Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Klein doughnuts met spesery-sjokoladedoopsous

May 30, 2019 | Baking, Chocolate, Desserts, sweet treats & baking

Sjokolade en speserye saam? Ja, beslis en veral as jy van Meksikaanse kos hou. Diepgebraaide churros met sjokoladesous is ’n bekende nagereg. Die deeg is byna soos ’n choux-deeg en word met ’n spuitsak in diepolie gespuit en so gebraai. Hierdie is my vinnige weergawe met ’n soortgelyke idee – net heelwat minder moeite.

Die doughnutmengsel word met jogurt gemaak, wat ’n sagte tektsuur verseker. Die deeg word sommer met twee teelepels in die olie geskep en gebraai tot dit goudbruin en gaar is. Die sous kan jy vooraf maak en moenie skrik vir die bietjie speserye daarin nie, dis regtig lekker en sommer ’n slag iets anders. Begin met ’n baie klein knippie rooipeper as jy dit nog nie voorheen so geëet het nie, of los dit heeltemal uit en geniet die ander geure in die sous net so. Die nagereg is die heel beste vars gemaak, so sit alles reg en terwyl die ander gaste die tafel afdek, kan jy gou die doughnuts braai. Rol die warm doughnuts in die kaneelsuiker en sit dit dan so gou as moontlik met die warm sous voor. Moenie die wenk oor ’n knippie naeltjies in die kaneelsuiker miskyk nie – dis só lekker, jy sal dit beslis volgende keer ook op pannekoek wil eet.

Lees ook hier en hier meer oor Meksikaanse kos en die bestanddele wat tipies gebruik word. Die resepte uit die drie blogs kan as ’n wonderlike bederf-ete vir ’n spesiale geleentheid gemaak word, of kies die aspekte wat julle sommer met enige volgende ete sal geniet. Al die resepte kom uit my LiG Tydskrif kosartikel vir Mei 2019.

Resep

Klein doughnuts met spesery-sjokoladedoopsous

Lewer ongeveer 25 – 30 klein doughnuts

Bestanddele

Sjokolade-doopsous

15 ml (1 e) goeie kwaliteit kakao

250 ml (1 k) melk

250 ml (1 k) room

120 g goeie kwaliteit donkersjokolade, grof gekap

½ kaneelstokkie

’n klein stukkie steranys

’n klein knippie rooipeper (opsioneel)

Doughnuts

500 ml (2 k) koekmeel

10 ml (2 t) bakpoeier

60 ml (¼ k) strooisuiker

’n groot knippie sout

2 ekstra-groot eiers, liggies geklits

300 ml ongegeurde jogurt

60 ml (¼ k) botter, gesmelt

750 ml-1 liter (3-4 k) olie vir diepvetbraai

kaneelsuiker (sien wenke)

Metode

1. Sjokolade-doopsous: Meng die kakao met ’n bietjie melk om ’n gladde pasta te vorm. Plaas die kakaopasta, orige melk en room in ’n kastrol (AMC 20 cm Gourmet Low) en roer goed deur.
2. Voeg die res van die bestanddele by en verhit oor ’n lae tot matige hitte. Hou aan roer sodat die sjokolade kan smelt en met die melk meng.
3. Prut liggies tot die sous verdik – dit moet soos dik vla lyk. Hou eenkant warm.
4. Doughnuts: Sif die droë bestanddele in ’n mengbak saam.
5. Klits die eiers, jogurt en botter in ’n aparte houer saam. Roer dit versigtig by die droë bestanddele om ’n gladde beslag te vorm. Wees versigtig om dit nie te veel te meng nie.
6. Skink genoeg olie in ’n diep kastrol (AMC 20 cm Gourmet High), omtrent 6-8 cm diep. Verhit oor ’n matige hitte tot dit net klein borreltjies begin maak.
7. Skep teelepelsvol van die beslag in die warm olie en braai tot goudbruin. Draai doughnuts met twee lepels of ’n eierspaan om en braai ook aan die ander kant tot net goudbruin.
8. Verwyder met ’n gaatjieslepel en plaas op kombuispapier om te dreineer. Rol dadelik die warm doughnuts in kaneelsuiker. Herhaal met die orige beslag.
9. Sit die doughnuts dadelik saam met die warm sjokoladedoopsous voor.

Wenk

1. Meng 125 ml (½ k) strooisuiker en 2,5 ml (½ t) gemaalde kaneel vir ’n fyner tekstuur. ’n Knippie gemaalde naeltjies in die kaneelsuiker is heerlik met die sjokolade.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This