor.