Vanielje-brosbrood

Die reuk van varsgebakte koekies is onweerstaanbaar, so sit jou voorskoot aan en trek die maatkoppies nader. Almal gaan bly wees oor ‘n baksel of twee tuisgemaakte koekies. Dis ideaal vir die vakansietyd of maak ‘n fles of blik vol as ‘n bederfgeskenk.
So maklik soos meng en bak
Elkeen het hul gunstelingkoekie en dalk is die keuse vir jou ook moeilik en is daar ‘n paar gunstelinge in jou boek. Hierdie vanielje-brosbroodresep is so maklik om te maak, so ek hoop dit gaan ‘n nuwe een op die voorkeurlysie word. Daar is baie maniere om brosbrood te maak, maar hierdie resep het ‘n vriendin jare gelede vir my uit haar Hollandse ouma se resepteleêr afgeskryf. Ek het dit sedertdien al bietjie aangepas en jy het net vyf bestanddele nodig. Die effens sagter tekstuur is heerlik, want brosbrood kan soms nogal regtig, soos die naam sê, ekstra krummelrig en selfs droog wees, so ek hou van hierdie weergawe. Dit is altyd ‘n sukses en jy kan kies of jy dit in blokkies, vingers of driehoekies wil sny. ‘n Knippie kaneel of ander koekiespeserye, soos gemengde speserye of selfs ‘n bietjie suurlemoenskil sal heerlik wees in die resep. Ek het selfs al gedroogde laventelblommetjies vir ‘n baie unieke geur gebruik.
Bedruip die afgekoelde koekies met gesmelte sjokolade as jy lus het of doop een deel van die koekies daarin. Smelt ongeveer 30 g donkersjokolade en skep dit in ‘n klein plastieksakkie. Knoop dit toe en knip ‘n baie klein gaatjie in die een hoekie. Gebruik dit as spuitsakkies om die koekies te versier of sit dit in ‘n klein bakkie om die koekies daarin te doop. Laat die sjokolade stol voor die koekies verpak word. Onthou om koekies altyd lugdig te verpak, veral as jy dalk gelukkig genoeg is om by die see te kuier. As die koekies nie goed verpak is nie, sal dit vinnig pap word. Hierdie was een van die koekieresepte wat ek vir LiG Tydskrif se Desember 2019 uitgawe gemaak het. Lekker bak.
Resep
Vanielje-brosbrood
Lewer ongeveer 30-40 koekies
Bestanddele
450 ml (250 g) meel
180 ml (150 g) strooisuiker
200 ml (200 g) botter
10 ml (2 t) vanieljegeursel
15 ml (1 e) ekstra strooisuiker
Metode
1. Voorverhit die oond tot 200 °C en voer ’n bakplaatjie van ongeveer 18 x 25 cm met bakpapier uit. Plaas al die bestanddele, behalwe die ekstra strooisuiker, in ’n voedselverwerker of klits met ’n elektriese klitser. Meng tot ’n sagte deeg vorm.
2. Keer die deeg op die bakpapier uit en versprei eweredig met jou vingerpunte tot teen die kant van die pannetjie. Plaas vir 20-30 minute in die yskas sodat die deeg deeglik verkoel is – dit lewer ’n brosser eindresultaat. Bak vir 20 minute of tot net goudbruin en bros.
3. Prik die warm brosbrood oral oor met ’n vurk sodra dit uit die oond kom. Strooi die strooisuiker dadelik eweredig oor. Sny die warm brosbrood met die punt van ’n skerp mes, in die pan, in vingertjies. Of sny dit in vierkante en dan in driehoekies.
4. Laat effens afkoel en lig dan versigtig uit die pan. Laat dit op ’n afkoelrakkie om heeltemal af te koel. Verpak lugdig.
Fotos: Adel Ferreira Photography