Ricotta-mieliekoekies met salsa

Resepte
Ricotta-mieliekoekies met salsa
Lewer 4 porsies, sowat 16 koekies
Drie basiese bestanddele met ’n paar geurmiddels word ’n heerlike mieliekoekie en dis boonop glutenvry. Die salsa se growwe tekstuur en effens byt is net wat jy daarmee saam nodig het.
Bestanddele
Mieliekoekies
2 groot eiers, geskei
250 ml (1 k) ricottakaas
250 ml (1 k) heel mieliepitte (sien wenk)
1 sprietui, fyngekap
2,5 ml (½ t) paprika of gemaalde neutmuskaat
sout, peper en suurlemoensap na smaak
olyf- of avokado-olie om te panbraai
Salsa
1 ryp tamatie, in blokkies gesny
1 sprietuit, in skyfies gesny
250 ml (1 k) heel mieliepitte
½ rooi brandrissie, ontpit en baie fyngekap
30 ml (2 e) gekapte koljanderblare
sap van 1 lemmetjie of ½ suurlemoen
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
Metode
1. Mieliekoekies: Klits die eierwitte in ’n skoon glasbak tot die stywepunte vorm.
2. Klits die eiergele in ’n aparte bak. Klits die ricotta, mieliepitte, sprietui en paprika by tot deeglik deurgemeng. Geur na smaak met sout, peper en suurlemoen.
3. Vou die eierwitte versigtig met ’n metaallepel by die ricottamengsel in, om soveel as moontlik van die lug in die eierwitte te behou.
4. Verhit ’n dun lagie olie oor matige hitte in ’n braaipan. Braai ’n paar mieliekoekies op ’n keer tot goudbruin aan beide kante en gaar.
5. Salsa: Meng al die bestanddele saam en geur na smaak met die sitrus, sout en peper.
6. Sit die warm mieliekoekies met lepelsvol salsa as ’n bygereg of peuselhappie voor.
Wenk
1. Bevrore mieliepitte kan vir beide die mieliekoekies en salsa gebruik word. Of kook mielies aan die stronk tot net gaar en sny genoeg vir die resep af. Een mielie-aan-die-stronk lewer ongeveer 250 ml (1 k) heel mieliepitte.
2. Gebruik ‘n ryp avokado in die salsa wanneer dit in seisoen is.